Nuuskommentaar: 18 Junie 2024
Deur: Jaco Kleynhans
Wêreldleiers was die afgelope paar dae behoorlik besig met eers die G7-beraad in Italië en daarna ʼn vredesberaad oor die oorlog in Oekraïne wat in Switserland plaasgevind het. Na die onlangse Europese verkiesings en in aanloop tot die Amerikaanse verkiesing later vanjaar, is die verdelingslyne tussen Westerse leiers al hoe meer sigbaar. ʼn Gedeelde vyand, China, hou vir nou egter die groep bymekaar.
Verlede week se G7-beraad was om verskeie redes van groot belang. Die Italiaanse premier, Georgia Meloni, het die beraad gebruik om op die rug van haar party se oorwinning in die Europese verkiesing, haar posisie as een van die belangrikste leiers in Europa en die Weste te bevestig.
Die meeste van die G7-leiers bevind hulleself tans in ʼn benarde politieke posisie. Rishi Sunak gaan binnekort die voormalige Britse premier wees, terwyl parlementêre verkiesings in Frankryk waarskynlik ook in ʼn nederlaag vir Macron en sy party gaan uitspeel. In Duitsland is die bondskanselier, Olaf Scholz, só ongewild dat ernstige vrae gevra word oor hoe lank sy koalisieregering nog staande kan bly. In Kanada het dié land se premier, Justin Trudeau, se gewildheid tot ʼn historiese laagtepunt gedaal. In die VSA voorspel die gerespekteerde Economist-tydskrif nou dat Joe Biden waarskynlik op 5 November teen Donald Trump sal verloor. In Japan is die land se premier, Fumio Kishida, ook in ʼn politieke penarie met sy regering se steun wat tot minder as 20% gedaal het.
Die G7-leiers wou dus verlede week met kragdadige optrede, veral teenoor Rusland en China, hulle eie leierskapsvermoë herbevestig. Die mees wesenlike besluit wat deur die G7-leiers geneem is, is soos verwag ʼn lening aan Oekraïne van 50 miljard dollar, wat deur die rente wat op gevriesde bates van die Russiese sentrale bank verdien word, afbetaal sal word. Hierdie lening skep vir Westerse lande ʼn meganisme om Oekraïne verder finansieel te ondersteun sonder om hulle eie geld daarvoor te gebruik.
Terwyl Rusland soos verwag kan word, die plan veroordeel het, was China se negatiewe reaksie daarop egter belangriker. Rusland en China is toenemend noue bondgenote en die Weste beskou die stryd teen Rusland in die oorlog in Oekraïne as ʼn onderdeel van die Weste se magstryd met China. In die verklaring wat G7-leiers na hulle beraad uitgereik het, is China meer as twintig keer genoem met ernstige klagtes wat voor die deur van die Chinese gelê word.
Dit was dus ook geen verrassing dat China geweier het om die vredesberaad in Switserland by te woon nie. Uiteindelik het 80 lande ʼn gesamentlike verklaring onderteken in ʼn poging om ʼn einde aan die oorlog in Oekraïne te maak. Lande met ʼn sterk verhouding met China en Rusland het geweier om die verklaring te onderteken. Die vredesberaad in Switserland het ons nie nader aan vrede in Oekraïne gebring nie, maar het duidelik gewys watter lande in watter kampe geplaas kan word met drie groepe lande – die pro-Westerse groep, die pro-Chinese groep en dan lande wat werklik onverbonde probeer bly.
Die globale magstryd is verlede week deur die G7-beraad en die Oekraïne-vredesberaad verdiep. Handelsoorloë, naas fisiese oorloë soos dié in Oekraïne raak die speelveld van die stryd tussen die Weste en China. ʼn Westerse leierskapskrisis gaan die probleem vererger en kan gevaarlike globale risiko’s vir vrede en ekonomiese stabiliteit skep.