Luister nou

Met Merkel-toekenning wys die EU hoe toondoof hy geword het

Deur Pretoria FM Nuusspan

Jaco Kleynhans

Die Europese parlement in Straatsburg het Dinsdag die eerste European Order of Merit aan die voormalige Duitse bondskanselier, Angela Merkel, toegeken. Die nuwe orde is onder andere ook aan die Oekraïense president, Wolodimir Zelenski, en die voormalige Poolse leier, Lech Wałęsa, toegeken. Dié nuwe orde, ingestel deur die Europese Unie (EU) – wat nie ʼn nasionale regering is nie, maar eerder ʼn kontinentale samewerkingsorganisasie behoort te wees – is weinig meer as ʼn pseudo-aristokratiese poging van die EU in ʼn tyd waarin skeptisisme oor die agenda van die groeiende Brusselse burokrasie in byna elke Europese land toeneem.

Hierdie nuwe “orde” is ʼn belediging vir miljoene Europeërs wat daagliks die gevolge van Merkel se sestien jaar lange invloed binne die Europese Raad en die EU aan hul sakke én in die dramatiese veranderinge op hul vasteland ervaar. Die EU was oorspronklik bedoel om ʼn doeane-unie te wees, maar het oor die afgelope paar dekades ontwikkel tot ʼn magtige supranasionale instelling wat beleid oor immigrasie, klimaat, landbou, handel, arbeid en talle ander terreine op lidlande afdwing. Merkel was instrumenteel in die verlies aan nasionale soewereiniteit in Europese lande, die instroming van miljoene onwettige immigrante onder die dekmantel van “vlugtelingstatus”, en ʼn reeks rampspoedige ekonomiese beleidsrigtings.

In Duitsland het Merkel kernkragstasies laat sluit, wat tot ʼn skerp toename in energiekoste gelei het. Die huidige Duitse regering het reeds erken dat hierdie sluitings ʼn ernstige fout was. Merkel se tydperk as kanselier is verder gekenmerk deur onvoldoende investering in infrastruktuur, wat groot probleme vir die Duitse spoorwegnetwerk veroorsaak het. Sy het ook swak ministers van verdediging aangestel en versuim om Duitsland se weermag te versterk, wat tot die huidige toestand van die Duitse weermag bygedra het. Haar beleid rakende landbou was eweneens uiters nadelig vir Duitse boere.

Merkel sal waarskynlik altyd onthou word vir haar beroemde uitspraak: “Wir schaffen das”, in 2015, toe sy die deure vir massa-immigrasie uit veral Sirië maar uiteindelik ook ander Midde-Oosterse lande oopgestel het. Sedertdien het miljoene nie-Europeërs hulle in Europa gevestig. Dit het nie net ingrypende demografiese veranderinge meegebring nie, maar ook ʼn skerp toename in misdaad wat deur immigrante gepleeg word. Massa-immigrasie dra toenemend by tot maatskaplike onrus, geweldige druk op welsynstelsels, skole en behuising. In Duitsland, soos elders in Wes-Europa, lei massa-immigrasie reeds tot parallelle samelewings, mislukte integrasie en ʼn groeiende kloof tussen die politieke elite en ʼn toenemend gefrustreerde burgery wie se gemeenskappe deur massa-immigrasie verander word.

Die Minsk-ooreenkomste van 2015, waarby Merkel direk betrokke was, was veronderstel om ʼn toekomstige oorlog tussen Oekraïne en Rusland te voorkom. Uiteindelik het dit egter die teenoorgestelde bewerkstellig. Merkel het later self erken dat die ooreenkomste deels bedoel was om tyd te wen. Dit het dus ʼn vals gevoel van stabiliteit geskep.

Merkel word vandag geassosieer met ʼn nalatenskap van deïndustrialisasie in Duitsland, ʼn langdurige ekonomiese stagnasie, stygende energiepryse en sleutelbedrywe, soos die chemiese en motorvervaardigingsbedrywe, wat in ernstige krisisse verkeer. Duitsland, eens ʼn toonbeeld van fiskale dissipline, worstel nou met groeiende begrotingstekorte, minimale of geen ekonomiese groei en dalende uitvoere.

Terwyl die Europese Unie eerder afstand behoort te doen van die rampspoedige Merkel-era, het die burokrate in Brussel besluit om presies die teenoorgestelde te doen. Die toekenning van die nuwe orde aan Merkel herinner ʼn mens aan talle soortgelyke eerbewyse in Europa se geskiedenis wat deur vorste en konings toegeken is terwyl die tekens van beskawingsverval reeds sigbaar was.

In Duitsland verloor Merkel se Christen-Demokrate (CDU) toenemend steun. Die party se steun het die afgelope week tot 22% gedaal, terwyl die regse Alternative für Deutschland (AfD) nou volgens verskeie peilings gemaklik voorloop met sowat 29% steun. Dieselfde tendens is sigbaar in talle ander Europese lande. In Frankryk word president Emmanuel Macron steeds deur die elite as ʼn groot staatsman voorgehou, terwyl sy steun tot minder as 20% gedaal het.

Uiteindelik sal die EU se besluit om hierdie nuwe “orde” – wat in wese maar ʼn moderne goue kalf is – te skep waarskynlik by die stembus verwerp word. Hierdie verskuiwing sal waarskynlik reeds vanjaar in verskeie deelstaatverkiesings in Duitsland sigbaar word en volgende jaar in die Franse presidensiële verkiesing verder momentum kry.

Europa verkeer tans in ʼn diepgaande krisis, en om een van die figure wat volgens baie kritici ʼn beduidende rol in dié krisis gespeel het, daarvoor te vereer, is nie net dwaas nie, maar ook tekenend van ʼn politieke orde wat sy voeling met die gewone burger verloor het. Die uiteindelike gevolg sal waarskynlik politieke verandering deur die stembus wees – of, in meer ekstreme omstandighede, deur groter maatskaplike onrus.

Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/05/Uitgawe-67-22-28-Mei-2026.pdf

Gewilde Nuus

Untitled design (30)

Duisende moet nog toelaagkaarte omruil

Ernst Roets

Sokkerballe of kruise?

UNISA

UNISA: Minister moet ingryp

Willie Spies

Spies ingesweer as raadslid

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 28 Augustus 2026

Ander Nuus Artikels

Padlangs
Wees lig!
Internasionale Perspektief nuut
VSA kry oorhand oor Iran
Untitled design (31)
Ek staan hier sonder hare of borste
Untitled design (30)
Duisende moet nog toelaagkaarte omruil
Ernst Roets
Sokkerballe of kruise?

Luister nou