Nuuskommentaar: 15 Augustus 2024
Deur: Louis Boshoff
Gedurende die 2024 Olimpiese Spele word Sifan Hassan die eerste vrou om goue medaljes te wen in die 5 000m-, 10 000m- en maratonitems van ’n olimpiese spele. Dit kan gewis nie ontken word dat Hassan ’n Nederlandse burger is en onder die Nederlandse vlag deelgeneem het nie, maar daar kan seker ook gevra word of Etiopiërs mag deel in die feesvieringe? Mag die land waar Hassan die eerste 15 jaar van haar lewe deurgebring het en waar sy haar moedertaal leer praat het, dit ook húl medalje noem?

Tydens hierdie selfde spele wen Nelvie Raman Tiafack ’n bronsmedalje vir Duitsland in ’n boksitem. Hy is ’n boorling van Kameroen. Marco Arop wen vir Kanada ’n silwermedalje in die 800m vir mans. Hy is ’n boorling van Soedan. Bashir Abdi wen vir België ’n silwermedalje in die maraton vir mans. Hy is ’n boorling van Somalië. Christa Deguchi wen vir Kanada die goue medalje in judo. Sy is ’n boorling van Japan.
As daar gekyk word na Europese lande se medaljewenners wie se ouers immigrante was, is daar nog opmerklike statisiek: Billal Bennama, wat vir Frankryk ’n boksmedalje verower het, is een van ses kinders van ’n Algeriese pa. Nafissatou Thiam, wat vir België die sewekamp gewen het, is een van vier kinders van ’n Senegalese pa. Cyrena Samba-Mayela, wat vir Frankryk ’n silwermedalje in die 100m-hekkiesitem verower het, is die derde van sewe kinders van Kongolese ouers. Almal gevalle van families wat baie meer vrugbaar is as die etniese Europeërs onder wie hulle woon. Sofiane Oumiha, wat vir Frankryk ’n boksmedalje verower het, stel met trots in sy biografiese agtergrond op die olimpiese webblad dat hy getroud is en kinders het, dat hy Marokko elke somer besoek en dat hy die Marokkaanse kultuur ook verteenwoordig al is hy in Frankryk gebore.
Daar was sekerlik in enige era al enkele immigrante wat besondere prestasies behaal het in of vir die land waarheen hulle verhuis het, maar Westerse lande het duidelik ’n oormaat sulke voorbeelde opgelewer tydens hierdie spele. Veral as dit gekontrasteer word met lande soos China, Pakistan, Korea of Kenia wie se spanlyste en spanfoto’s bra homogeen voorkom.
Verder kan daar nie na enige van die bepaalde atlete vinger gewys word om te sê dat hierdie of daardie persoon ’n probleem is vir die land waarheen hy geëmigreer het nie, maar die feit dat so ’n groot breukdeel van dié lande se medaljes deur immigrante verower is, is ’n aanduiding dat daar wesenlik groot kulturele blokke van ander volke teenwoordig is as die volk wat 50 jaar gelede eksklusief met dié land geassosieer is. En ’n ander kultuur het noodwendig ’n ander toekomsvisie vir die land. Dit gaan beslis verdere spanning veroorsaak in die toekoms.
Ter samevatting is ’n kykie na die Olimpiese medaljeleer seker nie die beste politieke ontleding wat daar is nie, maar dit skets ten minste vir ons ’n prentjie – in goud, silwer en brons – dat die Weste ’n identiteitskrisis beleef.