Luister nou

Druppels word strome, strome word riviere: KragDag 2026 bou momentum

Deur Redaksie

KragDag keer van 6 tot 8 Augustus 2026 terug na Diamantvallei Landgoed, Pretoria, met ’n tema wat die hart van die ekspo se verhaal raak: “Druppels word strome, strome word riviere.”

Verlede jaar het sowat 32 000 besoekers en ongeveer 620 uitstallers oor drie dae by KragDag saamgekom. Vanjaar bou die ekspo op daardie momentum voort met ’n tema wat herinner aan ’n eenvoudige waarheid: Groot dinge begin klein.

Dis hoe ondernemings groei. Dis hoe gemeenskappe sterker word. Dis hoe nuwe vaardighede aangeleer word. En dis hoe momentum gebou word.

Hierdie gedagte lê van die begin af aan die hart van KragDag. Wat meer as agtien jaar gelede as ’n beskeie inisiatief begin het, het oor die jare gegroei tot ’n jaarlikse byeenkoms waarheen mense kom om te leer, idees uit te ruil, praktiese oplossings te ontdek en mekaar aan te moedig om verder te bou.

KragDag is daarom trots om ook sy Vaandelborge vir 2026 aan te kondig: Sakeliga, NEASA, ATTSA, ontbytSAKE, Pretoria FM, AP Akademie, City Gates en Rural Maintenance. Hierdie organisasies kom uit uiteenlopende bedrywe, maar deel ’n oortuiging dat voorsorg, eie verantwoordelikheid, ondernemingskap en sterk gemeenskappe die grondslag lê vir volhoubare groei.

“Ons leef met die verwagting dat groot verandering met groot dade begin,” sê HP Steyn, besturende direkteur van KragDag. “Maar die dinge wat werklik waarde skep, begin byna altyd klein. ’n Onderneming begin met ’n idee. ’n Vakman begin as ’n leerling. ’n Gemeenskap word saamgestel uit mense wat hul deel doen. Selfstandigheid groei op presies dieselfde manier. Wanneer baie mense elke dag aanhou bou, leer en verantwoordelikheid aanvaar, ontstaan momentum. En dis uiteindelik waaroor KragDag gaan. Nie groot spronge nie, maar duisende mense wat elkeen hul deel doen.”

Soos altyd bied KragDag weer ’n wye verskeidenheid uitstallers, praktiese demonstrasies, werkswinkels, die Kopskuifateljee, landbou-uitstallings, alternatiewe energie- en wateroplossings, tegnologie, handwerk en gesinsaktiwiteite. Nuut vir vanjaar is ’n toegewyde afdeling vir toerisme, buitelewe, kampeer, 4×4 en avontuur, waar besoekers nuwe bestemmings, toerusting en ervarings vir die oop pad en die buitelewe kan ontdek. Dit is ’n plek waar idees in praktyk omskep word, waar mense by mekaar leer en waar nuwe samewerking ontstaan.

KragDag 2026 nooi almal uit wat glo die beste manier om die toekoms tegemoet te gaan, is om vandag reeds te begin bou.

Want dis hoe momentum gebou word.

 

Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweekhttps://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-76-24-Jul-2026.pdf

Gewilde Nuus

Untitled design (23)

Wie is Brittanje se nuwe eerste minister?

Untitled design (22)

Jy hoef nie jou boorgat te registreer nie

Untitled design (21)

Vermiste vliegtuig ná 74 jaar gevind

Untitled design (20)

Jagluiperds na Zambië verskuif

Internasionale Perspektief nuut

VSA stoot terug teen Chinese invloed op elke vasteland

Ander Nuus Artikels

Untitled design (26)
Kom kyk hoe word ’n RWB Porsche gebou
Untitled design (25)
Naboomspruit gaan DorpToe!
Untitled design (23)
Wie is Brittanje se nuwe eerste minister?
Untitled design (22)
Jy hoef nie jou boorgat te registreer nie
Untitled design (21)
Vermiste vliegtuig ná 74 jaar gevind

Luister nou