Redaksie
Die spanning tussen politieke partye is besig om op te bou in die aanloop tot die plaaslikeregeringsverkiesing. Die politieke ontleder verbonde aan die Noordwes Universiteit, prof Ander Duvenhage, sê dit wil tans voorkom of voormalige DA-ondersteuners eerder die Patriotic Alliance in die verkiesings sal steun.
“Hier gaan dit oor identiteitspolitiek. Dit gaan daaroor dat die DA grootliks geïdentifiseer en geassosieer word met ’n dominante wit identiteit; daarteenoor posisioneer die PA hom as ’n bruin identiteit.”
Duvenhage sê verder dat Helen Zille, anders as die PA-leier, Gayton McKenzie, identiteitspolitiek ontken.
“Ek dink daardie besef is besig om by die DA tuis te kom. Ek het min twyfel dat die skuif van Liam Jacobs weg van die DA te make gehad het met identiteitspolitiek, en sy terugbeweeg (na die DA) het te make daarmee dat Jacobs groter verwagtinge gehad het oor wat hy in die PA kan en gaan bereik, en dit het nie gerealiseer nie.”
Duvenage sê daar is ’n tendens in politieke partye, nie net in Suid-Afrika nie, waar een figuur die politieke omgewing baie sterk domineer. As jy nie deel van die binnekring van lojaliste is nie, is jy ’n buitestander.
“Hy (Jacobs) het gewoon die som gemaak dat dit beter is om terug te keer na ’n party wat hiërargies meer struktureel is.”
Duvenage sê dit bly ’n ope vraag of dié gebeure ’n invloed op die bruin stem in die Wes-Kaap sal hê.
“Wat ek wel weet, is dat die DA ’n baie deeglike risikoanalise maak van die omgewing en dienooreenkomstig beplan.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek- https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/Uitgawe-69-05-11-Jun-2026-1.pdf