Seugnet van Zyl
Willie Spies, ’n prokureur by Hurter Spies, sê hy was bitter kwaad om te sien hoe Steenhuisen reageer op die hofgeding wat aan die gang gesit is deur organisasies wat mense verteenwoordig wat tans in ’n totale verknorsing sit weens die uitbreking van die verwoestende en uiters aansteeklike veesiekte bek-en-klouseer (BKS).
Spies het ’n video van Steenhuisen op sy Facebookblad gedeel waar hy praat oor die regsaanmaning en dreigende hofaksie van SAAI, Vrystaat Landbou en Sakeliga. Dié drie organisasies het verlede week ’n regsaanmaning aan Steenhuisen gerig in reaksie op die staat se voortslepende versuim om ’n werkbare, regmagtige en doeltreffende reaksie op die BKS-krisis in werking te stel. Dié video het wyd reaksie ontlok en honderde mense het daarop kommentaar gelewer.
“Die bek-en-klouseerkrisis is regtig ’n tragedie. Dit is nie net ’n landbouramp nie, maar ’n menslike ramp wat besig is om af te speel.”
Steenhuisen moes ingevolge die regsaanmaning teen verlede Vrydag skriftelike bevestiging gee dat veeboere en die private sektor bek-en-klouseer-entstowwe self kan bekom en in samewerking met staats- en privaat veeartse dit mag toedien om hulle kuddes te beskerm. Steenhuisen se antwoorde het nie aan dié organisasie se vereistes voldoen nie. Hy het voorts nie gehoor gegee aan dié sperdatum nie en daarom sal litigasie nou volg.
Spies sê Steenhuisen se bewering dat SAAI, Vrystaat Landbou en Sakeliga se dreigende regsaksie teen hom die uitrol van die regering se entstofprogram teen BKS met ’n maand sal vertraag, “loutere onsin” is.
“Hofaansoeke vertraag nie staatsbedrywighede nie. Dit werk eenvoudig nie so nie. ’n Interdik wat verkry word, vertraag ’n proses. Dit is glad nie wat ons beoog nie. Hy het klaarblyklik ’n totale wanbegrip van hoe hierdie goed werk.
Spies bestempel Steenhuisen se reaksie as waansinnig.
“Die opgeneemde, geoefende toesprakie wat Steenhuisen op sosiale media gedeel het, is ’n gepoleerde weergawe van ’n uiters arrogante en onvanpaste informele vroeëre reaksie deur Steenhuisen waarin hy sy ongeërgdheid oor die krisis laat blyk en die litigante uit die landboubedryf die skuld wil gee vir verdere vertragings. So ’n reaksie op ’n katastrofe in die landbou is van alle integriteit gestroop en beklemtoon Steenhuisen se onbevoegdheid om die pos te beklee.”
Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, het Woensdag gesê dié organisasies konsulteer nog oor die jongste verwikkelinge, insluitend die klaarblyklike inmenging van die departement van Landbou en Steenhuisen by die kontrak tussen die Argentynse vervaardiger van BKS-entstowwe en die Suid-Afrikaanse maatskappy wat dit sou invoer en versprei.
Design Biologix, die Suid-Afrikaanse maatskappy wat as tussenganger die BKS-entstowwe van Argentinië plaaslik sou invoer en versprei, het Maandag bekendgemaak dat hulle ’n e-pos van Biogénesis Bagó, Argentynse BKS-entstofvervaardiger, ontvang het wat lui: “Ná ons ontmoeting met die minister en verskeie departementele amptenare op 22 Januarie, is dit duidelik aan ons gekommunikeer dat hulle verkies dat ons direk sonder enige tussengangers met hulle saamwerk en dat Design Biologix nie as agent moet optree nie. Ons trek daarom formeel die magtiging, wat voorheen tussen dié twee partye onderteken is, terug.” Dit het gevolg op Steenhuisen se volgehoue verset teen die verspreiding van entstowwe deur privaat instansies.
Steenhuisen het met sy verskyning Dinsdag by ’n portefeuljekomiteevergadering oor landbou dit verder duidelik gemaak dat hy die enigste koper van alle entstowwe in die land wil wees.
Volgens Le Roux bemoeilik die jongste verwikkelinge die uitreiking van hul hofstukke, omdat dit ook in ag geneem moet word.
Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou, sê hy is uiters gefrustreerd met hoe sake tans staan.
Wilken sê as Steenhuisen wil aanbly as die minister van Landbou, “moet hy begin optree soos die minister van Landbou. Hy moet sy arrogansie beheer en sy deur oopmaak vir meer rolspelers in die landboubedryf. Ek soek ’n gesprek met hom, waar ek hom in die oë kan kyk en kan konfronteer oor die goed wat hy doen.”
Wilken sê Steenhuisen se plan om die land binne die volgende tien jaar BKS-vry te hê en 70% van die nasionale kudde in die volgende jaar in te ent, is gebrekkig omdat dit geen tydlyne verskaf nie en daar geen aanduiding is hoe dít gedoen sal word nie.
Volgens hom lei veeartse in Argentinië boere op om self hulle vee in te ent en stel voor dat sulke opleiding hier ook toegepas moet word, omdat daar ’n tekort aan staats- en private veeartse is.
“Suid-Afrika het nou 12 miljoen dosisse nodig. Ons sit met ’n burokratiese regering wat nog vergaderings hou en rond en bont gesels om te kyk wat hulle nou kan doen. Dis die frustrasie.”