WNDK

Deur on

Sondag met Este

CH2 het vanjaar die AITSA gewen vir die beste instrumentale snit, Simone. Dit is van hulle album Rome. Hulle is reeds besig met opnames vir hulle nuwe album, so nuut dat hulle nog nie eers ‘n naam daarvoor het nie… #WNDK sorg weer dat jy heel eerste na die musiek kan luister. Luister eksklusief na een van hulle opnames wat eers amptelik oor ‘n paar maande vrygestel gaan word.
In WNDK kuns praat dr. Louisemarié Combrink, seniorkunsgeskiedenisdosent aan die NWU oor die ontdekking, en restorasie van ‘n werk Susanna en die ouderlinge deur die Italiaanse Barokkunstenaar Artemisia Gentileschi.
Esté Gross praat met Johan van Rensburg oor die nalatenskap van die Alibama-studentegeselskap wat 80 jaar gelede gestig is as boeremusiekgroep.
Die groep het oor die jare baie veranderinge ondergaan en het ‘n groot rol gespeel om die skoolrevue kultuur , wat steeds vandag by skole gewild is, te laat posvat. Luister saam na van hulle bekende opnames. Die Alabama-studentegeselskap ontvang daarom vanjaar die FAK prestige-toekenning by vanjaar se Afri-duetfees vir die groep se dekadeslange bydrae tot die Afrikaanse musiekskat en die onuitwisbare spoor wat die groep op ons musieklandskap gelaat het.
Dr. Louisemarie Combrink, seniorkunsgeskiedenisdosent aan die NWU, praat oor die ontdekking van grotskilderye uit die Paleolitiese era in Spanje.
Esté Gross praat met die direkteur van die nuutgestigte Legato Choral Festival and Awards, Tiaan Ras, oor die belangrikheid daarvan om erkenning te gee aan Suid-Afrikaanse kore, komponiste en dirigente. Sy praat ook met die koororganiseerder Maralie Theron, wat ‘n Legato-Toekenning ontvang het vir haar bydrae tot die Suid-Afrikaanse koormusieklandskap.
Dr Louisemarié Combrink, seniorkunsgeskiedenisdosent aan die NWU, praat oor ‘n opwindende en boeiende uitstalling wat vanjaar by die die Metropolitaanse kunsmuseum geopen het. Van groot belang is die bekende skildery Olympia uit 1863 deur Edouard Manet. Sy praat oor haar oë en die magspel wat inherent is aan haar kykhandeling.
Esté Gross gesels op Erfenisdag met Marleen Boshoff oor die Playford Plaas Partytjie, ‘n musiek en dans program saamgestel uit die 1651 publikasie Playford’s Dancing Master. Vind meer uit oor die musiek, kostuums en die unieke choreografie van die danse. Die dansers en orkeslede praat ook oor waarom hulle besluit het om betrokke te raak by die projek.
Dr. Louisemarié Combrink, seniorkunsgeskiedenisdosent aan die NWU praat oor wat kuns betekenis gee. Wat is dit wat ons so trek na ʼn werk, en ons boei, en ons na voller, meer verruimde mense laat voel? Wat maak dan dat jy viervoet vassteek voor ʼn skildery, na hom staar met ʼn effe glasige uitdrukking, so asof jy so pas ʼn hogere openbaring ervaar het?
September is wêreldwyd Alzheimer maand. Dit is algemeen bekend dat musiekterapie voordelig aangewend kan word om mense wat met Alzheimer’s en dimensie leef, se lewensgehalte te verbeter. Esté Gross vind meer uit oor hoe die terapie aangepas word vir elke pasiënt se individuele behoeftes en hoe so ‘n musiekterapiesessie aangepak sal word. Sy praat met Welma Geldenhuys van die Vereniging vir Dimensie en Alzheimer’s van Suid-Afrika en ‘n musiekterapeut, Liesl du Plessis.
Dr. Louisemarié Combrink, senior kunsgeskiedenisdosent aan die NWU, praat oor ‘n skildery deur Vincent van Gogh wat uit ‘n museum in Nederland gesteel is tydens die Covid-pandemie in Maart 2020. Die skildery is in Maart vanjaar terugbesorg deur ‘n anonieme persoon. Die werk heet Die pastorietuin te Nuenen in die lente of dan “The Parsonage Garden at Nuenen in Spring”. Die skildery is in borrelplastiek, in ʼn winkelsak gebring na die huis van ʼn privaatspeurder wat in kunsdiefstal en -misdaad spesialiseer.
Esté Gross praat met die liedjieskrywer en sanger Jannie du Toit en die dirigent van die FAK-Jeugsimfonieorkes, Jaco van Staden oor ‘n spesiale Erfenisdagkonsert op 24 September by die Voortrekkermonument waar Jannie en Christa Steyn se musiek gevier word. Hulle musiek het oor die jare deel van die Afrikaanse musiekskat geword.
Dr. Louisemarié Combrink, senior kunsgeskiedenisdosent aan die NWU praat oor ikoniese Dawid-standbeeld van die Italiaanse meester Michelangelo Buonarroti (1475-1564) wat in Florence gehuisves word. Die werk het vroeër vanjaar die nuus gehaal toe ʼn onderwyser van die Amerikaanse dorp Tallahasee ʼn foto van die beeld vir skoolkinders gewys het – sonder om die ouers vooraf te waarsku dat die kinders aan ʼn beeld van ʼn naakte man blootgestel gaan word. ʼn Debakel het gevolg en die skoolhoof het bedank.
Esté gesels met Arina de Witt oor haar loopbaan, van haar eerste groot treffer, Rietjiesfluit. Sy praat ook oor haar liefde vir ‘n wyd verskeidenheid van genres, waarom sy steeds elke oomblik op die verhoog geniet en haar planne vir die toekoms.
WNDK – Kuns:
Dr. Louisemarié Combrink, senior kunsgeskiedenisdosent aan die NWU, praat oor ‘n skildery van die Amerikaanse skilder NC Wyeth, wat vir $4 in ‘n pandjieswinkel opgeraap is. Die skildery is na raming sowat $250 000 werd.
Die sopraan, Vita Wilkens gesels oor die produksie Shaken not Stirred, wat op 2 September, op Internasionale Aasvoël bewustheidsdag by die Atterbury Teater plaasvind. Die musiekproduksie van filmmusiek bestaan uit musiek spesiaal verwerk vir drie stemme en twee klaviere. Die sangers is die baritonne Dewald Grobler en Johan Schlebusch en pianiste Catrien Wentink en Chanie Jonker. Luister ook na nuwe klassieke musiek vrystellings.
dr. Louisemarié Combrink, seniorkunsgeskiedenisdosent verbonde aan die NWU vertel meer oor gesteelde kunsartefakte…
Die sangeres Veramarie kuier op WNDK. Sy vertel oor opwindende nuwe projekte. Luister eksklusief na haar nuwe opnames van volksliedjies.

 Dr. Louisemarié Combrink, senior kunsgeskiedenisdosent aan die NWU, praat oor die leunende toring van Pisa wat in Augustus 850 jaar oud is. Die konstruksie van die toring is op 9 Augustus 1173 begin en is oor ‘n tydperk van twee eeue voltooi.
Die Suid-Afrikaanse dirigent en musikant Richter Grimbeek praat oor die ryk musiekkultuur in Oostenryk. Luister ook hoe lekker sing die Oostenrykers Anton Goosen se Klein bietjie wyn…

dr. Louisemarié Combrink, kunsgeskiedenisdosent aan die NWU gee raad oor hoe jy jou skilderye kan hang.
WNDK – Die sangeres Nianell praat oor hoe sy inspirasie put uit verskillende musiekgenres wanneer sy musiek skryf. Sy deel diep sake van die hart, praat oor haar pad wat sy gestap het om vertroud te raak met haar eie stem en vertel meer oor haar werk as mentor. In die onderhoud praat sy ook terugskouend oor die beginjare van haar loopbaan met die internasionale treffer Who painted the Moon Black, deel musiek van haar nuwe album en praat oor opwindende planne vir die toekoms.

WNDKuns – Dr. Louisemarié Combrink, senior kunsgeskiedenisdosent dosent verbonde aan die NWU praat in die insetsel WNDK- KUNS oor kuns wat na die maan gestuur word, en artefakte wat reeds op die maan is. Theartpaper.com berig oor ‘n nuwe ruimteprojek wat ten doel het om duisende kunswerke na die maan te stuur. Die projek word die maankodeks of Lunar Codex genoem en is geloods deur die wetenskaplike en wetenskapsfiksieskrywer, Benjamin Sutton.

Die Tygerbergkinderkoor spog tans op die wêreld Interkultur-lys van kore met die eerste plek as kinderkoor, en is naas die Stellenbosch Universiteitskoor, die beste koor in die wêreld. Daarby, vier hulle ook vanjaar hulle 50ste bestaansjaar. Die stigterslid van die koor Hennie Loock vertel self oor die beginjare saam met sy vrou, die begeleier Theresa Loock. Die hoë standaard van koorsang word sedert 2019 voortgesit deur die dirigent Karina Erasmus en begeleier, haar dogter Madri Gerber. Karina het diep gaan krap in die Tygerbergkinderkoor se argief, en deel skaars opnames met Esté Gross op WNDK. Hoor eksklusief en vir die heel eerste keer ‘n splinternuwe opname wat eers in Augustus vrygestel word. Karina deel ook opwindende planne wat vir die koor in 2024 voorlê.
dr. Louisemarié Combrink, senior kunsgeskiedenisdosent aan die NWU praat oor kunsmatige intelligensie in die kunste en elders, en hoe empatie een van die teenvoeters daarvan is.
Die bekroonde komponis en dirigent Pieter Bezuidenhout kuier in die ateljee en praat oor sy kreatiewe proses en nuwe projekte waarmee hy besig is.
Este kuier saam met die keltiese harpspeler Gerdes Olivier (ook bekend as GT Oliver). Hy illustreer hoe veelsydig die instrument is en verduidelik hoe die keltiese harp verskil van die klassieke harp. Luister ook na sy komposisie Whispers of the Calling Ocean, wat gekies is as 2023 AITSA finalis in die kategorie – instrumentale snit van die jaar.
dr. Louisemarié Combrink praat oor ʼn gebou deur die argitek Frank Gehry, die Bilbao Guggenheim in die stad Bilbao in Spanje. Dit is in 1997 in gebruik geneem en is geleë op die Nervionrivier.
Este Gross gesels met die pianis en komponis Riaan Eloff
dr. Lousemarié Combrink praat oor hoe fotografie as kunsvorm ontwikkel het en praat oor fotograwe wat se werk besonder boeiend is
Wat gebeur in die brein wanneer jy musiek maak? Beleef ‘n interaktiewe musiekmeesterklas wanneer dr. René Human, afgetrede dosent van die Universiteit van Pretoria van die Departement Musiek, met Esté Gross gesels. Sy illustreer hoe musiek die brein stimuleer en die invloed wat dit op die breinontwikkeling van veral die ouer volwassene het.
dr. Louisemarié Combrink, seniorkunsgeskiedenisdosent aan die NWU, praat oor ‘n brief van Charlotte Corday, die berigte sluipmoordenaar van die bekende politikus en joernalis van die Franse revolusie, Jean-Paul Marat (1743-17-93). Die geskiedkundige sluipmoord en brief gee aanleiding tot die bekende skildery Dood van Marat van die neo-klassieke skilder Jacques-Louis David (1748-1825) en word vandag beskou as een die bekendste propagandawerke van alle tye.
Die Salon Boys van Pretoria Boys High School is in 2013 gestig deur die dirigent Philip Loots. Esté Gross vier saam met die ensemble ‘n dekade van musiek, en vind uit wat die genre van Salon-musiek behels.
Op Vadersdag deel dr. Louisemarié Combrink, seniorkunsgeskiedenisdosent van die NWU interessante inligting oor ‘n kunswerk van Rembrandt Hamerzoon van Rijn se monumentale werk Verlore seun uit 1633-1669. Volgens dr. Combrink is dit ‘n kunswerk wat die vaderlike deernis en ‘n kind se versugting na aanvaarding op ‘n unieke en treffendee manier uitbeeld.
Die talentvolle pa en dogter, die sanger Rouel Beukes en Nadia Beukes kuier saam met Esté Gross op #WNDK. Luister heerlik saam na duete wat hulle saam opgeneem het. Rouel lees ook ‘n gedig voor wat hy vir sy kleinkinders geskryf het.
dr. Louisemarié Combrink, seniorkunsgeskiedenisdosent aan die NWU praat oor beroemdes en glansrykes, akteurs en sangers, wat ook bekendheid verwerf het as visuele kunstenaars. Sy praat onder andere oor Pierce Brosnan en Joni Mitchell se kunswerke.
Onderhoud:
Die pianis, pedagoog en dosent, professor Pieter Grobler van die Universiteit Stellenbosch, praat met Esté Gross oor sy passie om studente se talent te ontwikkel, die kuns van begeleiding en opwindende projekte wat voorlê. Hoor ook heel eerste van nuwe klassieke vrystellings en bly op hoogte van klassieke uitvoerings in die konsertgids.
dr. Louisemarié Combrink, seniorkunsgeskiedenisdosent aan die NWU, praat oor twee klein Rembrandt-portrette wat in ‘n privaatversameling gevind is, en sy Nagwag wat deur middel van kunsmatige intelligensie gerestoureer is.
Die sopraan, Amira Willighagen (19) praat met Esté Gross oor haar dekade as professionele sangeres en haar planne vir die toekoms. 
dr. Louisemarié Combrink, seniorkunsgeskiedenisdosent aan die NWU, vertel meer oor die veiling van die werk Spider, deur Louise Bourgeois.  Op 19 Mei vanjaar is geskiedenis gemaak toe die werk Spider deur die Frans-Amerikaanse kunstenaar Louise Bourgeois by Sotheby’s in New York opgeveil is vir $32,8 miljoen, oftewel ongeveer R660 miljoen. Dit is die hoogste prys wat nog vir ʼn beeldhouwerk deur ʼn vroulike kunstenaar behaal is. 
Die klassieke kitaarspeler Charl Lampbrecht praat oor sy “kitaar-in-kleur” metode wat hy ontwikkel het om dit makliker te maak vir studente om die kitaar te bemeester. Twee studente kom kuier ook saam in die ateljee en wys wat hulle alles op die kitaar kan vermag.
Dr. Louise-marié Combrink, seniorkunsgeskiedenisdosent aan die NWU praat Sondag oor die ontdekking van ‘n oorgeskilderde hondjie in Picasso se werk, Le Moulin de la Galette. Die verrassende ontdekking is hierdie week bekendgemaak toe museumkundiges ʼn toegeskilderde, dog skattige skoothondjie ontdek het in ʼn vroeë werk van die Spaanse kunstenaar Pablo Picasso.
Die begeleier, orrelis en pianis Betsie Schaap, en haar twee dogters Lize (violis) en Landi (pianis) kuier in die WNDK ateljee. Die Ma en haar twee dogters praat met Esté Gross oor hulle liefde vir musiek en opwindende projekte wat voorlê.      
 
dr. Louisemarié Combrink, seniorkunsgeskiedenisdosent van die NWU deel interessante nuus uit die kunswêreld, en Elretha Britz, kunsjoernalis hou jou op hoogte van die jongste klassieke uitvoerings in die konsertgids.
Die legendariese soprane Barbara en Michelle Veenemans kuier saam met Esté Gross en gesels oor die Veenemans-familie se kosbaarste herinneringe.
Dr Louisemarié Combrink, seniorkunsgeskiedenisdosent aan die NWU, praat oor ‘n werk van die Oostenrykse Simbolis Gustav Klimt (1862-1918) wat weer in die openbare oog is nadat dit vir 60 jaar as vermis beskou is. Die werk, getiteld Waterslange II is geskilder in 1907. In 1964 het dit verdwyn. Sy vertel meer oor die geskiedenis van die skildery.
Professor Johann vd Sand deel musiek, kultuur en die belangrikheid van sang met ons
Este Gross bring hulde aan die Pianis Dr Anneke Lamont wat op 9 April oorlede is.
 
dr. Louisemarié Combrink, senior kunsgeskiedenisdosent aan die NWU,  praat oor ‘n drama wat hom onlangs in die kunswêreld afgespeel het: ‘n Voormalige Playboy-model is haar verblyfreg in ‘n Italiaanse Villa met ‘n plafonskildery van Carravaggio kwyt. Die villa is nou in die mark, maar niemand stel belang om dit te koop nie…       
Esté Gross praat met die pianis Charl du Plessis oor antieke klaviere en die sentimentele waarde wat daaraan geheg word. Charl deel kreatiewe idees van hoe jy jou ou, vergete klavier ‘n gedaanteverwisseling kan laat ondergaan.
dr. Louisemarié Combrink, seniorkunsgeskiedenisdosent verbonde aan die NWU praat oor ‘n dramatiese dog komiese gebeurtenis uit die kunswêreld toe ‘n vrou van Florida in haar Rolls Royce in ‘n beeldhouwerk, genaamd “Sfinks” van die bekende en berugte Britse kunstenaar Damien Hirst vasgejaag en die werk beskadig het.
Deel 2, finale gesprek met die komponis en dirigent Prof Chris Lamprecht, hy gesels oor sy sekulêre bydra en sy volksliedjies
dr. Louisemarié Combrink, kunsgeskiedenisdosent van die Noord-Wes Universiteit (NWU) praat oor oor die kunste van Picasso
In die onderhoud gesels die komponis en dirigent Prof Chris Lamprecht met Esté Gross oor sy loopbaan, inspirasie en liefde vir Afrikaans. Hy praat ook oor die herkoms van sy bekendste komposisie die Aandgesang.
dr. Louisemarié Combrink, kunsgeskiedenisdosent van die Noord-Wes Universiteit (NWU) praat oor ‘n bekende skildery van Salvidor Dali wat verband hou met Opstandingssondag.
dr. Louisemarié Combrink, kunsgeskiedenisdosent van die Noord-Wes Universiteit (NWU) deel interessante inligting oor Giotto di Bondone se fresco en die uitbeelding van Christus wat Jerusalem binnegaan op die rug van ‘n esel (Palmsondag)
Esté Gross sit haar gesprek voort met die veelbekroonde fluitspeler en tweemalige Grammy-wenner. Wouter Kellerman deel waardevolle lesse wat hy geleer het op die pad wat hy moes stap om vandag as een van die veelsydigste en suksesvolste fluitpelers in die wêreld beskou te word.
Dr. Louisemarié Combrink, kunsgeskiedenis-dosent van die NWU praat oor kunsmatige intelligensie en hoe dit ons verstaan van kuns beïnvloed.
Luister na die eerste deel van Esté Gross se gesprek met die tweemalige Grammy-wenner Wouter Kellerman.
Hy praat oor hoe hy eers op 40 begin het met sy voltydse loopbaan as fluitspelerr en die uitdagings wat hy moes oorkom om vandag een van die bekendste fluitspelers in die wêreld te wees. Sy storie is net weer ‘n bewys – waar daar ‘n wil is, is daar altyd ‘n weg.
Dr. Louisemarié Combrink, kunsgeskiedenis dosent van die NWU Universiteit deel interessante nuus uit die kunswêreld uit en Elretha Britz deel elke week inligting oor konserte in die konsertgids.
WNDK (Wat’s Nuut? Dis Klassiek! wanneer Esté Gross gesels met die dirigent Daniël Keet, die pianis Louis Nel, Gideon Els, dirigent en koormeester en die organiseerder Herman van Niekerk. Hulle vertel meer oor die konsertreeks, Easter Choral Celebration, ‘n konsertreeks van vier uitvoerings met werke van Beethoven en Puccini in April.
Die dirigent Eddie Clayton praat met Esté Gross oor die Disney 100 the Concert produksie deur die Johannesburg Filharmoniese orkes. Hy praat oor wat die klankbane van Walt Disney so besonders maak en hoe die konsert ook ‘n visuele ervaring vir oud en jonk gaan wees.     
Die kunswêreld gons behoorlik nadat ʼn vrou bekend as ʼn kunsversamelaar tydens ʼn kunstefees in Miami per ongeluk ʼn beeldhouwerk met die titel “Blue puppy” deur die stoutseun van eietydse kuns, Jeff Koons, in honderde stukke gebreek het. dr. Louisemarié Combrink, kunsgeskiedenis dosent van die Noordwes-Universiteit praat oor die gevolge van die beeldhouwerk wat vernietig is
Die Kunste Fabriek Orkes kuier in die ateljee en die dirigent Lois Boshoff praat oor die belangrikheid om vir jeug van jongs af die ervaring te kan gee om in ‘n orkes te speel. Vind ook meer uit oor die FAK Jeugorkes en Kaapstad Opera se werkswinkels en projek om jong sangtalent in die platteland op te spoor en te ontwikkel.
Dr. Louisemarié Combrink, Senior dosent en MA-Programbestuurder in Kunsgeskiedenis van die NWU-Potchefstroomkampus praat oor ‘n interaktiewe uitstalling van die Joodse kunstenaar Marc Chagall (1887-1985) waarin jy jouself kan verdiep deur deur die skilderye te loop.
Die Suid-Afrikaanse internasionale pianis Lezanti van Sittert woon tans in Hannover, Duitsland. Sy praat met Esté Gross oor wat dit verg om ‘n internasionale loopbaan as ‘n konsertpianis te bou.
Dr. Louisemarié Combrink, Senior dosent en MA-Programbestuurder in Kunsgeskiedenis van die NWU-Potchefstroomkampus praat oor die afslaerhuis Sotheby’s van Parys se veiling van ʼn privaatversameling van
werke deur die Franse Romantiese kunstenaar Théodore Géricault (1784-1824). Sy praat ook oor die belang van Géricault se werk en die tameletjie van versamel en tentoonstel.
Die ikoniese musiekspel The Phantom of The Opera van die komponis Andrew Lloyd-Webber, se gordyn sak op 18 Februarie na 35 jaar op Broadway.
Skakel die Sondag in vir WNDK wanneer André Schwartz herinneringe van sy rol as Die Skim (Phantom) deel. Hy gesels ook oor nuwe projekte en sy passie om as mentor vir sangers op te tree.
Luister elke week na Esté Gross se keuse van nuwe internasionale klassieke-en crossover enkelsnitte op stroomdienste.
Dr. Louisemarie Combrink deel interessante nuus uit die kunswêreld in die nuwe insetsel Wat’s Nuut? Dis Kuns!
En die joernalis Elretha Britz lig jou in waar jy uitvoerings kan bywoon in die WNDK konsertgids.
Die dirigent en komponis Franco Prinsloo het Sondag op #WNDK gekuier en Esté Gross meer vertel oor die Vox Chamber Choir se nuwe album AETERNUM en die oratorium Kruis van Liefde wat op 15 Maart by Universiteitsoord uitgevoer gaan word.
Die bariton, Chris Vale gesels oor sy loopbaan as opera en liedersanger, sy nuutste opnames, opkomende konserte en sy betrokkenheid by die Legatokoorfees- en toekennings.
Die dirigent van die Magaliesbergkinderkoor, Hannelie van Sittert, gesels oor opwindende projekte wat vir dié wêreldbekende koor voorlê. Hannelie vertel ook meer oor die Internasionale klavierkompetisie MANSH wat onlangs in Suid-Afrika gehou is.
Esté gesels met Anina Wasserman, koloratuursopraan, oor haar loopbaan en opwindende projekte wat voorlê
Die komponis en kitaarspeler Mauritz Lotz kom kuier in die ateljee, maak musiek, en vertel meer oor sy nuwe album Randomocity en opwindende projek saam met die Kaapse Filharmoniese orkes.
Die stigters van Capital Singers, dirigente dr. Michael Barrett en Christo Burger praat met Esté Gross oor Capital Singers en die skouspel wat hulle vanjaar beplan.
Esté Gross kuier saam met vyf klassieke sangers en twee pianiste. Hulle gesels oor hulle passie vir musiek, die rol wat mentorskap in hulle lewe gespeel het en opwindende uitvoerings wat voorlê. Die sangers is Leah Gunther, Christiaan Snyman, Chris Mostert, Andries Aldrich, Tracey-Lee Booyens, pianis en sanger Pierre du Toit en pianis Marius Bierman.

Current track

Title

Artist