15 Oktober 2024
Die VF Plus eis antwoorde oor bewerings dat die Vrystaatse premier, MaQueen Leshoa Mathae, omkoopgeld van ʼn kontrakteur ontvang het.
‘n VF Plus lid in die Vrystaatse wetgewer, Armand Cloete sê die bewerings teen die premier bevestig die party se standpunt dat die “Vrystaat deur ’n konstruksiekartel geplunder word.”
Cloete sê boodskappe, glo tussen die kontrakteur en Mathae – waaroor wyd in die media berig is – is aanvanklik op sosiale media versprei en betrek die kontrakteur, Patrick Phuti.
Volgens Cloete het die VF Plus reeds in die Vrystaatse wetgewer vrae hieroor aan die premier gerig. Hy sê die party sal ook die staatsdienskommissie in die Vrystaat versoek om ’n ondersoek te doen na die tenderprosesse in die provinsie en die rol wat politici speel in die toekenning daarvan.
“Hoewel die bewerings ernstig is en ondersoek moet word, is die VF Plus van mening dat die sosiale mediaboodskappe as bewys dien dat die dieper probleem van tenderkorrupsie in die Vrystaat dringend aandag moet geniet.”
Foto: Free State Insider