Nuuskommentaar: 11 Julie 2024
Deur: Ernst van Zyl
As ’n mens in die 20ste eeu vir buitelanders gevra het waaraan die woord Afrikaners hulle laat dink, sou jy baie uiteenlopende antwoorde gekry het. Saam met positiewe persepsies was daar ongetwyfeld ook ’n hele paar negatiewes, of dit nou regverdigbaar was of nie.
Stereotipes en reputasies is egter konstant aan die verander in tandem met plaaslike en internasionale ontwikkelings. Van die negatiewe buitelandse etikette en stigmas wat in die vorige eeu, en vroeg in die huidige, aan die Afrikaner vasgeklou het, word deesdae ongetwyfeld vervang met ’n gros nuwe, positiewe konnotasies. Die sêding ‟’n Boer maak ’n plan” was nog altyd algemene kennis in Suid-Afrika, maar hierdie waarheid blyk wêreldwyd al bekender te word.
Ek en Ernst Roets, my kollega in die Solidariteit Beweging, was vandeesweek bevoorreg om NatCon, een van die grootste konserwatiewe konferensies in Washington DC in Amerika by te woon. Ons is spesifiek genooi om ons insigte en ervaring te deel omdat meningsvormers en politici in Amerika begin kennis neem van AfriForum en die groter Solidariteit Beweging se selfdoensuksesse. Ons kanniedood-antwoord op staatsverval – “Ons sal self!” – trek al meer aandag in Amerika en Europa. Dit gryp Amerikaners en Europeërs se verbeelding aan, want al meer burgers is op soek na alternatiewe oplossings omdat hulle nie meer op die staat kan staatmaak nie.
Afrikaners bied deesdae vir die Weste ’n nuwe, innoverende uitkyk op hoe demografiese verandering en staatsverval hanteer kan word. Verkiesings hou die potensiaal in om verandering teweeg te bring, maar wat staan jou te doen as jou party sleg gevaar het by die stembus? Die Afrikaners van die 21ste eeu sê eenvoudig: “Rol jou moue op en sit skouer aan die wiel!” Die wêreld neem grootoog kennis van hoe Afrikaners verkies om eerder aan vars, vernuwende oplossings te dink en te bou as om op ’n hopie te gaan sit en steen en been oor die land se probleme te kla.
Afrikaners het geleer dat verandering óók kan plaasvind waar gemeenskappe self verantwoordelikheid aanvaar vir probleemoplossing en hulle op voetsoolvlak organiseer. Verandering vind voortdurend plaas waar ouers meer betrokke raak by skole, diensorganisasies en kerke. Dit is sigbaar aan skoner, veiliger woonbuurte omdat diegene wat daar woon nie tevergeefs op die regering wag nie, maar eerder toenemend die nodige self begin doen.
Op hierdie gebied neem AfriForum se meer as 170 takke die voortou deur jaarliks duisende slaggate te vul, padtekens te verf, gras te sny, bome te plant, buurt- en plaaswagpatrollies te ry, rommel op te tel en riviere, erfenisterreine en begraafplase skoon te maak. Verandering word aangevuur deur onselfsugtige, bedagsame en gemeenskapsbewuste mense wat vrywillig hul bure en gemeenskap help en seker maak dat die regte waardes in hul eie huise seëvier. Tasbare verandering begin in die huis met eenvoudige dinge, soos ’n pa wat vir sy seun meer oor hul familiegeskiedenis leer, of ’n ma wat vir haar kinders slaaptydstories in hul moedertaal lees.
Hedendaagse Afrikaners se herontdekking van die grondliggende idees wat die Helpmekaar Beweging moontlik gemaak het, is tans die belangrikste dryfveer agter die positiewe verandering van die wêreld se beeld van ons kultuurgemeenskap. Dit is dus vir my ’n besondere eer om as AfriForum-verteenwoordiger my organisasie en my mense se prestasies en pionierswerk op die internasionale verhoog met die wêreld te deel.