Redaksie
TLU SA se hoofbestuurder, Bennie van Zyl, sê in reaksie op die aanstelling van Willie Aucamp as minister van Landbou dat die uitdagings waarmee produsente gekonfronteer word nie wag totdat politieke prosesse afgehandel is nie.
“Landbou funksioneer nie volgens politieke termyne nie. Die sektor benodig stabiliteit, beleidskontinuïteit en besluitneming wat die langtermynbelange van voedselproduksie voorop stel. Die uitdagings waarmee produsente gekonfronteer word, wag nie totdat politieke prosesse afgehandel is nie.”
Volgens Van Zyl behoort die onmiddellike fokus op die beheer van bek-en-klouseer (BKS) te wees. “Dit is noodsaaklik dat daar so spoedig moontlik ’n kollektiewe benadering gevolg word waarin alle beskikbare kundigheid en kapasiteit, in beide die openbare en private sektor, benut word om die siekte onder beheer te bring.”
Van Zyl sê verder dat dit tyd is vir konstruktiewe, toekomsgerigte aksieplanne.
“Die uitkoms wat die landbou benodig, is dat markte so spoedig moontlik weer onbevange en doeltreffend funksioneer, veral met betrekking tot bek-en-klouseer. Landbou is die bestuur van biologiese prosesse tot by winsgewendheid. Dit is terselfdertyd ’n ekonomiese proses wat uiteindelik verantwoordelik is vir die strategies noodsaaklike verskaffing van voedsel. Die grootste stabiliseerder in enige land is dat daar kos op mense se tafels is. Daarom mag politieke doelwitte nooit inmeng met die besluite wat nodig is om voedselproduksie te beskerm en uit te bou nie.”
Volgens Van Zyl moet die minister hom deeglik vergewis van die toenemende druk wat insetkoste op produsente plaas.
“Dit is ’n uitdaging wat nie deur die regering alleen aangepak kan word nie. Georganiseerde landbou behoort ’n vennoot te wees in die soeke na praktiese oplossings wat die volhoubaarheid van voedselproduksie versterk.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-73-03-Jul-2026.pdf