5 September 2024
Die VF Plus sê hy bly verbind tot die huidige koalisieregering in die Tshwane-metro en sal alles in sy vermoë doen om met die onderskeie koalisievennote saam te werk om die mandaat wat kiesers aan die VF Plus gegee het, na te kom.
Die VF Plus se raadslid en koukusleier, Grandi Theunissen sê baie van die uitdagings wat die koalisie in die gesig staar, kom oor jare en om dit op te los, gaan geduld, spanwerk en stabiliteit vereis.
Hy sê alhoewel die Tshwane-metro se probleme nie oornag opgelos kan word nie, is dit belangrik om te erken dat die koalisie se pogings positiewe resultate begin lewer.
Theunissen sê sedert die koalisie die metro oorgeneem het, het die partye hard gewerk om die metro deur uitdagende tye te stuur tot die voordeel van sy inwoners. Hy sê die VF Plus doen ʼn dringende beroep op sy koalisievennote en spesifiek ActionSA om saam te kom, en om die nodige stabiliteit te bied.
Volgens Theunissen verwag inwoners van die koalisie om sy verskille verantwoordelik te bestuur en op te los terwyl daar verseker word dat noodsaaklike dienste voortgaan te midde van die metro se finansiële beperkings.
ActionSA moet eerlik wees oor die uitdagings wat die metro ervaar, maar ook erkenning gee aan die vordering wat reeds gemaak is onder die huidige koalisieregering en die potensiële skade wat ʼn verandering van regering kan teweegbring.
Die VF Plus bly verbind daarby om die Tshwane-metro se belange voorop te stel en voort te gaan om alles in sy vermoë te doen om die metro op ʼn wenpad te plaas.