Nuuskommentaar: 5 Desember 2023
Deur: Jaco Kleynhans
Nuwe data oor die bevolkingsaanwas in Suid-Korea is verlede week bekend gemaak. Nadat die getal kinders per vrou in Suid-Korea tydens die pandemie tot 0,8 gedaal het, het dit tydens die eerste drie kwartale van vanjaar selfs nog verder tot 0,7 gedaal. Suid-Korea het van die laagste vlakke van bevolkingsaanwas in die wêreld. Indien dié tendens voortduur, sal Suid-Korea se bevolking, volgens demograwe, van die huidige 52 miljoen tot 35 miljoen in 2060 en minder as 10 miljoen teen die einde van die eeu daal.
In Japan het dié land se regering die afgelope paar weke reusagtige nuwe planne aangekondig om mense aan te moedig om meer kinders te kry. Verskeie nuwe gesinstoelaes wat oor die volgende drie jaar meer as 3,5 triljoen Japanse jen gaan kos, is reeds in werking gestel. Volgens Japan se premier, Fumio Kishida, is dit tans Japan se “laaste kans” om sy skerp dalende geboortesyfer om te keer. Die Japannese bevolking het die afgelope tien jaar reeds met drie miljoen afgeneem.
Dieselfde demografiese nagmerrie staar China tans in die gesig. Nadat aanvanklik voorspel is dat die Chinese bevolking teen 2033 sou begin krimp, het dit vroeër vanjaar aan die lig gekom dat die Chinese bevolking reeds besig is om te krimp en dat die afname oor die volgende paar jaar skerp gaan toeneem. Daar word verwag dat China se bevolking teen die einde van die eeu vanaf huidige vlakke kan halveer.
’n Lae bevolkingsaanwas raak ’n groter en groter probleem vir ontwikkelde lande. In die VSA, Kanada, die hele Europa, Australië en Nieu-Seeland is die bevolkingsaanwas lankal reeds laer as die vlak wat nodig is om die huidige bevolkingsgrootte in stand te hou.
Die meeste van hierdie lande toon egter steeds ’n bevolkingsgroei wat deur massa-immigrasie meegebring word. In byna elke Westerse land neem die etniese bevolking af terwyl immigrantebevolkings toeneem. In armer lande in Europa, soos Oekraïne, Pole, Serwië, Portugal, Roemenië, Bulgarye, Bosnië en Griekeland, het daar die afgelope paar jaar reeds ’n skerp bevolkingsafname plaasgevind. Selfs in Italië het die bevolking begin afneem, ten spyte van enorme onwettige immigrasie uit Afrika.
Volgens die Wêreldbank kry vroue in Westerse lande tans tussen 1,2 en 1,6 kinders wat ver onder die vervangingskoers van meer as twee kinders per vrou is. Dit staan in skrille kontras met die baie hoë bevolkingsaanwas in die meeste Afrika-lande, sowel as in armer Midde-Oosterse en Asiatiese lande soos Pakistan en Bangladesj.
Bevolkings wat verouder en ’n tekort aan jong mense wat die arbeidsmark betree, het uiters negatiewe gevolge vir ryker, ontwikkelde lande. Die vraag oor of immigrasie van mense uit arm lande die antwoord op hierdie probleem is, word tans in baie ryker lande gedebatteer.
In lande soos Japan, Suid-Korea en China is daar met goeie rede skeptisisme oor die oplossing wat immigrasie kan bied. In die meeste Europese lande is daar die afgelope paar jaar bewys dat immigrante dikwels meer probleme en uitdagings as oplossings bied. Die wêreld gaan oor die volgende paar jaar demografies dramaties verander. Net volkere met ’n positiewe demografiese tendens wat ook kreatiewe oplossings vir die uitdagings van ’n verouderende bevolking kan skep, sal hierdie reuseveranderinge suksesvol kan deurstaan.