Jaco Kleynhans
Japan het die afgelope week ʼn nuwe eerste minister gekry – die vyfde in vyf jaar, en die eerste vrou ooit. Sanae Takaichi (64) is ʼn veteraan-politikus, aartskonserwatief, ʼn aanhanger van Margaret Thatcher en Donald Trump en iemand wat glo in ʼn herlewing van die Japannese nasionale en kulturele identiteit.
Takaichi word Japan se eerste minister in ʼn tyd van ernstige demografiese en ekonomiese uitdagings vir een van die rykste, mees ontwikkelde en grootste ekonomieë ter wêreld. Vraagstukke oor Japan se identiteit, immigrasie, demografiese agteruitgang en ekonomiese herlewing plaas haar egter in ʼn byna onmoontlike posisie om vinnige resultate te lewer aan ʼn Japannese bevolking wat toenemend bekommerd oor die toekoms is.
Die Liberale Demokratiese Party (LDP) het Takaichi, ʼn lid van die mees regse vleuel van dié sentrumregse party, juis tot nuwe partyleier verkies in ʼn poging om die verlies aan steun na meer regse, nasionalistiese partye te probeer stuit. Soos die meeste ander ontwikkelde, ryk lande, staar Japan wesenlike uitdagings in die gesig. Die gevolg is die opkoms van regse populisme wat vra vir meer radikale, daadwerklike oplossings.
Japan se bevolking het verlede jaar met ʼn rekord 910 000 mense gedaal, hoofsaaklik as gevolg van ʼn lae geboortesyfer en ʼn rekordhoë aantal sterftes. Die Japannese bevolking gaan vanjaar waarskynlik vir die eerste keer ooit met meer as 1 miljoen mense krimp. Dit sal die sewentiende agtereenvolgende jaar van bevolkingsafname in dié land wees. Meer as 35% van Japan se bevolking is ouer as 65 en afgetree. Teen 2050 kan meer as 50% van Japan se bevolking afgetredenes wees.
Die ekonomiese gevolge van Japan se demografiese agteruitgang sluit in ʼn toenemend stagnante ekonomie met lae groei, stygende inflasie en ʼn staatskuld wat reeds 235% van die bruto binnelandse produk beloop. Japan is besonder goed daarmee om die lewensverwagting van sy bevolking te verhoog, maar ongelukkig ook om die bevolkingsaanwas en geboortekoers te laat daal. Meer ouer mense en minder jong mense beteken meer mense pensioene, mediese sorg en ander dienste word benodig – en minder mense om die ratte van die ekonomie te laat draai.
Die meeste Japannese leiers die afgelope paar jaar het gehoop dat aansporings jong paartjies sou aanmoedig om meer kinders te hê. Dit gebeur nie. Intussen word robotte en ander tegnologie ontwikkel om ouer mense te help versorg, selfs om die werk van dokters en verpleegkundiges in hospitale oor te neem en natuurlik om ʼn groot verskeidenheid van werk te verrig wat gewoonlik deur jong werkers gedoen is.
Japannese erken egter ook dat hoewel planne om bevolkingsaanwas te verhoog, misluk, robotte nog nie gereed is om mense op genoeg plekke, vinnig genoeg te vervang nie. Gevolglik het Japan se immigrantebevolking die afgelope drie jaar met 10% per jaar toegeneem. Tans is 3% van Japan se inwoners immigrante. Die verwagting is dat hierdie syfer oor die volgende dekade tot 10% sal moet toeneem, wat massa-immigrasie van arbeiders uit lande soos Viëtnam en die Filippyne sal vereis om arbeidstekorte aan te spreek.
Immigrasie na Japan veroorsaak egter reeds aansienlike ongemak onder ʼn meerderheid Japannese. Anders as in Europa en die VSA, is Japannese minder geneë om hul eie, meer geslote kultuur en gebruike prys te gee ten einde by immigrante aan te pas.
Japannese het ʼn unieke, onmiskenbare hiërargie, tesame met ʼn komplekse stel kulturele lewensbeskouings, reëls en taboes. Hierdie unieke Japannese lewenswyse steun swaar op respek, terughoudendheid en die individu se vermoë om genoemde kulturele reëls na te kom. Selfs met slegs 3% van die bevolking wat uit immigrante bestaan, sien ons reeds ʼn kulturele botsing in Japan wat onvolhoubaar is en bygedra het tot die opkoms van sterk anti-immigrasiepartye in Japan.
Terwyl skatryk outokrasieë soos Katar en die Verenigde Arabiese Emirate soortgelyke arbeidstekorte as Japan, Europa en die VSA aanspreek deur tydelike gasarbeiders uit arm lande in diens te neem – wat eenkant woon, slegs vir hul arbeid gebruik word en geen aanspraak op enige regte of pad tot burgerskap het nie – poog moderne demokrasieë wat menseregte hoog op prys stel, soos die Weste, maar ook Japan, om immigrante anders te behandel. Hierdie benadering het egter die afgelope paar jaar gelei tot die vorming van parallelle samelewings, maar selfs ook die totale oorname van samelewings.
Japan het nog ʼn duidelike, unieke identiteit wat veel meer as net ʼn nasionale identiteit is. Dit is ʼn identiteit wat oor eeue ontwikkel het, moeilik aangeleer kan word en dus ook moeilik afgebreek kan word. In die meeste Westerse lande is identiteite sodanig verwater dat ʼn Britse identiteit, Duitse identiteit, Nederlandse identiteit, ensovoorts toenemend bloot na ʼn burgerlike identiteit verwys, met die hoop op gedeelde waardes.
Daarenteen handhaaf Japan steeds ʼn sterk etniese identiteit – en waar etniese identiteite behoue bly, skep massa-immigrasie onvermydelik spanning. Die voormalige Japannese eerste minister, Shinzō Abe, het ʼn paar jaar gelede voorgestel dat Japan van sy etniese identiteit begin afsien en, soos Westerse lande, ʼn suiwer burgerlike identiteit aanneem om immigrasie te vergemaklik. Hierdie idee is deur die meeste Japannese verwerp.
Daar is eintlik net een oplossing vir Japan se probleme: ʼn skielike, snelgroeiende bevolkingsaanwas. Hoe Takaichi Japannese daarvan gaan oortuig, is egter onseker. Die alternatiewe is óf massa-immigrasie, wat Japan op dieselfde pad as Engeland, Frankryk, België, Duitsland en Nederland sal plaas óf ʼn aanvaarding van lae ekonomiese groei, beperkte vermoëns om na ʼn verouderende bevolking om te sien en nog meer dringendheid om die gapings in die arbeidsmark met tegnologie te vul. Terwyl Westerse beskawings voor ons oë wegkwyn, lê moeilike keuses vir Japan oor die volgende jaar of drie voor. Takaichi is dalk net die regte leier om haar mense deur hierdie tydperk van nasionale besinning te lei.
Kleynhans is hoof van openbare skakeling by Solidariteit.