Nuuskommentaar: 4 Oktober
Deur: Alet Rademeyer
Die onlangse eenparige uitspraak van die Konstitusionele Hof oor die behoud van Afrikaans as onderrigtaal aan Unisa, is ’n groot oorwinning vir Afrikaans, Afrikaanse studente en taalregte in die land.
Regter Steven Majiedt het die uitspraak, wat in Afrikaans en Engels geskryf is, begin met ’n aanhaling van CJ Langenhoven wat lui: “Afrikaans is ons hoogste eer, ons grootste besitting, die een en enigste witmanstaal wat in Suid-Afrika geskep is.”
Hy het met hierdie verwysing nie probeer erkenning gee aan die bydrae wat wit mense tot die ontwikkeling en ontstaan van die taal gelewer het nie, maar eerder beklemtoon dat “die onegte weergawe van Afrikaans, die taal se ontwikkeling en heersende plek in die samelewing reggestel moet word”.
Hy meld dat die geskiedenis van Afrikaans veelvuldig in sy fasette is en dat die vestiging en bestaan van ’n taal nie bloot toegeskryf kan word aan een enkele rasgroep nie. “Alhoewel Afrikaans ontstaan het uit onderdrukking en ’n voortgesette instrument van onderdrukking was, is sy latere ontwikkeling tot heterogene, ‘reënboog’-taal wat vandag gebesig word deur meer swart mense as wit mense, ’n wonderlike paradoks van menslike ondernemendheid en kreatiwiteit. Die belangrike rol wat eenvoudige inheemse mense en slawe in die taal se geskiedenis en ontwikkeling gespeel het, is ontsettend belangrik.
“Die wanopvatting van Afrikaans as ‘witmense se taal’ en die ‘taal van die onderdrukker, is ’n skreiende wanvoorstelling van die taal en die oorsprong daarvan,” lui die uitspraak.
Die uitspraak het menige regdenkende mens met ’n warboel van emosies gelaat. Aan die eenkant is ’n mens verheug dat die hoogste hof in die land vir Afrikaans in die bres getree het en dat die taal inderdaad as een van die inheemse tale van die land erken word. Die hof het ook die reg tot toegang in Afrikaanse moedertaalonderrig aan openbare en private instellings vir studente van alle inkomstegroepe erken en die mite die nek ingeslaan dat die behoud van Afrikaans ’n onreg teenoor ander studente is.
Aan die anderkant kan ’n mens egter nie help om tog ook bitter, teleurgesteld en gebelgd te voel nie.
Die kreeftegang wat Afrikaans die afgelope twee dekades as moedertaal van miljoene wit, bruin en swart mense gegaan het, die miskenning daarvan as inheemse en akademiese taal, kan grootliks voor die deur van die ANC-regering gelê word. Sedert die ANC aan bewind gekom het, was daar geen erkenning vir die voorsiening wat daar in die Grondwet vir Afrikaans én ander inheemse tale gemaak is nie.
Die regering het hom vir ’n uitsluitlik Engelse bestel beywer en die behoud van Afrikaans in skole en universiteite met hand en tand beveg. Die haters van Afrikaans, al ontken dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie, dat hy in die groep val, het dit tot ’n groot mate reggekry om Afrikaans onberekenbare skade te berokken. Hulle het dit tot ’n mate reggekry om valslik aan die wêreld voor te hou dat Afrikaans en mense se aandrang op die taal niks anders is nie as ’n poging om nie-Afrikaanssprekers uit te sluit.
Hoe jammer dat soveel leuens en verdagmakery soveel skade berokken het. Die kanse dat skole en opleidingsinstansies wat vroeër Afrikaans as onderrigtaal afgeskaf het dit nou weer sal instel, is nul. Duisende Afrikaanse dosente het groener weivelde gaan soek of die land verlaat.
Dis ’n vae troos dat die Konstitusionele Hof daarin geslaag het om meertaligheid en die gelyke erkenning vir al die land se amptelike tale weer op die regering se agenda geplaas het.
Hopelik sal dié grondverskuiwende uitspraak nuwe bewustheid oor die wettige bestaansreg van Afrikaans en ander inheemse tale bring en nie iewers in die anale van die geskiedenis net verder stof vergader nie. Hopelik sal ons ook nou iewers uitkom by ’n samelewing waar taaloorheersing deur byvoorbeeld Engels en die afdwing daarvan deur die ANC nie langer geduld word nie.
Hierdie oorwinning vir Afrikaans as onderrig- en inheemse taal sou nie gebeur het as dit nie vir die deursettingsvermoë en visie van AfriForum was wat die hofstryd van byna vyf jaar enduit gevoer het nie.
In die woorde van Kallie Kriel, hoof van AfriForum, is die uitspraak ’n suksesvolle deurbraak in die veg-en-bou-strategie van die organisasie wat deel van die groter Solidariteit Beweging is. Daar is tot in die hoogste hof geveg vir Afrikaans, maar gedurende die ANC se afbreekproses is daar ook begin bou aan Akademia waar al hoe meer studente reeds ’n tuiste gevind het om Afrikaans te wees en in Afrikaans onderrig te kan word.
Stem vir die Aitsa’s