fbpx

Vlugvoos SAL

Deur on Des 3, 2019

Nuuskommentaar: 3 Desember

Afgelope Sondag reik die kantoor van meneer Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, ‘n verklaring uit waarin hulle die publiek versoek om “met vertroue” vlugkaartjies by die Suid-Afrikaanse Lugdiens te koop. Daarin verbind die departement hom, nogmaals, tot “ingrypende inisiatiewe vir groter markaandeel” en om “seker te maak die SAL bly oop vir besigheid.”

A la wêreld. Presies die teenoorgestelde is nodig. As die staat nie wil of kan ophou reddingsboeie gee nie, moet sakelui en die publiek maar ophou passasiers wees. Want die SAL moet so gou as moontlik gesluit word, of wat ook al so naby as moontlik aan sluiting kan kom.

Dit is hoe markdissipline werk – iets wat die SAL dringend nodig het. Die geval van die SAL is ‘n wonderlike voorbeeld van hoe markdissipline meewerk in die openbare belang. Die SAL is inderwaarheid ‘n lakmoestoets vir wat moet volg by ander staatsondernemings wat ook skuld oploop, soos Eskom.

Anders as met Eskom is daar in die lugvaartbedryf gelukkig vele alternatiewe wat of reeds bestaan of relatief vinnig tot stand kan kom.

Die vakbond Solidariteit se aansoek om die SAL in sakeredding te plaas behoort verwelkom te word as ‘n manier om ‘n noodlanding uit te voer, eerder as ‘n vliegongeluk. Sakeredding sal politieke invloed op die lugredery verminder en is klaarblyklik die beste opsie om lewensvatbare dele van SAL te verkoop en verliesmakende dele te sluit, met so min ontwrigting moontlik vir werknemers. By so-iets is daar natuurlik altyd ontwrigting vir werknemers, maar die teenwoordigheid van ‘n suksesvolle private lugvaartbedryf in Suid-Afrika beteken dat enige bykomende aanbod en vraag vinnig geabsorbeer kan word.

Hoe vinniger SAL tot die nodige hervorming, ontbondeling, afskaling of sluiting gedwing word, hoe beter vir almal. Elke dag wat SAL oop bly vir besigheid is die fiskus nader aan ‘n krisis, die belastingbetaler meer in die knyp, die ekonomie in groter moeilikheid.

Daarom: om SAL verder te ondersteun deur kaartjies te koop is teen die openbare belang. Dit stel dalk die einde van SAA uit, maar dit vergroot drasties die uiteindelik skade aan die ekonomie en fiskus.

As sakelui en die algemene publiek ‘n bydrae kan lewer om hervormings by SAL af te dwing, dan staan almal ‘n beter kans wanneer dit by die volgende en groter uitdagings, soos Eskom, kom. Die vermyding van besigheid met ‘n bepaalde onderneming is nie iets wat ‘n mens graag doen nie, maar onder omstandighede is dit in die openbare belang: dit minimeer skade wat andersins tot ongekende hoogtes sal eskaleer.

Meneer Gordhan is dus op die verkeerde spoor: die publiek behoort nie versoek te word om verdere geld te bestee aan ‘n hopelose saak soos die SAL nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist