Nuuskommentaar: 30 Januarie 2025
Deur: Carina Bester
Onteiening en eiendomsreg is al vir jare ’n omstrede en sensitiewe saak in Suid-Afrika. Pres. Cyril Ramaphosa het nou met die ondertekening van die Onteieningswetsontwerp nie net paniek gesaai onder Suid-Afrikaners nie, maar ook erge onsekerheid veroorsaak.
Hierdie wetsontwerp is in Maart verlede jaar, net voor die nasionale verkiesing, deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) aangeneem. Tog het Ramaphosa tot nou toe gewag voordat hy die wet onderteken het. ’n Mens kan nie anders nie as om te wonder of dit ’n strategiese politieke skuif van Ramaphosa was. Dit is heel moontlik ’n manier waarop hy ANC-lede paai wat gekant is teen die Regering van Nasionale Eenheid (RNE), en om te wys dat hy steeds aan die radikale lede se kant is. Terselfdertyd wys hy ook hiermee dat die ANC steeds in beheer is al is hulle veronderstel om die land nou saam met ander partye in die RNE te regeer.
AfriForum is van mening dat die ANC probeer om die RNE te gebruik om die voormalige opposisiepartye te koöpteer om die ANC te help om sy vernietigende beleide deur te voer.
As ’n mens verder hieroor dink, is die ondertekening van hierdie wet en die Bela-wet ’n manier waarmee die ANC die ander partye in die RNE se kiesers van hulle vervreem.
Verskeie organisasie en politieke partye het die afgelope week te kenne gegee dat hulle gereed is om hof toe te gaan om die grondwetlikheid van die wet te bepaal. Baie gaan gedoen moet word om mense behoorlik in te lig oor wat onteien mag word, hoe die proses werk en wie eiendom mag onteien.
Twee sake is seker: Suid-Afrikaners kan hul staal vir lang uitgerekte hofsake om die Onteieningswet te keer; en lang hofsake waar nul-vergoeding in onteieningsake ter sprake is.
Daar is met reg kommer oor wat die wet vir die land se ekonomie en voedselsekerheid gaan beteken. Die ANC het die afgelope 30 jaar reeds bewys dat hulle hul eie belange voor dié van die land plaas. TLU SA het tereg opgemerk dat die grys areas van die wet voorsiening maak vir misbruik, korrupsie en onregverdige praktyke.
Tog hoef ons nie met hierdie wet op moedverloor se vlakte te wees nie. Soveel organisasies en politieke partye het aangedui dat hulle regsmenings gaan inwin, die howe gaan nader oor die grondwetlikheid van dié wet en Solidariteit het selfs geld beskikbaar gemaak om mense te help veg wanneer hulle eiendom onteien word.
Hou dus moed, raak betrokke by die stryd en wees ingelig oor die wet en die prosesse wat gevolg moet word voordat eiendom onteien kan word.