Willie Spies
Die Tshwane metro se stadsrede is op 16 April 2026 by die Universiteit van Suid-Afrika deur uitvoerende burgemeester, dr. Nasiphi Moya, gelewer.
Ek is as gas uitgenooi deur Grandi Theunissen, een van die VF Plus se span van 17 raadslede in die metro.
Moya het groot gewag gemaak van die stad se “vordering” onder haar koalisie met die ANC, EFF en ActionSA.
Sy het finansiële stabiliteit, ekonomiese herlewing en verbeterde dienslewering as haar kernprioriteite uitgelig.
Volgens haar het Tshwane beweeg van ’n stad met meer as R13 miljard skuld en ’n tekortbegroting na ’n begroting wat ten volle befonds is.
Die eerste sedert 2021/22, volgens haar. Sy het egter nie genoem dat dit gebeur het ten koste van individuele, oorbelaste belastingbetalers in die voorstede nie. Elke belastingbetaler kan getuig van die astronomiese verhogings in hulle munisipale rekeninge die afgelope twee jaar.
Die stad se surplus het dus tekorte vir individuele huishoudings gebring.
Dit was die eerste kloof wat die stadsrede openbaar het.
Moya het ekonomiese groei van 3,9% teen 2029 belowe, nuwe beleggings van R17 miljard-R26 miljard en 80 000 nuwe werksgeleenthede deur strategiese sektore soos motorvervaardiging, toerisme en landbouverwerking.
Sy het belowe dat die stad dit makliker wil maak om sake-ondernemings in die formele sowel as informele sektor om sake te doen en werk te skep, maar het geswyg oor die reuseboetes en verwydering van advertensieborde waarmee kleinsakeondernemings die afgelope twee jaar geteister is.
Dit was die tweede kloof tussen haar toespraak en die werklikheid.
Haar triomfantelike toespraak oor die stryd teen misdaad en korrupsie staan ook in skerp kontras met die ontstellende getuienis wat voor die Madlanga-kommissie van ondersoek na korrupsie, kriminele aktiwiteite en politieke inmenging in Tshwane uitgelig word.
Die kommissie, onder voorsitterskap van regter Mbuyiseli Madlanga, het sedert Maart 2026 ’n web van beweerde tendermanipulasie, betalings vir niegelewerde dienste en gebrekkige toesig blootgelê, veral in die Tshwane Metro Polisie.
Volgens getuienis van sersant Fannie Nkosi en ander amptenare is ’n R2,9 miljard-sekuriteitskontrak vir die beskerming van munisipale eiendom doelbewus gemanipuleer. ’n Lys van sewe “voorkeurverskaffers” is glo deur EFF-lede aan TMPD-adjunkhoof, Umashi Dhlamini, oorhandig, terwyl die stad se finansiële hoof, Gareth Mnisi, en ActionSA se eie burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste, Kholofelo Morodi, ook in die bewerings betrek is.
Getuienis wys dat die stad moontlik miljoene rande betaal het vir dienste wat nooit gelewer is nie, met veral senior TMPD-amptenare wat erken het dat daar geen kapasiteit was om kontrakte te monitor nie. Die direkteur van Batebeskerming, Tshukudu Malatji, het self voor die kommissie toegegee dat ad hoc-kontrakte nie gestaak is nie, wat die stad minstens R14 miljoen in ongemagtigde uitgawes gekos het.
Moya het die stad se “finansiële ommekeer” en “goeie bestuur” as bewyse van sukses aangehaal. Sy het die ANC/EFF/ActionSA-koalisie se pogings geprys om skuld te verminder, debiteure te beheer en infrastruktuur te herstel. Tog openbaar die Madlanga-getuienis presies die teenoorgestelde: ’n kultuur van tenderbedrog wat die stad se eie voorsieningskettingprosesse as ’n broeiplek vir korrupsie uitbeeld.
Amptenare het erken dat tenderdokumente rondgeskuif is, dat koopbestellings ná dienslewering uitgereik is, en dat politieke inmenging (van beide EFF- en ActionSA-kant) die integriteit van ’n R2,9 miljard-tender gekompromitteer het.
Moya het intussen self Morodi op spesiale verlof geplaas en Mnisi geskors ná die bewerings, en sy het die kommissie se werk verwelkom. Maar die stadsrede het geen melding gemaak van hierdie skandale nie – inteendeel, dit het die valse indruk probeer skep van ’n administrasie wat reeds die korrupsieprobleem opgelos het.
Nog meer ontstellend is die plekke waar Moya erkenning gee aan presies die mense en strukture wat deur die kommissie geïmpliseer word. In haar toespraak het sy die “harde werk” van haar uitvoerende span en koalisievennote erken as die dryfkrag agter die finansiële stabiliteit en dienslewering. Deur die koalisie as geheel te loof vir “verantwoordelike bestuur” en “antikorrupsie-inisiatiewe”, het Moya indirek erkenning gegee aan ’n stelsel en mense wat die getuienis voor die Madlanga-kommissie nou as deel van die probleem uitwys.
Dit onderstreep die derde groot kloof tussen die woorde van die stadsrede en die werklikheid van korrupsie.
Die implikasies is ernstig. Terwyl Moya 3,9% groei en duisende poste belowe, dreig die korrupsie om beleggers af te skrik en belastingbetalers se geld verder te mors. Die kommissie het reeds gewaarsku dat die probleem nie geïsoleerd is nie en moontlik landwyd voorkom.
Die drie groot klowe tussen die woorde van ’n burgemeester en die werklikheid van ons dag tot dag bestaan in die hoofstad het veral vir my betekenis gekry toe ek na die swierige stadsrede moes uitswaai vir die vele slaggate in die pad tussen die ZK Matthews-saal by UNISA en my kantoor in Groenkloof.
Vir die hoofstad om werklik te herstel, moet die kloof tussen woorde en werklikhede oorbrug word. So ook die kloof tussen die stadsregering en die gemeenskap wat hy veronderstel is om te dien. Mag ons in November vanjaar daardie kloof oorbrug met die uitslag van die verkiesing wanneer ek hoop om saam met ’n groter en sterker VF Plus-span terug te keer na die raad, wat tans ver verwyder is van sy gemeenskap.
Willie Spies is ’n prokureur en #1-kandidaat van die VF Plus vir die Tshwane metroraadsverkiesing.