Nuuskommentaar: 31 Julie 2024
Deur: Herman Toerien
‘n Nuwe TV-opname oor John Harris, die man wat vir die Johannesburgse stasiebom gehang is, word nou op TV bemark, klaarblyklik met die doel om sy nalatenskap tot die van ‘n held te verhef. Met terreur wat internasionaal ‘n reuse euwel geword het, is dit nodig om die wysheid van so ‘n program net kortliks onder die loep te neem.
Om die werklike feite nou, sowat 60 jaar na die voorval, te rekonstrueeer is geen maklike taak nie. Die navorser, Kobus du Pisani, het in 2018 reeds in ‘n akademiese joernaal (https://www.jstor.org/stable/45176462 2018) in detail gewys op die impak van oorvloedige propaganda op die geval van Harris, wat dit moeilik maak om histories objektief na die geval te verwys. Dit het plaasgevind juis toe apartheid internasionaal skerp veroordeel was, en die Suid-Afrikaanse regering as inherent boos voorgestel is. Kenners meen agter ook dat die sg “dirty tricks” van die veiligheidsmagte die propaganda-koffers van die veldtog teen apartheid propvol skadelike skietgoed gemaak het.
Harris was maar 27 jaar oud toe die bom geplant is, en hy was toe ‘n lid van die destydse Liberale Party. Sy lidmaatskap van Sascoc is sekerlik meer onthullend oor hoe die man die werklikheid omarm het. Hy was ‘n onderwyser, en kon dus beswaarlik weens ‘n lae intellek in ‘n onrealistiese droom vasgevang gewees het.
Sy laaste wens aan sy familie en vriende voor hy tereggestel is, was glo dat hy eendag as held onthou moes word.
Tog word breedweg aanvaar dat Harris alleen opgetree het. Sy makkers was in daardie stadium meestal in aanhouding, of het die land verlaat. Nadat Harris in 1965 aan moord skuldig bevind is. is hy gehang. Hy was die enigste wit persoon wat weens sy daad, wat teen apartheid gemik was, gehang is.
Word gewoon objektief na die doktrines van terreur gekyk, staan drie eienskappe uit wat maak dat dade as terreur geklassifiseer word, naamlik dit moet nie-selektiewe teikens tref, dit moet meer op propaganda as ongevalle gemik wees, en dit moet wreed wees. Dit word nie verniet as die teater van die propaganda van die daad voorgestel nie. Wanneer daar ‘n politieke motief is, word dit as politieke terreur beskryf, wat weer ‘n deur wawyd ooplaat om die dade te probeer regverdig. Soort van die doel heilig dien middele.
Die swak plek in die mondering van die terroriste en hul ondersteuners was juis die nie-selktiewe aard daarvan. Daar is dus dikwels gebruik gemaak van skynteikens om dit ‘n politieke kleur te gee. Bloemfontein was byvoorbeeld ‘n funksionele vervoerstad waarin die spoorweë ‘n groot rol gespel het. In ‘n stadium was sowat 11 van 13 bomaanvalle op spoowegteikens gerig, waaronder ‘n belangrike spoorwegbrug, verskeie sinjale en so meer. Twee aanvalle wat nie met die spoorweë verbind kon word nie was ‘n bomaanslag op die hoofkantoor van die destydse administrasieraad wat met die passe geassosieer is, en die Peetlaan-ontploffing waar die bomdraer self opgeblaas is toe de bom voortydig afgegaan het. Die teiken was dus onbekend.
‘n Bomaanval op die Durbanse strandfront, klaarblyklik teen die toerismebedryf gemik, was voor die weermag se kommandement-hoofkantoor. Die Kerkstraat-bomontploffing was voor ‘n gebou wat belangrike weermagfunksies verrig het.
Die landmyne op plaaspaaie wat tot enorme hartseer gelei het en selfs kinders geëis het, is “geregverdig” deur die boere as deel van die land se verdedigingsmag te beskryf.
Met die Hamas-aanval op ‘n musiekfees in Israel, het Hamas heelwat kritiek ontlok weens die wreedheid teenoor burgerlikes. Die Palestynse ambassadeur in Suid-Afrika het dit egter “geregverdig” deur te verklaar dat dit nie burgerlikes was nie, maar setlaars. ‘n Groot teenvoeter in die propaganda om terreur minder afskuwelik te maak, was om ‘n reuse veldtog te voer om staatsterreur as die eintlike euwel voor te stel. Dit word steeds gebruik om Israel in ‘n swak lig te stel.
Harris se bom was op ‘n stasie geplant, en bepaald in Johannesburg. Slegs een persoon is in die aanval oorlede, maar verskeie ook beseer. Die nie-selektiewe aard van die aanval laat dit dus as daad van terreur kwalifiseer.
Die groot probleem met die relativisering van terreur, is dat dit uiteindelik onskuldige mense kan tref. En dis nie asof Suid-Afrika nog groter verdeeldheid oor kwessies soos hierdie kan bekostig nie. Terwyl gepoog word om van Harris ‘n held te maak, is daar skynbaar niks verkeerd om Kill the Boer te sing nie. Hierdie verdeeldheid gaan ook die regering van nasionale eenheid se bestaan onder groot druk plaas.