fbpx

Wanvoorstellings laat land net nog slegter lyk as wat dit werklik is

Deur on Okt 28, 2019

PRETORIA FM: NUUSKOMMENTAAR 28 Oktober

Wat is erger vir ’n land en sy oorsese beeld as slegte misdaadstatistieke, slegte ekonomiese syfers, en nuus oor erge korrupsie in die regering?

Dit is wél nog erger wanneer die werklikheid met kluitjies van goeie nuus en voorstellings vervang word, en dit dan blyk dat daai kluitjies al die tyd perdevye was.

Want nou is geloofwaardigheid ook daarmee heen, en sal beleggers nog meer katvoet wees om in die land te belê.

En tog gebeur dit. Die leuen kom net te maklik.

Hoe moes ’n groep buitelandse besoekers voel toe hulle in hul luukse toerbus tydens ’n reis deur Suid-Afrika beroof is?

En watter boodskap het dit aan potensiële toeriste gebring toe die een besoeker wat so beroof is, gesê het dat toeriste in Suid-Afrika ook net veilig is as hulle agterin ’n gepantserde voertuig toegesluit deur die land gekarwei word.

Die geloofwaardigheid word nog verder geskend as die kluitjiebakker ’n voormalige adjunk-president van die land, en daarna hoogs omstrede speaker van die parlement. Baleka Mbete, was. “Dinge in die land is nie so erg nie,” het sy gesê toe sy in Londen as panneelid voor ‘n groot gehoor aan ’n onderhoud met Al Jazeera deelgeneem het.

Maar dis nie al nie – sy het die gehoor laat snak met mededelings wat die land in ’n nog slegter lig gestel het, soos dat sy buite die ANC-kollektief, geen “ek” het nie. Het sy werklik gedink sy doen iets anders as om die land in ’n ander land in die skande te steek waar ‘n hoë premie op individuele vryheid geplaas word, en trouens as ’n integrale  komponent van demokrasie beskou word.

Haar opmerking dat die Wêreldbank se syfers, wat Suid-Afrika as die mees ongelyke land ter wêreld beskryf, nie te vertrou is nie, was ’n juweeltjie, maar nie so ’n groot juweel soos haar opmerking dat misdaad eers in Suid-Afrika aangeland het na dit die land van Europa af kon bereik nie.

Wat meen sy moet die uitmoor van Koi en San-oerinwoners van die land, en die roof van hul grond deur swart stamme dan genoem word as dit nie misdaad kon wees nie? Toegegee, assimilasie het soms ook vreedsaam plaasgevind, maar genoeg voorbeelde van die gebruik van San-mense as slawe, en hul verdringing  het die politiek-korrekte  herskrywing van die geskiedenis oorleef.

Mbete het volgens berigte oor die onderhoud boonop erg skande gemaak oor haar onkunde oor sekere sake, en toe gevra dat die vrae liefs oor sekere spesifieke aspekte handel, vermoedelik waarvan sy gemeen het sy genoeg kennis dra, soos die Nkandla-skandaal. 

Oor die antwoorde oor die sake is dit minder duidelik of sy onkundig was, of ook kluitjies gebak het.

Met deesdae se kommunikasietegnologie is die wêreld skaars so groot soos ’n neutedop. Die ironie is dat ons byvoorbeeld meer weet wat in die Amerikaanse Wit Huis aangaan as in ons bure se huise. Om te gaan lieg wat in Suid-Afrika aangaan gaan die waarheid eenvoudig nie stuit nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist