Luister: Wêreld neem standpunt in teen honde- en katvleismark in Suidoos-Asië

Deur on

26 Julie 2021

Waarskuwing: Die berig kan sensitiewe luisteraars en lesers ontstel.

Honde en katte. Waaraan laat dié diere jou dink? Waarskynlik aan jou eie troeteldier: Snuffels, Pote of Grysie.

Sou jy vir Snuffels, Pote of Grysie eet? Waarskynlik nie.

En hoewel dié gedagte jou ontstel is die honde- en katvleismark in Suidoos-Asië vir dié lande so gewoon soos dit vir jou is om ’n beesfillet by jou naaste vleismark te gaan koop.

In Viëtnam, Kambodja en Indonesië word daar elke jaar miljoene katte en meer as 9-miljoen straathonde gevang en troetelhonde word vanuit hulle warm huise gesteel en verdrink, verwurg, gehang, doodgeslaan, doodgeskok of doodgebrand vir die vleismark.

Volgens die internasionale dierewelsynsorganisasie, Four Paws is hierdie bedryf nié net onmenslik nie, maar hou dit ook ernstige gesondheidsrisiko’s vir mense in.

Four Paws het nou ‘n petisie regoor die wêreld van stapel gestuur in ‘n poging om ‘n einde te bring aan die honde- en katvleismark in Suidoos-Asië.

Die direkteur van Four Paws in Suid-Afrika, Fiona Miles sê hulle hoop om 1,4-miljoen Suid-Afrikaners se name op hierdie petisie te kan voeg.

Miles meen honde- en katvleis is gewild in Asië omdat daar in die medisinale eienskappe daarvan geglo word. Mense glo ook dat dit geluk bring. Swart honde en katte word volgens haar veral geteiken.

Luister hier na Esmarie Yssel se verslag oor dié vleismark: KLANKKOERANT NAWEEK- 24 JULIE 2021


Current track

Title

Artist