Willie Spies
Pretoria FM bestaan al meer as 32 jaar as gemeenskapsradiostasie.
My pad met die radiostasie het begin met ’n oproep van een van die direkteure, oudregter Johan Smit. Hy het aan my verduidelik dat hy as regsman altyd die prokureur skakel van ’n instansie met wie hy wil kontak maak. Hy wou kontak maak met Flip Buys en die Solidariteit Beweging en het my daarom gebel. Hy het genoem dat Radio Pretoria voor ’n bestuursuitdaging te staan gekom het en dat die direksie in gesprek wil tree met die Solidariteit Beweging om hulp te verleen met die proses om ’n nuwe bestuurshoof, stasiebestuurder en bemarkingsbestuurder aan te stel.
Die gesprekke het gebeur en ek het as prokureur (en soort buitestander) van die Solidariteit Beweging die opdrag gekry om vir drie maande as tussentydse uitvoerende hoof te kom uithelp, nadat die vorige besturende direkteur uitgetree het.
Die drie maande het nou 14 jaar en vier maande geword en daarom is ek oortuig dat ek my rol vervul het en dat die “tussentyd” nou ’n “voltooide tyd” geraak het.
In 2010 en 2011 was die radiostasie inderdaad by ’n kruispad. Die jare lange stryd om uitsaairegte was verby. ’n Permanente lisensie is vir die eerste keer ’n jaar tevore in 2010 aan die stasie uitgereik.
Die uitdaging was om die radio van ’n strydradio om te skakel na ’n volwaardige Afrikaner-media-instelling. Ons moes ’n standvastige professionele personeelkorps en bestuurspan bou. Ons het dit gedoen deur jaar na jaar talentvolle mense aan te stel. Verder het ons bekwame en ervare uitsaaiers wat oor die jare van die radio vervreem geraak het, weer betrek.
In 2011 het die radio nog sake gedoen in die Magmed-gebou. Die gebou was oud en van die ateljees se klank- en akoestiekdigting is gedoen met herwinde eierhouers.
Ons personeel het geringe salarisse verdien en geen mediese of pensioenvoordele gehad nie. Die amptelike luistertal van die radio het in daardie stadium gedaal tot laagtepunte en finansies was ’n krisis, ten spyte van ’n relatief lae salarisrekening.
In 2012 het ICASA ons opdrag gegee om ons herleistasies se uitsendings te staak. ’n Hofsaak het gevolg, wat ons verloor het, maar ICASA het tog ingestem dat ons kan voortgaan met uitsendings totdat die dispuut opgelos is.
In 2013 laat DStv ons vir die eerste keer toe op hulle oudioboeket, en kanaal 887 raak landswyd bekend. Met ’n landswye veldtog stel ons die stasie vir die eerste maal bekend as ’n landswye uitsaaier onder die slagspreuk “887 gee jou dorp lewe”.
In 2014 dien ons ons lisensieaansoeke vir herleistasies by ICASA in. Ons saai ook vir die eerste keer vanaf die Nasionale Uitslagsentrum uit, saam met nasionale uitsaaiers en betrek ons nuwe kantore in Val de Grace in die ooste van die stad.
In 2015 word al ons herleistasies se permanente uitsaailisensies vir die eerste keer goedgekeur, behalwe Radio Magaliesberg. Ons snoer al ons senders saam onder die naam Pretoria FM en ons amptelike luistertal volgens RAMS-syfers breek vir die eerste keer deur die 100 000-merk.
In 2019 loods Pretoria FM die eerste Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings, nadat politieke inmenging die Ghoema-toekennings laat doodloop. 8 000 mense woon die eerste Aitsas in die Moreletapark-kerkouditorium by, en vanjaar is die sesde Aitsas gehou. Verlede jaar was die Aitsas die TV-kanaal VIA se mees gekykte program. Die Aitsas is nou die toonaangewende Afrikaanse musiektoekenningsgeleentheid in die land.
Teen die einde van daardie jaar ontvang Radio Magaliesberg sy frekwensielisensie, enkele dae voor die afsterwe van Chris Bester, wat dit sy lewenstaak gemaak het.
Die covidjaar van 2020 was vir ons ’n jaar van groei en ontwikkeling op sosialemediaplatforms en dit was die jaar waarin ons ons YouTube-nuusuitsending begin het. Ons aandnuus word daagliks op YouTube uitgesaai en word daagliks gekyk deur tussen 10 000 en 20 000 kykers.
Dit was vir ons belangrik om uit die staanspoor Pretoria FM as ’n volwaardige, professionele radiostasie te bedryf wat sy inkomste primêr verdien uit sy kernbesigheid, naamlik lugtyd verkope.
In die 2011-boekjaar was die advertensie-inkomste van die radio R5,8 miljoen vir die volle jaar. Teen 2024, met ander woorde oor ’n tydperk van 13 jaar, het ons advertensie-inkomste gegroei met 281%. Inflasie oor dieselfde tydperk was 96%. Ons groei in inkomste het in 13 jaar dus die inflasiekoers drie maal oortref!
Die jaar 2025 was vir Pretoria FM een van sy uitdagendste jare. Ons inkomste uit advertensies sowel as donasies het ná die 2024-verkiesing tot Junie vanjaar afgeplat en was selfs minder as verlede jaar.
Daarteenoor het ons uitgawes konstant gegroei, sodat ons uitgawes in die finansiële jaar wat op 30 Junie 2025 geëindig het, die inkomstes met ’n wesenlike bedrag oorskry het.
Teen Meimaand vanjaar was dit duidelik dat ons bestuurspan drastiese stappe moes doen om die stasie se voortbestaan te verseker.
Die afswaai in die ekonomie wat sedert die covidpandemie gekom het, het ongelukkig nie na die 2024-verkiesing in ’n opswaai verander, soos almal gehoop het nie.
’n Omdraaiplan was nodig. Die beginsel was eenvoudig: inkomste moes groei en uitgawes moes minder raak.
Ons inkomste vir die viermaandetydperk vanaf Julie tot Oktober 2025 het gegroei met R1,6 miljoen. Ons uitgawes, daarenteen, het in dieselfde tyd met eenmiljoen rand verminder.
Die resultaat daarvan was dat ’n verlies in die eerste vier maande van die 2025 boekjaar van R500 000, omskep is in ’n wins van R2 miljoen in die eerste 4 maande van die boekjaar.
In Psalm 30:2 staan: “Net God verander trane in blydskap”. Ons het hierdie versie gereeld in die moeilike tyd, maar ook sedertdien vir mekaar herhaal. Die Here het inderdaad ons trane in blydskap omskep.
Ek het nou my taak volbring om ’n professionele radiostasie te help skep wat vir ons personeel, ’n volhoubare inkomste, mediese en pensioenvoordele kon bied.
As gelowiges wat glo in ons rol as rentmeesters, glo ons dat ons dit wat aan ons toevertrou is, in ’n beter toestand aan ’n volgende geslag moet oorhandig as wat ons dit ontvang het.
Ek glo dit is die geval met Pretoria FM.
Die feit dat die radio verlede jaar ’n stasiebestuurder in die persoon van James Kemp uit die geledere van ons eie personeelkorps kon aanstel, onderstreep die volwassenheid wat ons personeelkorps bereik het. Daarbenewens is James as stasiebestuurder vanaf Mei vanjaar deur ’n vuurdoop om die omdraai-strategie in werking te stel en te bestuur, en hy het dit met onderskeiding gedoen.
Ons leef voort onder die slagspreuk “Nou gaan ons aan”.
Dit was hierdie gees van Afrikaners om in die moeilikste omstandighede net aan te gaan en aan te hou, wat ons gebrei het om steeds ná 373 jaar hier aan die suidpunt van Afrika vas te byt en ’n faktor te bly waarvan selfs die G20-beraad vanjaar kennis neem.
Toe ons uitsaailisensies geweier is, gaan ons net aan, totdat ons slaag en dit terugkry.
As ons monde gesnoer word, gaan ons net aan, totdat ons weer ’n stem het.
As ons in ons geboorteland uitgesluit en op die kantlyn geskuif word, gaan ons net aan, en ons maak ’n groter sukses van wat ons het en self bou, as wat ons teenstanders kan vermag met al die middele tot hulle beskikking.
Mag ons nooit moeg word om aan te hou nie!
Willie Spies is ’n prokureur by Hurter Spies en was tot 18 November die voorsitter van Pretoria FM.