Jaco Kleynhans
’n Palestynse vlag is twee weke gelede opgehys bo die nuwe Palestynse ambassade in Londen in die Verenigde Koninkryk – slegs enkele dae voor die tweejaarherdenking van die brutale Hamas-aanval op 7 Oktober 2023 op Israel. Dinsdag se herdenking in Israel het gepaard gegaan met pynlike herinneringe van onder andere babas wat lewendig in oonde gebak is, vroue wat verkrag en met stomp voorwerpe doodgeslaan is en mans wat agteraan voertuie gesleep is totdat hulle gesterf het. Uiteindelik is 1 200 onskuldige burgerlikes dood en is meer as 240 Israeli’s gyselaar geneem.
Dit is egter asof ’n groot deel van die wêreld vergeet het dat Hamas, wat die aanval uitgevoer het, die amptelike regering van die Palestyne in die Gasastrook op 7 Oktober 2023 was. Hamas is in 2006 deur die Palestyne in Gasa as hulle regering verkies. Hamas se magsposisie is die gevolg van die wil van die Palestynse burgerlikes van Gasa.
Dit kan en mag vergelyk word met Duitsland onder Nazi-beheer. Dit was immers Duitsers wat die Nazi’s in Maart 1933 met 44% van die stemme verkies het. Soos Hamas het die Nazi’s ook demokrasie beëindig, oorlog verklaar en was dit uiteindelik die burgers van beide gebiede wat die prys moes betaal. Nog ’n billike vergelyking sou Japan se aanval op die VSA in Desember 1941 wees. Die VSA was tog geregtig daarop om terug te slaan al moes honderde duisende Japannese burgerlikes die prys daarvoor betaal.
Wat het egter die afgelope twee jaar sedert Hamas se aanval op Israel gebeur? Israel het besluit om vuur met vuur te beantwoord. Die antwoord van 140 lande wêreldwyd was om ’n Palestynse staat te erken. Anti-Israel betogings regoor die wêreld het gevolg. En nou hang daar selfs ’n amptelike Palestynse vlag in Londen. Haat vir Israel is erger as ooit vantevore. Israel word van volksmoord beskuldig. Aanvalle op Jode wêreldwyd neem toe. Hoe het ons hier gekom?
Die internasionale hoofstroommedia het oor die afgelope twee jaar Israel konsekwent as die sondebok uitgebeeld, terwyl die ware aggressors – Hamas – met ʼn sluier van stilswye bedek is. Die verkragting en verminking van ma’s voor hulle kinders, kinders wat voor hulle ouers doodgemartel of doodgeskiet is en lyke wat met sadistiese plesier misbruik is, is nie Dinsdag in die hoofstroommedia herdenk nie. Nee, die media se fokus was op die lyding van die Palestyne.
Bittermin kommentators is bereid om Israel se historiese reg om terug te slaan te erken. Dink aan Japan se verrassingsaanval op Pearl Harbor op 7 Desember 1941 waarin 2 400 Amerikaners dood is. Die VSA se reaksie? Die atoomaanvalle op Hirosjima en Nagasaki in 1945. Tog hoor ons nie beskuldigings van volksmoord teen Harry Truman se administrasie nie. Dieselfde geld vir die Britse en Amerikaanse lugaanvalle van Duitse stede soos Dresden in 1945, waar 25 000 burgers – hoofsaaklik vroue en kinders – in een nag verbrand het. Tot vandag toe word die VSA en Brittanje nie van volksmoord beskuldig nie.
Die ironie is tog duidelik: Hoekom word Israel se presiese militêre operasie in Gasa, met vooraf waarskuwings aan burgerlikes en die ontruiming van dorpe en stede voordat aanvalle uitgevoer word, as ʼn volksmoord geklassifiseer, terwyl talle soortgelyke militêre operasies in die wêreld se geskiedenis geregverdig word?
Die media gaan ook voort om klakkeloos Hamas se sterftesyfers in Gasa die afgelope twee jaar te herhaal. Verskeie ontledings toon dat dit opgeblaas is deur natuurlike sterftes, dubbele tellings en die onwilligheid van die Hamas-owerheid om te erken dat minstens ’n derde van sterftes in Gasa die afgelope twee jaar Hamas-terroriste was. Israel se intelligensiediens skat dat meer as 20 000 Hamas-terroriste dood is, wat ʼn lae burgerlike-tot-militante ratio van ongeveer 1:1 impliseer – histories laag vir stedelike oorlogvoering.
In vergelyking met Irak of Sirië, waar burgerlike sterftes 10:1 of hoër was, toon Israel se optrede ʼn bewonderenswaardige presisie. Het die VSA ’n volksmoord in Bagdad uitgevoer toe duisende burgerlikes daar, tydens die oorlog wat van 2003 tot 2011 geduur het, dood is? Of het Rusland met sy lugaanvalle op Idlib in 2015 ’n volksmoord gepleeg?
Die duisende Palestynse sterftes in Gasa is tragies, maar toeskryfbaar aan Hamas se taktiek om vuurpyle vanaf skole en hospitale af te vuur, en om tonnels onder digbevolkte burgerlike gebiede te bou.
President Donald Trump se poging om vrede tussen die Palestyne en Israel te bewerkstellig moet verwelkom word. Geen vredespoging mag egter ruimte bied vir hernude Palestynse terreur uit Gasa nie. Die Palestyne het een keer Hamas verkies en die omvang van ekstremisme onder Palestyne is ’n werklikheid wat te maklik deur die media vermy word. Die Palestyne verdien vrede, maar net indien hulle self bereid is om Israel se reg op ’n vreedsame en veilige toekoms te erken.
Kleynhans is hoof van openbare skakeling by Solidariteit.