Die ANC se die voorstel om ’n enorme megamunisipaliteit in Gauteng tot stand te bring deur die metrorade van Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni saam te smelt, is ’n poging is om die mag in hulle hande te hou.
Prof. André Duvenhage, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus, sê die ANC is baie bekommerd dat hy een of selfs twee metropole kan verloor in die komende plaaslikeregeringsverkiesing.
“Hulle probeer almal bymekaar gooi om te kyk of hulle daardeur ruimte kan skep om hulle eie belangegroepe in te bring en daardeur beheer oor die gebied behou.”
’n Onlangse meningspeiling deur die Social Research Foundation toon dat die ANC se steun landwyd tot 37% gedaal het. Luidens die peiling het die ANC se steun in Tshwane van 42% in Maart vanjaar na 32% Julie gedaal. In Johannesburg het die ANC slegs 18% steun behaal.
Nomvula Mokonyane, die ANC se eerste adjunksekretaris-generaal, het verlede week in ’n onderhoud die voorstel gemaak dat Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni in een enkele stadstreek saamgesmelt word.
“Dis ’n poging om beheer te behou en nie beheer hoef af te staan nie. Daardie drie metropole is die hart van die Suid-Afrikaanse ekonomie, daarom is politieke beheer daaroor van kernbelang,” sê Duvenhage.
“Dis die sentrale motief vir dié voorstel. Dis ongetwyfeld nie dienslewering nie.”
Duvenhage verduidelik dat die ANC dieselfde in Potchefstroom probeer doen het toe dié party nie ’n meerderheidsteun daar kon kry nie.
Jaco Mulder, die VF Plus se leier in Gauteng, sê die ANC se jongste voorstel is ’n bewys dat die party steeds die verkeerde probleem probeer oplos.
Volgens Mulder het Gauteng se inwoners nie groter munisipaliteite nodig nie, maar wel kleiner, meer doeltreffende en meer aanspreeklike plaaslike regerings.
“As ’n inwoner vandag sukkel om ’n lekkende waterpyp, rioolstorting, slaggat of vullisprobleem opgelos te kry, is die oplossing nie om die afstand tussen daardie inwoner en die besluitnemer nog groter te maak nie. ’n Megamunisipaliteit met miljoene inwoners sal plaaslike regering net verder van die gemeenskappe verwyder wat dit moet dien.”
Mulder sê die VF+ glo dat metropolitaanse rade eerder gedesentraliseer moet word deur sterk, funksionele subrade met werklike besluitnemings- en uitvoerende bevoegdhede.
“Waar metro’s te groot en onhanteerbaar geword het, moet selfs die moontlikheid van ontbondeling en die skepping van kleiner, meer verantwoordbare munisipaliteite ernstig ondersoek word. Strukture alleen gaan Gauteng nie red nie. Die werklike oplossing lê in die radikale herstel van munisipale funksionaliteit, die herstel van vervalle water-, riool-, pad- en kraginfrastruktuur asook vennootskappe met die privaat sektor waar dit doeltreffendheid kan verbeter.”
Volgens Mulder het Gauteng nie ’n groter regering nodig nie, maar wel ’n beter regering.
“’n Mislukte stelsel moenie groter gemaak word nie. Dit moet kleiner, slimmer en meer funksioneel gemaak word.”
Waar staan die plan vir ’n megametro?
Nadat die ANC se adjunksekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, gesê het dat munisipale grense vervaag het met inwoners wat gereeld tussen Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni reis, het die ANC se sekretaris-generaal gesê dat die samevoeging van die drie metro’s in een megametro nog nie ANC beleid is nie.
Mbalula het wel toegegee dat dit ’n besprekingspunt binne die ANC is, maar nie ’n weerspieëling is van hoe die party die toekoms van plaaslike regerings sien nie.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/09/NUUSWEEK-Uitgawe-82-04-Sept-2026.pdf