Verval die teken van onbekwaamheid en ongeletterdheid

Deur on

Nuuskommentaar: 1 Maart 2024

Deur: Bennie van Zyl

Die land het die afgelope dae deeglik kennis geneem van die verval van die SA Polisiediens se hoofkantoor in Pretoria. Dié gebou moes ontruim word aangesien dit nie meer geskik is vir menslike gebruik nie. As na die foto’s gekyk word, wil mens byna sê dat dit ook nie geskik is om enige dier daar te huisves nie.

Daar is geen water in die gebou nie met die gevolg dat toilette nie gebruik kan word nie. Die minister van polisie, Bheki Cele, se kantoor is skynbaar op die boonste verdieping, heeltemal opgeknap met die modernste denkbare tegnologie daarin. Hoe hy daar kom as die hysbakke nie werk nie, is ‘n ope vraag, tensy hy met dieselfde misbruikte helikopter as waarmee hy ANC-byeenkomste bywoon, op die dak afgelaai word. As hy trappe moet klim na sy kantoor, behoort hy tog verdieping vir verdieping te sien wat daar gebeur, maar hy laat sy personeel in daardie haglike omstandighede werk.

Die ander kant is ook waar: die kantoor is die bevelstruktuur van die polisie. Vuilheid en verval gebeur nie vanself nie – dit word deur mense veroorsaak wat nie meer die ou polisie dissipline van orde en pynlike netheid uitleef nie. As hulle kantoor so lyk, is dit dus nie verbasend dat die polisie landwyd so lyk nie, en verklaar dit waarom ook landelike veiligheid daaronder ly.

Hierdie is ‘n hoëprofiel geval wat aandag trek. Dit is egter nie al wat verval nie. Die polisie se spesiale opleidingsterrein naby Groblersdal, Maleoskop, eens ‘n spog terrein, is al jarelank onbruikbaar omdat die strukture gesloop is.

Nog ‘n plek waar die verval dalk selfs meer is, is die “getransformeerde” landbougrond, wat deur die proses van grondeise nuwe eienaars gekry het onder die grondhervormingsprogram. Meer as ses en negentig persent van die grondhervormingsprogramme is volslae mislukkings. Hoogsproduserende spogplase is murasies, spilpute is in veldbrande verwoes, waterpompe is gestroop en vir skrootyster verkoop, die huise se dakke is verwyder om daarmee ‘n kaja direk langs die eens spoghuis te bou, vrugtebome is afgekap vir brandhout, produserende hoenderplase is letterlik tot en met die laaste hoender opgeët is in plaas daarvan om dit te verkoop en met daardie geld nuwe voorraad aan te koop. Hierdie is net enkele voorbeelde van riller verhale wat op die platteland plaasvind, en dan word daar steeds gepraat dat grondhervorming versnel moet word.

Van vandag af is die minimumlone verhoog, wat die landbousektor ruk. Die wetgewing is eenvoudig: werkers sal die minimumloon betaal word, ongeag opleiding, kwalifikasie of ondervinding of prestasie. Dan is daardie mense dikwels die eisers van grond, en dit verklaar die totale verval. Die vraag kan dan gevra word wat is die vlakke van geletterdheid en opleiding in die polisie as dinge daar so lyk?

En tog is daar hoop. Mnr. Flip Buys van Solidariteit se standpunt is dat as jy die minderheid in Afrika is, moet jy die meerderheid kennis hê, en dit word uitgeleef in instellings soos Sol-Tech, Akademia, Afrikaanse Protestantse Akademie en Aros  waar kwaliteit opleiding gegee word. Dit bied hoop vir die jeug om in Suid-Afrika te kan bly en ‘n goeie loopbaan te vestig.

Gelukkig is ons land se boere steeds positief, ten spyte van die verval wat al hoe nader aan hulle kruip. Met minder personeel wat minder ure werk om die salarisse te kan bekostig, kan ook daar die kritieke punt bereik word dat verval onafwendbaar is, tensy hulle saamwerk binne dié georganiseerde landbou wat werkende strukture tot op grondvlak het. Daar word die oplossings uitgedink en prakties uitgetrap.

Foto: Daily Maverick


Current track

Title

Artist