Wanneer plase brand

Deur on

Nuuskommentaar: 1 Oktober 2024

Deur: Theo de Jager

Rampe kan familieboerderye wat geslagte lank al gevestig is, in ’n oogwink vernietig. Haelstorms, droogte, vloede, intense koue en brande kan verwoestende gevolge vir vrugte-, graan- of groente-oeste, of vir vee hê, en veroorsaak dat so ’n boerdery ’n knak en ’n gesin hulle woning, grond en lewensbestaan verloor.

Die afgelope winter is gekenmerk deur wydverspreide brande waarin vee omgekom en infrastruktuur soos heinings, store en wonings, maar ook weiding en plantasies tot niet is. Baie van hierdie brande is gestig.

Daar is radikales in Suid-Afrika wat daarop uit is om in winderige toestande plase aan die brand te steek en weg te jaag. Die feit dat hulle daarmee wegkom, spoor hulle verder aan. Onwettige betreders op plase, of dit mense is wat visvang, jagters met honde of heuningversamelaars is, stig ook baie brande. Heuning word in die natuur geoes deur gras of blare aan die brand te steek sodat die rook die bye kan verjaag, en daardie brandende of smeulende materiaal vlam dan op in die wind.

Plase is verder van munisipale brandweerdienste af, indien dit op die naaste plattelandse dorp nog bestaan of funksioneel is. Boere is grotendeels aan hulle eie kapasiteit, brandbestrydingsvaardighede en toerusting uitgelewer. Enige vuur is almal se vuur, en al is boere goed georganiseer om mekaar in brande by te staan, is die taak lewensgevaarlik en dikwels vanweë wind of terrein, onmoontlik.

Brandversekering is oral beskikbaar, maar baie duur. Die algemeenheid van brandstigting maak dat Suid-Afrikaanse boere baie meer op hulle premies moet betaal, en dit vreet maklik ’n boer se wins op.

Gegewe die impak wat die wye verlies aan ervare familieboere op die ekonomie van ’n distrik of ’n streek kan hê, het die meeste lande waarmee Suid-Afrikaanse boere op internasionale markte kompeteer, ’n staatsramphulpskema. Die staat gryp in en help ná so ’n brand of ander natuurramp om boere op hulle plase te hou, al is dit net met vervoer, vervangingskemas, skuldverligting of subsidies. In Suid-Afrika is dit ad hoc en ’n groot bonus as boere staatshulp kry.

Vir etlike jare al vervang private inisiatief die ramphulpverantwoordelikheid van die staat. Daar is ’n tiental nasionale organisasies wat suksesvol kragte en netwerke saamsnoer om ramphulp op plase te kry waaronder Saai, Gift of the Givers, AfriForum, TLU-SA, Save the Sheep, Boere in Nood, Caring Daisies en Agri NW. Die samewerking geskied onder die vaandel van Manna vir die Boere, en het al duisende boere op hulle plase gehou deur skenkings en ander hulpverlening.

Dit is egter duidelik dat die owerhede strenger moet optree om brandstigting hok te slaan. Brandstigters kom dikwels skotvry van hul misdryf af en word op borgtog vrygelaat, sonder om eers ’n formele borgaansoek voor die hof te bring. Saai se parlementêre wysiging, wat voorstel dat brandstigting opgeskaal word na ’n Bylae 5-misdaad, gaan die laasgenoemde voorkom. ’n Bylae 5-misdaad word in ’n ernstiger lig beskou en lei dus daartoe dat oortreders nie sommerso op borgtog vrygelaat mag word nie.

Boere, wat self moet pa staan vir brandbestryding, weet dit wel, maar dit is tyd dat meer mense die omvang van hierdie krisis verstaan en besef dat dit nie net die landbougemeenskappe raak nie, maar ook die breër samelewing.

Die roep om aksie is dus duidelik: deel met Saai jou ervaring van brandstigtingsvoorvalle om al hoe meer gewig aan die parlementêre wysiging te gee: https://saai.org/stop-die-brande/.

Foto: My Dorp Memel


Current track

Title

Artist