Jaco Kleynhans
Dit is nie slegs in Suid-Afrika waar gesinsboere ’n geweldige stryd om oorlewing voer nie. Dieselfde verskynsel kom voor in verskeie landbouproduserende lande – van Nederland en Duitsland in Europa tot Indië, Australië, die VSA en Brasilië. Die onlangse uitbraak van bek-en-klouseer in Suid-Afrika het opnuut die groot skeidslyn tussen ’n toenemend magtiger, goed georganiseerde mega-landboubedryf en duisende gewone gesinsboere blootgelê. Hierdie probleem bestaan egter al lank en is toenemend ’n globale werklikheid.
Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz – ’n bekende sakekamer wat groot maatskappye in die Suid-Afrikaanse landboubedryf verteenwoordig – het die afgelope tyd in ’n reeks fyn beplande artikels, sosialemediaplasings en verskynings in die Suid-Afrikaanse media saam met ander leiers van sommige landbou-organisasies, politici en kommentators die narratief geskep dat dit uitstekend in die Suid-Afrikaanse landboubedryf gaan, dat gesinsboere en die organisasies wat hulle verteenwoordig min het om oor te kla nie en dat klagtes oor plaasveiligheid, regeringsbeleid en die ministerie van landbou se sentralisering van die stryd teen bek-en-klouseer nie geldig is nie.
Verskeie openbare uitsprake deur die minister van landbou, John Steenhuisen, het onlangs soortgelyke standpunte weerspieël. Die vraag moet natuurlik gevra word: Hoe het dit gebeur dat John Steenhuisen, iemand sonder enige landbou-agtergrond, minister van hierdie belangrike portefeulje geword het? Die landbou-diepstaat het hierin ’n betekenisvolle rol gespeel.
Reeds vir jare bevorder sekere megaboere (nie almal nie), groot landboumaatskappye, politici en ’n aantal politieke kommentators in die media, ʼn beleidsomgewing wat kleiner gesinsboere uit die bedryf verdring. In die suiwelbedryf is ’n fraksie van die getal boere van twee dekades gelede oor, nadat meganismes soos melkkwotas, ophaalkoste per ophaalpunt en minimum liters wat per dag gelewer moet word, honderde kleiner melkboere uit die bedryf gedryf het. Baie boere moes bloot hulle koeie en plase aan groter boere verkoop. Dieselfde het in talle ander sektore in die landboubedryf plaasgevind.
Baie boere is oor die jare ook in ’n skuldstrik vasgevang, terwyl boere wat op groot skaal aankoop of hulle produk verkoop dikwels deur voorkeurskema’s bo kleiner gesinsboere bevoordeel is. Vir baie gesinsboere bly organisasies soos Saai, Sakeliga, AfriForum en TLU-SA hul enigste stem.
Aan die anderkant het – wat ek beskryf as die landbou-diepstaat – ’n magtige masjien geskep wat deur ’n deel van die land se megaboere en groot landboumaatskappye gefinansier word. Hierdie groep het ongekende toegang tot die hoofstroommedia, maar veral ook politici. Bydraes aan bekende politici se veldtogte en ’n reusesteunwerwingsveldtog in 2024 om president Ramaphosa te oortuig om John Steenhuisen as minister van landbou aan te stel het dit bewys. Gaan kyk gerus watter megaboere en landboumaatskappye het aan watter partye en individue bydraes gemaak. Wie onthou die groep Kaapse wynboere wat so ‘n paar jaar gelede Ramaphosa se lof in Stellenbosch besing het?
In die Verenigde State van Amerika (VSA) het die voormalige minister van landbou Earl Butz al in die 1970’s gesê: “Get big or get out”.
Regeringsbetalings aan boere, insluitend subsidies vir gewasseversekering en rampverligting, gaan oneweredig na groter plase met 44% van die federale regering se subsidies wat na middelgrootte boere gaan terwyl kleiner boere, wat steeds die grootste deel van die bedryf uitmaak slegs 21% van die subsidies ontvang.
Dit het oor die jare gelei tot konsolidasie, met klein plase wat afneem en mega-plase wat toeneem. Kleiner boere word in bankrotskap in gedwing sodat groot boere en landboumaatskappye hulle plase kan oorneem. Daardie einste groot boere en landboumaatskappye finansier die veldtogte van politici wat die beleid bepaal wat boerdery onhoudbaar vir gesinsboere maak.
Tussen September 2020 en November 2021 het duisende kleiner gesinsboere in Indië teen landbouhervormings betoog. Die hervormings sou vir die meeste gesinsboere vernietigend gewees het. In Nederland en Duitsland is die aanslag op kleiner gesinsboere lankal bekend en sien ons gereeld protesoptrede.
In Brasilië was daar die afgelope paar jaar ’n skerp toename in sogenaamde korporatiewe boerderye met groot beleggingsmaatskappye wat massiewe hoeveelhede landbougrond aankoop en dan bloot mense aanstel om die boerderye te bedryf. In die VSA en Suid-Afrika neem hierdie tendens ook toe.
Dit lei tot minder boerderygesinne, wat ook grondeienaars is, op die platteland en ’n verval van plattelandse infrastruktuur soos kerke, skole en ander instellings in dorpe. In die meeste lande in die wêreld is gesinsboere ’n belangrike onderdeel van die plattelandse kultuur, tradisies en dikwels ’n bron van die behoud van kultuurgoedere en ’n konserwatiewe landelike lewensbeskouing. Dit alles word deur die stelselmatige verdringing van gesinsboere bedreig.
In Australië speel ʼn soortgelyke breuk tussen kleiner gesinsboere en megaboere af, alhoewel gesinsplase nog steeds die dominante vorm van landbou-eienaarskap uitmaak terwyl korporatiewe boerdery toenemend voorkom. Daar is in Australië ʼn kulturele verskuiwing in die landboubedryf na agri-industriële modelle, wat kleiner gesinsplase minder mededingend maak en boere dwing om hulle grond, wat oor geslagte heen in dieselfde families was, aan hierdie groterwordende landboumaatskappye te verkoop.
Die Suid-Afrikaanse minister van landbou het die afgelope paar weke sy ware kleure gewys met sy openbare aanval op sosiale media teen gesinsboere en die organisasies wat hulle verteenwoordig. Hoe meer gesinsboere wat met vee boer weens bek-en-klouseer bankrot speel, hoe meer grond is daar, teen ’n afslagprys, aan groot industriële-skaal voerkrale en ander landbou-maatskappye beskikbaar om op te koop.
Die stryd om die behoud van die gesinsboer is wêreldwyd besig om ’n kritieke punt te bereik. Daar moet oraloor beter georganiseer word, politieke agendas moet ontbloot word en deur slim strategieë, litigasie en samewerking tussen gesinsboere moet die aanslag van die landbou-diepstaat afgeweer word. Dit is nou of nooit.
Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit.