Werklike verandering en die uitsprake van politici

Deur on

Nuuskommentaar: 26 Februarie 2024

Deur: Louis Boshoff

Politici in Suid-Afrika kan nie net doen wat hulle wil nie – nie hééltemal nie. Elke politikus, hoe magtig en korrup ook al, se dade word beperk deur gewone indiwidue en gemeenskappe se optrede.

Daar is ’n eenvoudige manier om hierdie stelling te verifieer:

Identifiseer ’n bepaalde politikus. Vra jouself af wat sy sienings is. Beoordeel dan of die persoon sy wil in elke opsig al kon afdwing op die samelewing.

Neem byvoorbeeld die huidige premier van Gauteng, Panyaza Lesufi: ’n politikus van wie dit dikwels voorkom asof hy doen nét wat hy wil. Een van sy sienings is dat daar nie Afrikaanse skole moet wees nie. Tog bestaan daar nog talle Afrikaanse skole. Die rede hiervoor is nie primêr omdat die reg daartoe in die Grondwet verskans is nie. Dit is eerder omdat daar elke dag duisende Afrikaanse ouers, onderwysers en kinders opstaan en bymekaarkom om skool te gaan in Afrikaans. Ongeag wat Lesufi sê of wat in die Grondwet staan.

Ons hoor daagliks talle radikale toesprake en uitsprake van politici op openbare platforms en moet dan oordeel wat om daarvan te maak.

Vir elke uitlating wat politici maak, is daar basies drie moontlikhede:

  1. Die bepaalde politikus het werklik die mag om oor die bepaalde saak te besluit en is nou besig om daardie besluit aan te kondig. Die verandering volg dus onmiddellik.
  2. Die uitspraak van die politikus het nie direkte implikasies nie, maar dit is ’n teken dat die werklike besluit binnekort geneem kan word. Verandering mag in dié geval binnekort volg.
  3. Die uitlating het geen implikasies nie en is slegs gemaak ter wille van ander politieke doelwitte. Geen daadwerklike veranderinge gaan volg nie, maar dit kan kommentaar ontlok.

’n Voorbeeld van die eerste soort uitlating is wanneer die minister van Finansies tydens sy begrotingsrede aankondig dat BTW verhoog na 16%. Jou gepaste reaksie is om bietjie meer spaarsamig te werk te gaan met jou geld, want die besluit is reeds geneem en die verandering volg dadelik.

Die tweede soort uitspraak is wanneer die minister van Gesondheid byvoorbeeld aankondig dat mediesefondsbydraes se belastingkorting geskrap gaan word. Dit klink bedrieglik soortgelyk aan die eerste, maar in dié geval het die betrokke minister nie die gesag om daaroor te besluit nie en is dié uitspraak slegs ’n aanduiding dat hy wil hê die Tesourie moet ’n bepaalde besluit neem. Jou gepaste reaksie is om die besluit teen te staan terwyl daar geleentheid is. Verkieslik in samewerking met ’n georganiseerde gemeenskapsorganisasie.

’n Voorbeeld van die derde soort uitlating is die hipotetiese aankondiging deur watter-politikus-ook al dat ál 8,7 miljoen wanbetalers van televisielisensies môre gearresteer gaan word. Jou gepaste reaksie is om nie te reageer nie en aan te gaan met dít wat die bestaande werklikheid in stand hou. Die doel van uitlatings van dié aard is waarskynlik om reaksie uit te lok.

Hierdie ontleding is nie bedoel om die onreg wat politici pleeg, af te maak as minder erg as wat jy dink dit is nie, maar eerder om te onderskei tussen die onreg wat wel gepleeg word, die onreg wat dalk gepleeg gaan word (maar verhinder kan word) en die onreg wat jy jouself aandoen deur sommige uitlatings ernstig op te neem.


Current track

Title

Artist