Redaksie
Die regering se stilswye oor die tien plaasaanvalle en verwante gewelddadige voorvalle wat gedurende Mei aangemeld is, is volgens AfriForum verdere bewys dat die owerheid versuim om die erns van dié soort misdaad te erken. AfriForum sê die vlakke van geweld wat met hierdie aanvalle gepaard gaan, bly kommerwekkend hoog en onderstreep die noodsaaklikheid dat die regering plaasaanvalle as ’n unieke en ernstige vorm van misdaad erken en dienooreenkomstig optree.
Volgens AfriForum se inligting is verskeie slagoffers die afgelope maand in plaasaanvalle aangerand, vasgebind en ernstig beseer. In twee afsonderlike voorvalle is slagoffers geskiet, waaronder twee plaaswerkers in die Zebediela-omgewing in Limpopo. Dié slagoffers het ernstige skietwonde opgedoen terwyl hulle van die aanvallers probeer vlug het. Gesinne in onder meer Delmas, Stellenbosch en die De Wildt-omgewing is in hul huise aangeval, terwyl verskeie aanvalle slegs afgeweer is danksy die vinnige reaksie van plaaslike veiligheidsrolspelers en gemeenskapsveiligheidstrukture.
Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, sê dit is duidelik dat landelike gemeenskappe met die voortdurende bedreiging van ernstige geweld leef.
“Die regering probeer telkens die erns van plaasaanvalle afmaak as bloot nog misdaadstatistiek, maar die werklikheid is dat boere, plaaswerkers en landelike inwoners steeds aan uiters gewelddadige aanvalle blootgestel word. Wanneer mense in hul huise vasgebind, gemartel, geskiet en aangerand word, kan niemand beweer dat daar nie ’n ernstige veiligheidskrisis in die landelike dele van Suid-Afrika bestaan nie.”
Broodryk sê dit is veral kommerwekkend dat die regering weier om die politieke en sosiale klimaat wat hierdie geweld aanhelp, teen te werk.
“Terwyl plaasaanvalle voortduur, bly die regering stil oor openbare figure wat verdeeldheid saai en geweld teen boere aanhits. Die volgehoue versuim om dreunsange soos ‘Kill the Boer’ onomwonde te veroordeel, stuur ’n gevaarlike boodskap dat die veiligheid van landelike gemeenskappe nie in ’n ernstige lig beskou word nie. ’n Regering wat werklik verbind is tot die beskerming van sy burgers, sou nie toelaat dat sulke boodskappe genormaliseer word nie.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek- https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/Uitgawe-69-05-11-Jun-2026-1.pdf