James Kemp
Prof Koos Malan, ’n konstitusionele juris van Pretoria, sê die instroming van onwettige immigrante, spesifiek vanuit dele in Afrika noord van die Limpoporivier en vanuit sekere Asiatiese state soos Pakistan, is ’n regeringsgemaakte probleem oor ’n tydperk van 30 jaar.
“Dit kom reeds van die dae van oudpresident (Thabo) Mbeki en het voortgeduur tot nou. Die rede daarvoor is dat daar onder die ANC in werklikheid ’n beleid was, ’n baie uitgesproke beleid, dat buitelanders vanuit die genoemde streke welkom is om die land binne te kom en dat gedokumenteerdheid, wettigheid al dan nie, van die binnekoms nie saak maak nie.”
Malan sê die ANC glo dat mense vanuit Afrika die ANC gehelp het in sy stryd teen wit minderheidsbewind.
“Die toestemming dat hulle maar die land kan inkom, trouens eintlik die uitnodiging dat mense vanuit die streke die land kan binnekom, die is eintlik ’n vorm van bedanking vir die hulp wat hulle aan die ANC verleen het. Dit is dus duidelik ’n ANC-gemaakte probleem.”
Malan wys daarop dat frustrasie oor onwettige immigrante verder toegeskryf kan word aan die verval van die staat en daarmee saam die agentskappe wat veronderstel is om ons landsgrense te bewaak.
Hy sê verder dat die ANC roekeloos was deur nie ag te slaan nie op waarskuwings dat daar ’n wedywering sou kom vir Suid-Afrika se reeds skaars maatskaplike en gesondheidsmiddele.
“Hulle is gewaarsku dat daar probleme sou kom en ook gewaarsku dat dit sou ontbrand in geweld. Dis desondanks op ’n baie roekelose wyse geïgnoreer.”
Malan sê die waarskuwings was nie net mondeling nie maar ook in die vorm van daadwerklike geweld wat reeds 2007 vir die eerste keer voorgekom het. Malan sê die maatskaplike kwessie het nou ’n politieke kwessie geword.
Malan sê verder dat die regering sy verantwoordelikheid na die werkgewers verplaas, wat ’n uiters onverantwoordelike stap is.
“Dit was die regering se plig om die grootskaalse binnekoms van mense te verhoed en nou word die verantwoordelikheid op werkgewers oorgeplaas om iets omtrent die onwettige migrante te doen.”
Malan sê eerskomende Dinsdag se aksie kan nie vergelyk word met die EFF se “National Shutdown” van 2023 wat min resultate opgelewer het nie omrede verskeie rolspelers, wat insluit taxiverenigings en privaat sekuriteitsmaatskappye, vooraf voorbereid was op die aksie en dit weer daartoe gelei het dat minder van hulle ondersteuners opgedaag het.
“Die optrede wat ons hier sien vanaf die kant van March and March is baie meer omvattend as die van die EFF, want dit strek oor die hele Suid-Afrikaanse samelewing heen en sluit in mense van watter politieke partye en ook die groot gros mense wat nie by enige politieke party betrokke is nie.”
Malan sê vanweë die voorbereiding vir eerskomende Dinsdag se aksie en die verbintenis van die organiseerders dat daar nie geweld sal wees nie, glo hy dat voorvalle van geweld moontlik sal voorkom, maar dat dit tot die minimum beperk sal wees.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/NUUSWEEK-Uitgawe-72-26-Jun-02-Jul-2026.pdf