14 Januarie 2025
Honderduisende matrikulante van 2024 het sedert vroeg vanoggend hulle uitslae aanlyn, in e-publikasies en by hulle skole gekry.
Dit kom nadat die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, gisteraand bekend gemaak het dat dié groep die hoogste slaagsyfer in die geskiedenis van die land behaal het, met ‘n slaagsyfer van 87,3%.
Wat die onderskeie provinsies betref het die Vrystaat weer die beste gevaar met ‘n slaagsyfer van 91%.
KwaZulu-Natal was kort op sy hakke met 89,5%, gevolg deur Gauteng met 88,4%.
Die ander provinsies se slaagsyfers was Noordwes – 87,5%, Wes-Kaap – 86,6%, Limpopo – 85,1%, Mpumalanga – 84,9%, Oos-Kaap – 84,98% en die Noord-Kaap – 84,2%.
47,8% het met universiteits-vrystelling geslaag.
LEES OOK: 2024-matriekeindeksamen goedgekeur
Die VF Plus-LP en hoofwoordvoerder oor basiese onderwys, dr Wynand Boshoff, het intussen op die bekendmaking van die uitslae gereageer en sê vir ‘n rekord van 87,3% van kandidate was 2024 ‘n suksesverhaal, terwyl vir die ander 12,7% dit dalk een of twee persent in een of twee vakke was.
Hy het elke suksesvolle matrikulant gelukgewens en meen dat diegene wat dit nie gemaak het nie, nie ‘n rede het om tou op te gooi nie, aangesien daar aanvullende eksamens is.
Dr Boshoff meen veral KwaZulu-Natal kan trots voel oor sy prestasie en dat dit noemenswaardig is dat alle provinsies meer as 84% slaagsyfer behaal het.
LEES OOK: Pretoria FM Nuusweek: Kry jou matriekuitslae hier
Hy sê egter dat 2024 se matrikulante die laaste groep is wat voor die inwerkingstelling van die Bela-wet matriek skryf en dat die departement van basiese onderwys nou die verantwoordelikheid vir meer as 800 000 kandidate se eksaminering het.