Nuuskommentaar: 20 Junie 2024
Deur: Herman Toerien
Die nuus dat Media 24 waarskynlik volledig van die gedrukte media na digitaal gaan omskakel, en dat bekende name soos Beeld en Volksblad gaan verdwyn, is waarskynlik die onvermydelike gevolg van veranderende omstandighede. Die aankondiging laat egter veel meer trauma as net die moontlike 400 werksverliese.
Die lang pad van geskrewe kommunikasie om inligting aan ‘n groot gehoor oor te dra het reeds duisende jare gelede begin – trouens lank voor skrif soos ons dit vandag verstaan, nog bestaan het. Rotstekeninge wat boodskappe oordra is na raming meer as 20 000 jaar oud, terwyl rotstekeninge wat skynbaar nie ‘n boodskap bevat nie, tot ‘n kwart miljoen jaar teruggevoer kan word.
Dit word vandag aanvaar dat die San-rotskuns veel meer as net prentjies is, maar ‘n verskeidenheid tipes inligting aan die gehoor oordra. Dit sluit ingewikkelde boodskappe in wat in die mense se geestelike lewe delf. Soms was die boodskappe blykbaar baie gevorderd, soos waarheen migrerende gemeenskappe weens veranderend klimaatstoestande nie moet verhuis nie.
Die een baken of mylpaal na die ander het gevolg. Simbole het later na spesifieke begrippe gelei, en later na spesifieke klanke. Dit is op kleitablette, papirus, perkament en teen mure aangebring. Die Majas van Sentraal-Amerika het nie net ‘n volledige skrifstelsel ontwikkel nie, maar een wat benewens uit simbole en karakters bestaan het. Ook kleur is aangebring om betekenisse te onderskei. Die Inkas was weer vir hul gevlegte toutjies aan ‘n dwarshout bekend, terwyl die Asteke, wat nooit ‘n volledige skrifstelsel ontwikkel het nie, nogtans ‘n reuse argief van voorrade kon opbou.
Nie alle skrifstelsel wat gebruik is, kon nog ontsyfer word nie. Ook ander metodes, soos rookseine en tromme is gebruik.
Die drukpers was ‘n uiters belangrike ontwikkeling, wat ook tot die verspreiding van die Bybel bygedra het. Dit het ook daartoe gelei dat koerante begin verskyn het.
Van die oudste koerante was:
In Europa, 1605 Relation aller Fürnemmen und gedenckwürdigen Historien wat in Duits uitgegee is.
In die VSA, 1704 Boston News-Letter
In Afrika is die eerste koerant nie in Suid-Afrika uitgegee nie. Die eerste was Franstalig van Mauritius, wat in 1773 ontstaan het. Die eerste in Suid-Afrika het in 1800 verskyn, die Cape Town Gazette and African Advertiser.
Die eerste Nederlandse publikasie hier te lande was die Nederduitsche Zuid-Afrikaanse Tydschrift wat in 1824 in Kaapstad verskyn het.
Die oudste Afrikaanse koerant, die Patriot, is in 1876 in die Paarl uitgegee.
Die oudste koerant van Media 24 is Die Burger wat in 1915 verskyn het. Dit is gevolg deur Volksblad, wat op 18 November 1904 in Potchefstroom as Het Westen begin het, maar was eers sedert 26 Maart 1915 as Het Volksblad bekend. In 2017 is die naam na Die Volksblad verander.
Beeld verskyn sedert 1974 en is dus vanjaar 50 jaar oud. Beeld, Volksblad en Die Burger is destyds deur die Nasionale Pers uitgegee. Byvoorbeeld, daar was verskeie Perskor-koerante in die Transvaal, waaronder Die Transvaler, Die Oggendblad, Die Vaderland en Hoofstad.
In 1970 het die Sondagkoerante, Die Beeld (Nasionale Pers) en Dagbreek (Perskor) as Rapport saamgesmelt.
Na Beeld gevestig is het Perskor se koerante die een na die ander gesluit, en Nasionale Pers het alleenbeheer oor Rapport verkry.
Nasionale Pers en die Nasionale Party was ten nouste polities gekoppel, hoewel Beeld vanuit die staanspoor formeel onverbonde was. Die ander Naspers-publikasies, staan nou as onderafdeling van die Nasionale Pers, of Media 24 bekend. Ironies het Naspers, vanjaar geld aan beide die ANC en die DA geskenk vir sy verkiesingsveldtogte .
Die tegnologie buite die drukkersbedryf het egter ‘n al groter rol begin speel. Koerante is tradisioneel vir die grootste deel van hul advertensies afhanklik, maar eers die radiowese, en daarna die TV, het op dié veld begin meeding. Met die koms van die digitale media, het dit aanvanklik geblyk dat die adverteerders traag was om van die gedrukte koerante na aanlyn-koerante te skuif. Hoewel die probleem skynbaar grootliks oorkom is, maak koerante internasionaal van allerlei tegnieke gebruik om hul advertensies uit te brei.
Daar is vrae oor wat van ‘n ooreenkoms tussen die hoofstroom gedrukte media en die regering geword het om die koerante toe te laat om in betaal-TV te belê juis om deur kruissubsidies vir die verlies aan advertensies in die gedrukte media te kompenseer.
Lesers voel soms of hulle die horries kan kry as hulle nie in digitale berigte kans kry om behoorlik te lees nie, voor die volgende advertensie opspring en die leesstof gedeeltelik of sommer geheel bedek.
Dit raak ook al hoe moeiliker om nuus in buitelandse koerante te lees, omdat die een tipe betaalmuur na die ander opgerig word. Met die rand se wisselkoers moet ‘n mens regtig baie geld hê en baie lus vir nuus wees om ‘n paar publikasies se betaalopsies te neem.
Terwyl daar verskeie mylpale in die geskiedenis was om die geskrewe woord aan die gemeenskappe te bring, kan die totstandkoming van die gedrukte koerante nie net as mylpaal nie, maar as ‘n monument uitgelig word. Dit is egter nou al ‘n ruk duidelik dat verskeie faktore saamspeel om die eindfluitjie vir dié mediavorm te blaas. Dit het egter nog nie ten volle begin gebeur nie – Die Burger se Wes-Kaapse gedrukte koerant is steeds winsgewend en sal minstens voorlopig aanbly.
Diegene wat nog ‘n gedrukte koerant soggens saam met sy koppie koffie verkies het, se getalle het nou ook blykbaar so afgeneem dat dit in ‘n groot mate nie meer die koerant op die stoep of op die straathoek kon red nie. Daarmee het ‘n era verbygegaan, toe die koerantverkopers en -afleweraars ‘n soms broodnoodsaaklike inkomste vir hul gesinne kon verdien. ‘n Voormalige rektor het sy koerantverkope genoem as die rede waarom hy sy bronne genoeg kon las om te kon gaan studeer.
‘n Mens moes egter self by ‘n koerant gewerk het om die verlies te kan begryp wat soveel oud-joernaliste nou voel. Daar het ‘n enorme kultuur bestaan waardeur die proes van nuusinsameling tot die gedrukte koerant gevorder het. Binne hierdie proses het uitdrukkings soos “scoops” en spertye hul eie romantiek opgelewer. Die gevoel om ‘n mens se eie handewerk in die finale produk te kan sien is onbeskryflik.
Verskeie Afrikaanse terme het ontwikkel, soos om te sê iemand het ink in sy are, en dat ‘n mens nie swaarde kruis met hulle wat hul ink per balie aanskaf nie. Talle kere is ervaar hoe die pen magtiger as die swaard was. Daardie gevoel wat die koerantman ervaar as die rolpers eers stadig ‘n paar koerante uitspoeg sodat daar ‘n verstelling of wat gemaak kan word, tot die gedoente behoorlik lostrek en koerante met ‘n gedreun begin uitspoeg. Dit kan seker net vergelyk word met ‘n boer se gevoel as die stroper met ‘n amper-gebrul die graan in die massawaentjie begin uitstort.
Die internet, en die koppeling van digitale koerante aan soekenjins, maak die wêreld vir navorsers en joernaliste wat agtergrond soek ’n paradys. Daar kan sommer tuis, sonder om ‘n voet te versit, inligting oor amper enigiets gesoek en gekry word. Dit is ‘n heel ander wêreld as toe werkstukke en take ure se navorsing van koerantuitknipsels en selfs mikro-fisch behels het.
Die koerante het in Suid-Afrika dieselfde rol gespeel om Afrikaans te standaardiseer en bestendig as wat die Duitse en Nederlandse Bybelvertalings in daardie tale gespeel het. Die indrukwekkende korporatiewe geheue wat binne die groot koerante aanwesig was, was iets ysliks, iets wat ongelukkig skynbaar in die slag begin bly het onder andere weens die geneigdheid om berigte uit Engels te vertaal.
So hoor ‘n mens nou gereeld van parlementslede wat hul sitplekke, in plaas van setels opneem, van seksies van wette in plaas van artikels, van allerlei dinge en gebeurtenisse wat verban word in plaas van verbied of ingeperk, en vele ander taalgoggas. Israel is aanhoudend gelooi oor dit internasionale wette sou oortree, in plaas van die internasionale reg. Dan besef ‘n mens net weer hoe belangrik die koerante se korporatiewe geheue was om te keer dat Afrikaans by sy nate lostorring.