“Dit is nie maklik om vir jou man te sê: “Vandag haal ons alles af” nie.
So vertel Marlene Pretorius van haar stryd teen borskanker en die dubbele mastektomie wat ná haar diagnose gevolg het. Pretorius se ma het ook ’n stryd teen borskanker gevoer, en sy het dus geweet wat op haar kan wag. Pretorius was die spreker by ’n geleentheid waar ’n bedrag van bykans R1,54 miljoen aan die Kankervereniging van Suid-Afrika oorhandig is. Die oorhandiging is deur Jurie Dreyer van Dinamika Finansiële Dienste waargeneem namens die boedel van Malie Rosenschoon.

“Ek het gesien hoe sy haarself stadig verloor. Ek het by haar gesit en gedink dat ek dalk in dieselfde bootjie kan wees.”
Pretorius het egter besluit dat haar ma se reis nie hare sal wees nie.
Toe daar in 2018 borskanker by haar gediagnoseer is, was dit nadat ’n mammogram en ’n biopsie daarop gedui het dat daar niks fout is nie. Sy het egter met toetse volhard en uiteindelik is borskanker wel gediagnoseer.
Pretorius sê as iets nie reg voel in jou liggaam nie, moet jy daarop reageer
Sy vertel dat ’n mastektomie aanvanklik ’n invloed op haar vrouwees gehad het.
“Jy verloor hierdie stukkie van jouself. Jy moet elke dag jouself kies. Jy moet elke dag weer opstaan.”
Sy glo dit is belangrik dat die publiek gereeld vir toetse gaan.
“Doen daai skandering. Gaan vir ’n mammogram. Doen daai ultraklank. Gaan vir ’n prostaatondersoek.”
Die stryd het haar nog nie onder gekry nie.
“Ek staan vandag voor julle sonder hare, sonder borste. Die groei wat ek ervaar het hierdeur sal ek vir niks verruil nie.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/08/NUUSWEEK-Uitgawe-81-28-Aug-2026.pdf