Luister nou

Hart en houtskool

Deur Redaksie

Alta Strauss

Met ’n stuk houtskool in my regterhand en ’n groot vel Fabriano-papier voor my, sit ek in die kunsklas. Ons behandel die teorie van monochrome houtskool-skilderwerk. Ek is verstom oor die korrelasie tussen hierdie besonderse kunsvorm en digkuns. Hoe die beperking van skadu en lig, net soos met woorde, die vermoë het om komplekse boodskappe of idees in eenvoud tog so presies uit te druk.

Ek dink aan digkuns en waarom ek so lief is vir en in totale verwondering is oor die krag van woorde. Ek dink aan die kuns van artikulasie. Om jou akkuraat en noukeurig uit te druk. Die kapasiteit en vaardigheid om moeilike of veelvlakkige gedagtes in ’n versreël vas te vang. Dit te stroop van al die weggooi-sinne. Die dinge wat dit probeer inkleur en dit dan uiteindelik grys en niksseggend te laat. Die kuns om daardie een woord te vind, met paragrawe daarin opgesluit. Die kuns van monochroom.

Ek dink aan Paulus se woorde en hoe, sonder daardie diep skadu’s, dit onmoontlik is om verhelder te word en in wysheid te wandel.  Hoe hy skryf dat ons geestesoë so moet verhelder dat ons kan wéét watter hoop die Here se roeping inhou, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo (Efesiërs 1). Hoe hierdie begrip en insig net met ’n bewustheid van skadu kom en begryp waarom ons nie altyd hierdie wysheid in besit kan neem nie, want dit is moeilik om eg en rou na onsself te kyk.

Dit is makliker om net volkleur en naïef deur die lewe te gaan, maar daardeur mis ons soms geheel en al die wonderlike hoop wat ons in Christus het. Ons verbeel en oortuig ons dat daar net goed en geen potensiaal vir sleg in ons is nie. Ons oordeel die skadu in ander. As dit egter die geval was, sou ons dan genade nodig gehad het, en wat sal die doel van geloof en hoop dan wees?

Alleen, wanneer ons eerlik met onsself is en die skadu in onsself erken, dit duidelik artikuleer en dit sê net soos dit is, besef ons die kosbare geskenk wat ons in Jesus Christus ontvang het. Dan verstaan ons die kruisiging en die opstanding. En waarom Jesus gesê het dat dié wie se sonde baie was en vergewe is, baie liefde bewys, maar die van wie min vergewe is, min liefde bewys.

Ek lees dit weer en besef dat daar eintlik net twee soorte mense in hierdie wêreld is: dié wat die genade van die Here nodig het en dié wat nie weet net hóé nodig hulle die genade van die Here het nie. Ek besef dat in die afwesigheid van spreekwoordelike kleur, jy gedwing word om eg, eerlik en in eenvoud, sonder fieterjasies, na jou hart te kyk. Dit waarlik te deurgrond. Ten volle bewus te wees van die spanning tussen lig en donker in jou binneste.

Net soos met houtskoolwerk is hierdie donker en lig uiters komplekse tone, maar terselfdertyd ook ’n proses waar vergifnis en genade aan jou betoon word. ’n Kans om terug te gaan waar jy tekort geskiet of fouteer het. Reg te maak. Te ervaar. Te leer. Te groei.

Niemand van ons hou van die skadu’s in ons lewe nie. Tog is dit nodig om bewus te wees van hierdie skadu’s, sodat ons verhelder mag wees en deur God se genade oor die vermoë kan beskik om hierdie skadu’s te bestuur en nie daardeur bestuur word nie.

Ek vermoed dat net soos woorde, houtskool my ook nog baie van myself en die lewe gaan leer.

Strauss is ’n skrywer en motiveringspreker.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek-https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-75-17-Jul-2026.pdf

Gewilde Nuus

Thoughtful Portrait Among Bookshelf Shelves

Nee Kemp, regses is ook onverdraagsaam

Senzo Mchunu - The Witness

Die OB ondersoek Senzo Mchunu

Fotokrediet: Checkatrade

Die Tshwane-metro wil die krag teen vanaand herstel

Siviwe Gwarube - Daily Maverick

Minister word aangewys as een van TIME se 100 Next-leiers vir 2026

Israelse vlug - France 24

Israelse passasiers het ‘n noue ontkoming tydens vlug

Ander Nuus Artikels

Willie Spies
VF Plus soek kundiges om kragonderbrekings te bekamp
Graffiti-logo-nuut
Graffiti-boekeblad 2 Oktober 2026
Fotokrediet: The Citizen
Tshwane-metro bied spesiale vlugte vir bejaardes by lughawe
Thoughtful Portrait Among Bookshelf Shelves
Nee Kemp, regses is ook onverdraagsaam
Senzo Mchunu - The Witness
Die OB ondersoek Senzo Mchunu

Luister nou