Verlede naweek se aanval deur Oekraïne met ʼn langafstandhommeltuig op ʼn Iranese skip in die Kaspiese See het die toenemende verweefdheid van die oorloë in Oekraïne en Iran beklemtoon. Rusland en Iran se historiese bande, tesame met albei lande se verhouding met China en ander anti-Westerse moondhede, skep gevaarlike omstandighede waarin die twee oorloë geografies só kan uitkring dat dit uiteindelik in een veel groter konflik met verreikende wêreldwye gevolge kan ontaard.
Volgens die Oekraïense regering het sy weermag ʼn Russiese oorlogskip en ander vaartuie geteiken wat militêre goedere, waaronder komponente vir hommeltuie en missiele, van Rusland na Iran vervoer het. Iran ontken dit egter en voer aan dat dit ʼn kommersiële skip was wat staal vervoer het en vanaf Astrakhan in Rusland na Bandar Anzali in Iran onderweg was. Een matroos is tydens die aanval dood en verskeie ander is beseer.
Hoewel die aanval in die Kaspiese See groot opslae gemaak het en
Iran Oekraïne se diplomaat in Teheran ontbied, die aanval as ʼn skending van die VN-handves veroordeel en met vergeldingsaanvalle gedreig het, is die langtermyngeopolitieke gevolge daarvan van veel groter belang.
Iran se minister van buitelandse sake, Abbas Araghchi, het Israel daarvan beskuldig dat dié land Oekraïne aangemoedig het om die aanval uit te voer. Terwyl Rusland en Iran noue bande handhaaf, het die verhouding tussen Oekraïne en Israel die afgelope tyd verdiep. Die DieOekraïense president, Wolodimir Zelensky, en Israel se eerste minister, Benjamin Netanyahu, was boonop die afgelope week op dieselfde dag in Washington. Soos Rusland en Iran baie van dieselfde vriende en vyande het, geld dit ook toenemend vir Oekraïne en Israel.
Verskeie bewerings wat die oorloë in Oekraïne en Iran al hoe nouer met mekaar verbind, is die afgelope week gemaak. Iran beweer Israel probeer Europese lande in die Midde-Oosterse konflik betrek deur Oekraïne aan te moedig om aanvalle op Iranese skepe uit te voer. Rusland voer weer aan dat die oorlog in Iran bloot gebruik word om Rusland se vermoë om homself te verdedig, te verswak en verdeeldheid tussen Rusland en sy bondgenote te saai.
Die werklikheid is dat Rusland en Iran reeds jare lank nou saamwerk op die gebied van wapenvervaardiging en dat wapenhandel tussen die twee lande sedert die uitbreek van die oorlog in Oekraïne beduidend toegeneem het. Albei lande is ook noue bondgenote van China en werk saam in pogings om Westerse, en veral Amerikaanse en Europese, invloed in verskeie wêrelddele te verswak. Rusland en Iran handhaaf boonop noue bande met verskeie outoritêre regimes, veral in Afrika, waar hulle in noue samewerking Westerse belange probeer ondermyn, toegang tot hulpbronne verkry, militêre staatsgrepe steun en hul invloed uitbrei.
Militêre samewerking tussen Rusland, Iran en China verdiep reeds jare lank. Die drie lande werk saam met die uitruil van tegnologie, wapens, ammunisie, radarstelsels, satellietdata en intelligensie. Hierdie samewerking word al hoe meer sigbaar in die oorloë in Oekraïne en Iran. Hoewel China dikwels op die agtergrond bly en tmerkwaardig stil is terwyl hierdie oorloë ontvou, trek die land groot voordeel uit sy groeiende invloed oor Rusland en Iran en die toenemende afhanklikheid van albei lande van Chinese steun.
Zelensky het Dinsdag by die Withuis Rusland daarvan beskuldig dat dit satellietbeelde van Golfstate en Amerikaanse militêre fasiliteite aan Iran verskaf om aanvalle in die Midde-Ooste moontlik te maak. Hierdie intelligensiedeling versterk die indruk dat die twee oorloë nie meer afsonderlike konflikte is nie, maar toenemend verweef raak.
Dit plaas die Amerikaanse regering, en in ʼn mate ook Europa, in ʼn uiters moeilike posisie. Lande soos Iran, Rusland en China werk nou saam om die Weste nie net militêr nie, maar ook ekonomies te verswak. Westerse invloed word toenemend in ontwikkelende lande in Afrika, die Midde-Ooste en Asië uitgedaag. China trek uiteraard groot voordeel hieruit deur sy invloed aan te wend om toegang tot hulpbronne in ontwikkelende lande te verkry en terselfdertyd nuwe markte vir sy goedere regoor die wêreld te ontsluit.
ʼn Aanval soos dié wat Oekraïne verlede naweek in die Kaspiese See uitgevoer het, verhoog die risiko dat Europa en Navo dieper in beide oorloë betrek kan word. Die Withuis en die Pentagon staan tans voor die uitdaging om twee oorloë wat op ʼn ingewikkelde manier met mekaar verweef is, te help beëindig, terwyl hulle terselfdertyd moet voorkom dat Amerikaanse belange op verskeie vastelande verder verswak of bedreig word. Hoewel die wêreld nog ver is van ʼn situasie waarin die twee oorloë direk ineenvleg en wêreldstreke destabiliseer, neem die risiko daarvan daagliks toe indien daar nie volhoubare oplossings vir beide konflikte gevind word nie.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-77-31-Jul-2026.pdf