fbpx

Versterk minder of meer partye demokrasie?

Deur on Mrt 10, 2020

Nuuskommentaar: 10 Maart

Op presies dieselfde dag rapporteer verskillende media dat twee lande in Afrika se verkiesingsowerhede ’n groot aantal politieke partye gaan deregistreer. In die geval van Suid-Afrika rappoteer Maroela Media dat die OVK beplan om 138 politieke partye te deregistreer tensy aan sekere vereistes voldoen word. In die geval van Nigerië berig die Afrika-uitgawe van The Conversation dat 74 partye in die slag kan bly.

Die kleiner aantal in Nigerië wat die gevaar loop om gederegistreer te word as die aantal in Suid-Afrika, al het Nigerië ’n bevolking wat bykans vier keer so groot is as dié van Suid-Afrika, word verklaar deurdat Nigerië net 92 partye het, terwyl Suid-Afrika 450 partye het.

Daarteenoor het die VSA met sowat 330 miljoen inwoners vir feitlik alle praktiese doeleindes net twee politieke partye, hoewel dit by tye lyk of ’n derde, of selfs ’n vierde, moontlik vir ’n deurbraak kan sorg. Die ideaal dat meer denke tot die wetgewende liggame in die VSA moet kan deurdring as net die beleidsrigtings van twee, word minstens ten dele bevredig deur die bestaan van lobby’s of belangegroepe, soos die Christian Coalition of America. Kandidate kan die steun van sulke organisasies verkry, deur te beloof hulle sal hul onafhanklikheid van koukusgebondenheid benut om beleidsrigtings van hierdie belangegroepe te steun.

In Suid-Afrika, waar die parlementêre verteenwoordigers in die reël koukusgebonde is, kan so ’n stelsel, wat hom uiteraard tot korrupsie leen, nie werk nie. In die VSA is streng stappe geneem wat byvoorbeeld die betaalde vakansies na gholflandgoedere in Skotland hokslaan, in werking gestel om die koop van stemme te voorkom.

Tydens verkiesings in Suid-Afrika sedert 1994 het verskeie mense, waaronder ook lede van die SAUK se aktualiteitsprogramme, openlik die VSA se tweepartystelsel bepleit. Dat hulle geen benul gehad het waarvan hulle praat nie, blyk daaruit dat hulle heel onbewus was daarvan dat daar in die VSA ’n groot aantal partye bestaan, maar de facto net twee oorheers. Die aanname dat daar te veel partye in Suid-Afrika is, en te veel werklike klein partye ’n setel of drie in die parlement het, hou meer geldige argumente in.

Sedert Nigerië in 1999 na demokrasie teruggekeer het, het ’n eindelose aantal misbruike posgevat. Geld speel die sleutelrol hierin, soos dat geregistreerde partye deur die staat befonds word. Registrasievorms word daarom ten duurste verkoop want kandidate moet lede van geregistreerde politieke partye wees. Die verkoop van vorms om presidentskandidate te wees, beloop astronomiese bedrae.

In Suid-Afrika sit sommige partye hul kandidatevorms ten duurste van die hand, met werkloses wat bloedgeld bymekaar maak om so aan ’n inkomste te probeer kom – en ’n baie rooskleurige een daarby.

In Nigerië word aansienlike weerstand teen die deregistrasie verwag. In Suid-Afrika het die aantal mense met ’n wrang smaak oor die bloedgeld wat hulle kwyt is, al soveel geword dat dit saak maak, en waarskynlik tot die groot kiesersapatie bygedra. In Nigerië bestaan ook groot apatie. In Suid-Afrika is daar ook partye en kiesers wat verseg om aan verkiesings deel te neem om so te probeer voorkom dat die verkiesings en hele stelsel legitimiteit verkry.

Geen wonder dit word gesê dat demokrasie ’n euwel is nie, maar dis darem die beste euwel wat ons het.    


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist