Vir Westerse leiers is vrede ʼn vloekwoord in stryd teen Rusland

Deur on

Nuuskommentaar: 16 September 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Wil Westerse lande werklik ʼn einde aan die oorlog tussen Oekraïne en Rusland hê? Verlede week tydens die debat tussen Kamala Harris en Donald Trump in die Amerikaanse verkiesingstryd het Harris dit duidelik gestel dat daar in die huidige Amerikaanse regering se oë slegs een uitkoms kan wees, naamlik ʼn oorwinning vir Oekraïne. Tydens ʼn besoek wat die Amerikaanse en Britse ministers van buitelandse sake verlede week aan Oekraïne gebring het, is hierdie standpunt herbevestig.

Die oorlog wat nou halfpad in sy derde jaar trek, het reeds vernietigende gevolge vir veral Oekraïne ingehou en die rimpeleffek van die oorlog word in van die kragtigste ekonomieë in Wes-Europa gesien. Volgens geloofwaardige skattings beloop die ongevalle weens die oorlog reeds na aan die een miljoen in Oekraïne, terwyl honderde duisende Russiese soldate ook reeds omgekom het of vermink is.

Oekraïne se ekonomie het sedert die uitbreek van die oorlog met 50% gekrimp, terwyl die land se bevolking demografies besig is om in duie te stort, met miljoene jong mense wat die land verlaat het. Van ʼn bevolking wat eens meer as 45 miljoen was, is daar vandag waarskynlik tussen 25 en 30 miljoen mense oor. Met ʼn reeds bestaande baie lae bevolkingsaanwas vóór die oorlog gaan die oorlog en die reusegetal sterftes van jong mans tot ʼn bevolkingsinploffing oor die volgende paar jaar lei.

Terwyl Oekraïne se ekonomie die afgelope twee jaar met 50% gekrimp het, het Rusland se ekonomie verlede jaar met 4% gegroei. Die Wêreldbank het onlangs, sonder veel mediaberigte hieroor, Rusland se ekonomie tot dié van ’n hoë-inkomsteland opgegradeer. Reuse- nuwe gaspyplyne word deur Mongolië na Rusland en deur Iran na die Persiese Golf aangelê om Russiese gas aan die snel groeiende Asiatiese lande soos China, Indië, Vietnam en Indonesië te lewer. Voorspellings dat die oorlog katastrofies vir Rusland se ekonomie sou wees, word ongelukkig tans verkeerd bewys.

Die hele Europa betaal ʼn duur prys vir die oorlog veral weens ʼn skerp styging in energiekoste en die verlies aan handel met Rusland. Veral Duitsland, wat baie afhanklik was van Russiese gas en wat voor die oorlog sterk handelsbande met Rusland gehad het, ervaar tans ekonomiese stagnasie.

Op die slagveld is dit duidelik dat Rusland stadig maar seker besig is om die oorhand in die oorlog te kry. Die Russe wen daagliks veld in die suide en suidooste, en een Oekraïense dorp na die ander val tans in Russiese hande.

Volgens ʼn opname wat deur die Razumkov-sentrum, ʼn Oekraïense dinkskrum, in Junie vanjaar gedoen is, voel 44% van Oekraïners in gebiede agter die frontlinie dat dit tyd is vir vredesonderhandelinge tussen Rusland en Oekraïne. Net 35% is teen onderhandelinge gekant. Daar is ʼn duidelike neiging in die rigting van vrede onder ʼn meerderheid van Oekraïners.

Tydens verlede week se debat tussen Harris en Trump het die reusekontras in die standpunte van dié twee leiers oor die oorlog duidelik na vore gekom. Trump is uitgesproke ten gunste van ʼn onderhandelde skikking waar geen enkele party as oorwinnaar uit die oorlog sal tree nie, maar waar vrede die enigste oorwinnaar sal wees. Dit is toenemend duidelik dat dit in almal se belang is dat so ʼn ooreenkoms bereik moet word. Ongelukkig het vrede vir baie Westerse leiers blykbaar ʼn vloekwoord geword.


Current track

Title

Artist