fbpx

Voorspel tot ‘n rewolusie?

Deur on Sep 12, 2019

Nuuskommentaar: 12 September

Dit is altyd effens onvanpas om te praat oor die moontlikheid van rewolusie. Maar, tegelykertyd, wanneer dit uiteindelik tyd is om te praat daaroor, is dit nie wys om die gesprek onnodig uit te stel nie.

Die gebeure van die afgelope paar weke – onluste, openbare geweld en stede wat brand – noop ons, ongelukkig, om nou daardie gesprek te hê.

Dit is vir baie duidelik dat Suid-Afrika se bestaande omstandighede alles behalwe volhoubaar is. Uit talle oorde uit is daar iets van ‘n versugting na die een of ander radikale verandering. So is sommige ten gunste van ‘n IMF-lening – en die streng voorwaardes wat daarmee gepaardgaan. Ander, daarenteen, bepleit meer geld druk, ‘n swakker rand en meer toegeeflike monetêre beleid.

Dit is nie onnatuurlik in hierdie omstandighede om te wonder oor die radikale verandering wat, histories, die mees algemene reaksie op politieke onstabiliteit en ekonomiese onsekerheid was nie. Dit is, natuurlik, die rewolusie.

Hoewel partye soos die EFF – natuurlik – hulself hier aan gruwelike wensdenkery hier skuldig maak, is dit nie te sê dat ons té gerus behoort te wees nie. Suid-Afrika is, natuurlik, nie juis ‘n bastion van stabiliteit en sosiale harmonie nie.

Daarenteen is dit nie duidelik dat rewolusie die noodwendige gevolg is van die talle protesoptogte, openbare geweld en onstabiliteit wat ons tans beleef nie.

Hoewel ontsenuend is hierdie onsekerheid eintlik baie tipies. Talle rewolusies, soos dié wat deel uitgemaak het van die sg. Arabiese lente, was nie vooraf voorspel nie.  

Wat, dan, is die algemene oorsake van rewolusies? En kan ons poog om Suid-Afrika se risiko te probeer skat?

Aristoteles, een van die eerste denkers wat ernstige aandag geskenk het na die “rewolusie” as politieke fenomeen, was van mening dat armoede, ongelykheid en ongeregtigheid die omstandighede geskep het waarin rewolusies kon plaasvind.

Hierdie faktore is natuurlik in oorvloed in Suid-Afrika beskikbaar – en, daarmee saam, meer as genoeg politieke retoriek wat daarop teer.

Hoe lyk die situasie dan in Suid-Afrika – as’t ware op toyi-toyi voetsoolvlak?

Openbare geweld en onstabiliteit is, sonder ‘n twyfel, besig om toe te neem. So, byvoorbeeld, is daar in die afgelope paar jaar ‘n stelselmatige toename in die aantal en hoeveelheid eise ingestel by SASRIA, ‘n staats-besitte herversekeraar wat dekking bied skade aangerig tydens protesoptogte en terrorisme.

Hierdie tendens word ook bevestig deur empiriese data – die algemene tendens is dat Suid-Afrikaanse protesoptogte meer gereeld word en langer duur.  Wat veral kommerwekkend is, is dat verskeie ontleders bevind het dat geweldpleging skerp aan die toeneem is in hierdie protesoptogte.

Selfs, dus, al sou ons geen ag slaan op die afgelope paar weke se geweld en protes nie, sou ons steeds rede tot kommer gehad het.

Is Suid-Afrika, dan, op die drempel van ‘n rewolusie?

Alles inaggenome – waarskynlik nie. Maar dit behoort vir ons ‘n rede tot groot kommer te wees dat ons nie die moontlikheid met absolute sekerheid kan uitsluit nie.

Dit was ook Aristoteles wat gesê het dat rewolusies – in die regte atmosfeer – deur beuselagtighede veroorsaak word.

Wat staan ons te doen – te midde van hierdie toenemende onsekerheid? Klein insidente kan die sade word van rewolusies wat verder en verder uitkring – mits dit in vrugbare grond daarvoor val.

Dalk – as hierdie vrugbare grond die probleem is – behoort politici soos Julius Malema en Ace Magashule op te hou nog kompos bygooi?


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist