Luister nou

O, aarde! Oggende en opstaantyd!

Deur Redaksie

Wat op dees aarde is dit met oggende en opstaantyd? Heel eerste word ek wakker met slobber soos ’n boerboel, wat my man heel oulik vind. Dan probeer ek uit die bed klim, maar het op ’n manier my arm morsdood geslaap. Net as jy dink dit kan nie erger raak nie, is daar die oggend-asempie! Ek is stomgeslaan. Wat het deur die nag verkeerd gegaan? Dit is nie asof ek knoffel, koffie en ’n sopie rooiwyn gegorrel het voordat ek in die bed gekruip het nie. Ek het pligsgetrou my tande (twee keer) geborsel, gevlos en in die bed gekruip. Slapende skoonheid het met haar peperment-asempie gaan slaap, net om wakker te word soos Aspoestertjie na ’n lang dag se huisskoonmaak! En die hare … elkeen in sy eie rigting!

Eers skrik ek my bykans morsdood! Daar is iemand agter my in die badkamer! Hartkloppings en koue sweet. “Kalmeer net, vrou, kalmeer!” stel ek myself gerus, want dis net ek en dis net my woeste bossiekop. En dan daardie eerste behoorlike kyk in die spieël, terwyl ek tande borsel … Ek moes seker ’n vreeslike droom gehad het as ek kyk na die plooie wat oornag bygekom het. G’n wonder ’n mens se sig raak swakker soos die jare aanstap nie, want jy moet die plooie probeer miskyk! Hoe my man nog met ’n skoon gewete in die oggend my wakker kan soen met die woorde “Ek het darem die heel mooiste vrou” weet geen mens nie.

Óf hy lieg maklik, óf dit het te make met die ouderdom, óf dit is net wat liefde doen. Ek lag vir myself terwyl ek daar in die badkamer staan. Dit is inderdaad wat liefde doen.

Liefde laat ons sagter na mekaar kyk. En as jy al so ’n bietjie langer op die aarde is, besef jy dat daardie sagter kyk nie altyd so maklik kom nie, maar wel met tyd. Dit is veral moeiliker wanneer ’n mens jonger is, of wanneer ’n verhouding nog jonk is of wanneer dit nie meer jou eerste verhouding is nie. Dan is die geduld maar min en kan ’n mens gou vurig oor ’n saak raak. Dit het my laat dink aan wanneer ons as mense met mekaar baklei.

Waarom is ons so gou om mekaar in die rooi te druk? Daardie “brinkmanship”, wat ons in Afrikaans “risikobeleid” noem. Wanneer ons dadelik en so gou as moontlik na die uiterste gaan met ’n argument. Ons sien dieselfde verskynsel ook in debatte wanneer persone nie om dieselfde vuur sit nie. Hoe vinnig en aggressief ’n argument tot op die rand van konflik gestoot kan word, om die ander persoon te intimideer totdat hulle besluit om eerder net terug te trek.

Die rede, in alle waarskynlikheid, is omdat ons instinktief weet die vinnigste manier om beheer oor ’n situasie te neem, is om dit tot by oorlewingsmodus te druk. Let wel dat instink ook beteken dit is ’n baie primitiewe manier van doen. Alle kompleksiteit word uit die weg geruim en verminder tot wit-en-swart. Die slegte kant daarvan is dat wanneer ons ons kritiese denke dag vir dag verlaag tot ’n oorlewingstryd-denkpatroon, ons hierdie tipe denkwyse en gedrag as normaal aanvaar en regverdig. Dan begin ons ook so funksioneer in ons verhoudings met geliefdes, ander rondom ons en in besigheid.

Dit is dan wanneer ons dit verloor wat ons van ’n primitiewe wese onderskei: ons empatie, moraliteit, etiek en ons liefde vir ons naaste. Ons verloor ons wysheid en begin soos dwase met mekaar en met die lewe omgaan.

Dit is met goeie rede dat Mark Twain eenmaal gesê het: “Moet nooit met ’n dwaas in ’n woordewisseling betrokke raak nie, want hy sal jou aftrek tot op sy vlak en jou klop met ervaring.” Want dit is wat dwase doen.

Nie alles in die lewe is ’n stryd om oorlewing nie. Dit is waarom liefde die grootste gebod bly. Niks wat in liefde geskied, kan ’n ander skade doen nie. Liefde is die grondslag vir alles goed – vir rede, integriteit en regverdigheid.

Mag ons leer om sagter na mekaar te kyk. Om intelligente, weldeurdagte en ingeligte gesprekke met mekaar te voer. Mag wysheid nooit by ons ontbreek nie. En wanneer ons leiding gee, mag dit altyd met insig en in liefde wees.

Strauss is ’n skrywer en motiveringspreker.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-73-03-Jul-2026.pdf

Gewilde Nuus

Untitled design (9)

R1,1 miljoen se konsultasiegeld vir bergingsfasiliteit wat nie staan nie

Untitled design (7)

DA eis NVG moet verduidelik oor Matlala-ooreenkoms

Untitled design (6)

Dié SAID-vorm is verpligtend, maar werk nie

Internasionale Perspektief nuut

VSA kan steeds die land van vryheid én tuiste van die dapperes wees

Koos Malan

VSA se buitelandse beleid terug op koers

Ander Nuus Artikels

Untitled design (11)
3 000 kruise in September voor Withuis opgerig
Untitled design (10)
TLU SA: Daar lê ’n reusetaak voor
Untitled design (9)
R1,1 miljoen se konsultasiegeld vir bergingsfasiliteit wat nie staan nie
Untitled design (7)
DA eis NVG moet verduidelik oor Matlala-ooreenkoms
Untitled design (6)
Dié SAID-vorm is verpligtend, maar werk nie

Luister nou