“Hou aan boer. Hou aan produseer.”
Dit was die woorde van die TLUSA se president, Henry Geldenhuys, tydens dié landbou-organisasie se jaarlikse kongres wat die afgelope week in Pretoria plaasgevind het.
Geldenhuys sê ten spyte van moeilike omstandighede soos lae beleggersvertroue en hoë werkloosheidsyfers, moet boere steeds aanhou om kos te produseer.
“’n Land kan vinnig invoer, maar hy kan nie die verantwoordelikheid van voedselsekerheid uitkontrakteer nie.”
Geldenhuys sê verder dat die Suid-Afrikaanse regering ook nie kan voortgaan om ideologie bo verantwoordelike ekonomiese beleid plaas nie.
Die minister van Landbou, Willie Aucamp, het tydens die kongres gesê dat die verskillende organisasies in die landbousektor en die departement nie altyd met mekaar oor alles gaan saamstem nie, maar met mekaar sal moet saamwerk om ’n meer veerkragtige landbousektor te bou waar almal in vrede kan boer.
“Boer is nie vir sissies nie. Boer is lekker, maar dis nie maklik nie. Boer is ook nie net boer nie. Dit is ’n roeping.”
Aucamp sê hy beskou sy taak as minister van Landbou as ’n roeping en dat hy diensbaar voor die boere by die kongres staan. Hy sê verder dat indien die departement en boere kan saamwerk, onnodige en omslagtige regulasies uit die weg geruim kan word.
“Ons hoef nie oor alles saam te stem nie, maar ons moet die wa saam deur die drif trek.”
Met betrekking tot bek-en-klouseer sê Aucamp dat die stryd nog nie gewen is nie, maar dat die landboubedryf op ’n beter plek is omdat die privaat sektor by die stryd betrek is.
“Die stryd lê voor en ons gaan aanhou om daardie stryd te stry.”
Aucamp sê landelike veiligheid behoort ’n prioriteit te wees en dat hy van mening is dat landelike misdade, soos plaasmoorde en veediefstal, as prioriteitsmisdade geklassifiseer moet word.
“Hoe kan jy jou roeping uitleef as jy dit nie veilig kan doen nie? Ons boere moet veilig kan wees. En kom ons wees eerlik – die regering in die verlede het jou in die steek gelaat. Ons het boere wat wil saamwerk, maar dan moet die regering hulle kant bring.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/09/NUUSWEEK-Uitgawe-82-04-Sept-2026.pdf