Jaco Kleynhans
Reg oor Europa is daar ’n reuseprobleem met immigrante en individue met ’n immigrante-agtergrond wat disproporsioneel by misdaad, veral ernstige geweldsmisdaad, betrokke is. Een land waar die situasie egter baie vinnig krisisafmetings begin aanneem en waar die regering en die media aktief meewerk om die probleem weg te steek of te onderspeel, is Duitsland.
Indien jy enigiets wil weet oor Duitsland se probleme met migrante-misdaad moet jy weet waar om alternatiewe media, dikwels in Duits, soms in Engels, te vind. Die hoofstroommedia in Duitsland, insluitende openbare uitsaaiers, wat nog in ’n veel sterker posisie as hoofstroommedia in baie ander lande verkeer, swyg eenvoudig oor die meeste misdaad wat deur immigrante gepleeg word, insluitende skokkende statistieke oor die omvang van immigrante-misdaad. Dit is egter op publikasies soos Remix News, The European Conservative, Pi News, Compact, NIUS, Tichys Einblick, Freilich, National-Zeitung en Junge Freiheit waar ’n mens daagliks die skrikwekkende stories oor die vlaag geweldsmisdade wat deur immigrante gepleeg word, raaklees.
Iets wat verlede week byna stil-stil verbygegaan het, was dit nie vir die alternatiewe media en die regse politieke party die Alternatief vir Duitsland (AfD) nie, is die bekendmaking van ’n opspraakwekkende verslag oor jeugmisdaad in die deelstaat Noordryn-Wesfale.
Die studie, wat deur die Universiteit van Keulen en die hoofkwartier van die polisie in die betrokke deelstaat onderneem is, is deur die Duitse minister van binnelandse sake, Herbert Reul van die Christen-Demokratiese Unie (CDU), bekend gemaak.
Die studie se belangrikste bevindings is dat daar ’n skerp toename in misdaad is wat deur minderjariges uitgevoer word. Dit sluit veral ’n toename in aanvalle op onderwysers, polisiebeamptes en noodpersoneel in. Die een deel van die verslag wat deur baie media weggelaat is, is die feit dat kinders met ’n migrasie-agtergrond disproporsioneel vir hierdie geweldsmisdade verantwoordelik is.
Hierdie studie volg op ’n soortgelyke studie in 2015 in dieselfde deelstaat. Die groot verskil in die resultate is nie net die skerp toename in jeugmisdaad oor ’n tydperk van tien jaar nie, maar ’n veel skerper toename in misdaad deur jong mense met ’n migrasie-agtergrond.
Die studieleiers van die universiteit, politici en kommentators in die hoofstroommedia het almal die skuld op omstandighede in stede, Covid-19 en sosiale media gepak. Hulle het egter nagelaat om die olifant in die vertrek in die kollig te plaas, naamlik die redes waarom jong mense uit veral lande soos Sirië en Afganistan, maar ook Noord-Afrika, meer tot aggressiewe en geweldsmisdaad geneig is.
Behalwe vir die skerp toename in geweldsmisdaad het die ondersoek ook ’n skerp afname in respek vir enige vorm van dissipline onder skoolgaande kinders uitgewys. In 2015 het 32,5% van leerlinge dit onaanvaarbaar gevind om nie hul huiswerk te doen nie, en vanjaar het dit tot slegs 15% gedaal. In 2015 het 80% van leerlinge gevoel dat dit verkeerd is om te dros en nie skool by te woon nie. Vanjaar het dit tot minder as 60% gedaal. Respek vir onderwysers, die polisie en ander persone in gesagsposisies het ook skerp afgeneem.
Nasionale misdaadstatistiek wat gereeld deur die AfD aangevra word, wys daarop dat jeugmisdaad deur jong mense met ’n migrasie-agtergrond reg oor Duitsland toeneem.
Die Federale Misdaadpolisie van Duitsland het vanjaar begin met ’n sogenaamde verdagtelassyfer wat vir verskillende bevolkingsgroepe saamgestel word. Dit bereken misdaadkoerse per 100 000 inwoners per bevolkingsgroep. Vir Duitsers van alle agtergronde was die syfer verlede jaar 1 878 – dus 1 878 misdade vir elke 100 000 mense. Mense van Siriese afkoms het 8 236 misdade vir elke 100 000 individue uit hierdie bevolkingsgroep gepleeg. Vir elke 100 000 mense met ’n Afgaanse agtergrond is daar 8 753 misdade gepleeg.
Die alternatiewe media in Duitsland het verlede week, binne die bestek van vyf dae, oor die volgende misdade berig:
In die stad Leipzig het ’n man wat van Algerië afkomstig was, uit ’n psigiatriese hospitaalsaal ontsnap. Hy was besig om agt jaar tronkstraf uit te dien ná ’n ernstige mesaanval in 2023.
In Berlyn is ’n 22-jarige Siriese man in hegtenis geneem nadat hy na bewering ’n djihadisties-gemotiveerde aanval in die stad beplan het. Video’s van die Islamitiese Staat is in sy woonstel gevind.
In Aschaffenburg in die weste van Duitsland het ’n regter woede ontketen toe sy beveel het dat ’n Afgaanse asielsoeker wat vroeër vanjaar ’n tweejarige seun en ’n 41-jarige man by ’n dagsorgsentrum met ’n mes doodgesteek het, nie krimineel vervolg moet word nie omdat hy ernstige sielkundige probleme het.
In Berlyn het die verhaal van die tienjarige Emilia verlede week bekend geword. Sy is verskeie kere op die skoolterrein van die Tempelherren-laerskool deur haar klasmaats aangeval en beseer. Al die aanvallers het ’n immigrante-agtergrond. Emilia is nou gediagnoseer met sielkundige probleme as gevolg van die voortdurende aanvalle, insluitend posttraumatiese stresversteuring.
Nadat die AfD vrae in die Duitse parlement gestel het, is daar onlangs bekend gemaak dat 63 977 vroue in 2024 alleen die slagoffers van seksuele geweld was. In 35% van die gevalle was die oortreders buitelandse burgers, terwyl buitelandse burgers 15% van mense wat in Duitsland woon, uitmaak. Daar is goeie rede om te vermoed dat Duitse burgers met ’n immigrante-agtergrond ook betrokke was in heelwat van die ander 65% van gevalle.
Inligting wat ná die vraag van die AfD bekend gemaak is, dui onder andere daarop dat 135 668 misdade tussen 2015 en 2024 deur Siriese verdagtes gepleeg is, wat neerkom op een misdaad elke 39 minute.
Altesaam is meer as 460 000 misdade wat tussen 2015 en 2024 in Duitsland gepleeg is, deur verdagtes uit tien lande gepleeg: Sirië, Afganistan, Irak, Iran, Marokko, Algerië, Nigerië, Pakistan, Somalië en Eritrea.
Duitsland het ’n groeiende misdaadprobleem, en immigrante en mense met ’n immigrante-agtergrond is daarvoor verantwoordelik. Daar sal eers erken moet word dat die probleem bestaan voordat dit opgelos kan word, en tans weier die Duitse regering en die hoofstroommedia om die probleem te erken.
Kleynhans is hoof van openbare skakeling by Solidariteit.