fbpx

VSA moet globale waghondrol herbedink

Deur on Okt 22, 2019

Nuuskommentaar: 22 Oktober

‘n Herrie het losgebars toe President Donald Trump van Amerika onlangs aangekondig het dat hy die laaste Amerikaanse soldate uit die noorde van Sirië gaan onttrek. Met hierdie aankondiging het Trump nie net voldoen aan ‘n belofte wat hy tydens die 2016-verkiesingsveldtog aan kiesers gemaak het nie, maar het hy ook die Amerikaanse weermag se rol in belangrike konflikareas volgens sy eie wil in ‘n nuwe rigting gestuur.

Die probleem met Amerika se betrokkenheid in internasionale konfliksituasies sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog, is dat daar nooit regtig ‘n duidelike stel strategiese doelwitte was wat besluitneming hieroor gelei het nie. Die Verenigde State het sedert die einde van die Wêreldoorlog as grootste weermag in die wêreld en as leier binne die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie toenemend ‘n internasionale polisieman rol begin speel. Hierdie rol het egter keer op keer soos in die Koreaanse oorlog, in Vietnam en meer onlangs in Irak en Afganistan teen ‘n duur prys met swak resultate gekom.

Histories was die VSA daarvoor bekend dat hulle nie in ander lande se konflik betrokke wou raak nie. Amerikaanse burgers was meestal gekant teen Amerikaanse militêre intervensionisme in die buiteland. Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog het die VSA besluit om neutraal te bly en nie betrokke te raak nie. Hulle kon dié posisie vir ‘n paar jaar behou en is eers in 1918 in die oorlog ingetrek en ook net met President Woodrow Wilson se voorneme dat die oorlog dié oorlog sou word wat alle toekomstige oorloë sou verhoed. 

Ook met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog was die VSA van voorneme om neutraal te bly, maar is natuurlik deur Japan se aanval op Pearl Harbour in die oorlog ingetrek. Na die oorlog het die Amerikaanse weermag ‘n sterk teenwoordigheid in Europa, Asië en die Midde-Ooste behou. Die Amerikaanse onwilligheid om in ander lande en streke se probleme betrokke te raak was iets van die verlede en die VSA het met trots die rol van internasionale polisieman op hom geneem.

Tog was Amerikaanse burgers oor die afgelope twee eeue meestal teen militêre intervensionisme gekant. Slegs in momente van nasionale krisis soos na die aanval op Pearl Harbour en met die terreuraanval op New York in 2001 was daar grootskaalse nasionale steun vir oorsese militêre betrokkenheid. Donald Trump se standpunt dat dit nie Amerika se werk is om ander wêreldstreke se probleme op te los nie en dat Amerika oor dekades heeltemal te veel geld hierop vermors het, is dus nie so ekstreem of teen die wil van die burgers nie.

Gallup se nuutste peiling hieroor toon dat 55% van Amerikaners voel dat hul land se militêre spandering tans korrek is. Sowat 31% sê dit is te min, die laagste syfer sedert die 1980’s toe Ronald Reagan meer op verdediging begin spandeer het.

Of die Trump-denke oor afnemende betrokkenheid in veral die Midde-Ooste deur ‘n volgende president voortgesit gaan word, sal ons nie weet nie, maar dit is duidelik dat die VSA sy militêre rol in die res van die wêreld sal moet herbedink. Trump het maar net daardie proses begin.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist