Redaksie
Andy Burnham, die voormalige burgemeester van Groter Manchester wat die afgelope week as die parlementslid van Makerfield verkies is, blyk die voorkeurkandidaat te wees om die volgende Britse eerste minister te word.
Die huidige eerste minister, Keir Starmer, het die afgelope week sy bedanking as leier van die Arbeidersparty aangekondig, maar gesê dat hy in sy pos as premier sal aanbly totdat ’n nuwe partyleier verkies is.
Starmer se ongewildheid kan aan ’n rits flaters toegeskryf word. Een daarvan is die aanwysing van Peter Mandelson as die Britse ambassadeur na die VSA ten spyte van Mandelson se verbintenis met die seksmisdadiger, Jeffrey Epstein.
FOTO – KEIR STARMER

Ander redes sluit in die publiek se frustrasie met die stand van Brittanje se openbare gesondheidsorgstelsel, immigrasie, die ekonomie en openbare dienste.
Burnham geniet op sy beurt baie steun en peilings tydens verlede jaar se Arbeidersparty-konferensie het gewys dat 62% van die partylede hom bo Starmer sou verkies. Alhoewel Burnham se pad na die eersteministerstoel in die stadium redelik oop is, is dit nie so seker dat hy steeds daardie posisie na ’n verkiesing sal beklee nie.
Nigel Farage se party, Reform UK, het tans slegs agt parlementslede maar skop stof in die oë van ander partye wanneer dit by peilings kom. Die eerste groot peiling wat ná Starmer se bedanking onderneem is, naamlik deur YouGov.com, het Reform in die eerste plek met 25% van die steun geplaas, gevolg deur die Konserwatiewe Party met 20%, die Arbeidersparty met 15% en die Groen Party met 15% van die steun. Die volgende verkiesing hoef egter nie voor Augustus 2029 plaas te vind nie en dit kan wees dat die Arbeidersparty nog ’n rukkie langer aan die mag sal klou.
En indien Burnham as Starmer se opvolger aangewys word, sal Brittanje sy sewende eerste minister in net tien jaar hê.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/06/NUUSWEEK-Uitgawe-72-26-Jun-02-Jul-2026.pdf