Herstelwerk by die ongevalle-eenheid van die Tembisa-hospitaal – wat die afgelope naweek in ‘n brand beskadig is – sal eers later onderneem word aangesien die polisie eers hul ondersoek na die oorsaak van die brand moet afhandel.
Meer as tagtig pasiënte moes inderhaas ontruim en na ander hospitale oorgeplaas word terwyl ander sale in dié hospitaal nie deur die brand geraak is nie.
Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.
Volgens die LUR vir gesondheid in Gauteng, Nomantu Nkomo-Ralehokohet die hospitaal in 2023 opknappingswerk ondergaan en het die brandwaarskuwingstelsels ten tyde van die voorval gewerk.
Intussen dring die DA aan op ‘n spoedige ondersoek, en optrede om die probleem wat tot die brand gelei het, onder die loep te neem. Die party se skadu LUR vir gesondheid in Gauteng, Jack Bloom sê daar is ‘n geskiedenis van uitgerekte ondersoeke, en dat daar nie vinnig en goed genoeg opgetree word teen diegene verantwoordelik nie.
Hy sê brandstigting is geïdentifiseer as ‘n oorsaak in die Charlotte Maxeke-brand van vyf jaar gelede, maar dat daar tot vandag toe nog niemand in hegtenis geneem nie.