fbpx

Vernietiging op kampusse kos meer as rand en sent

Deur on Feb 4, 2020

Nuuskommentaar: 4 Februarie

Suid-Afrika moes aan die einde van 2015 en deur die meeste van 2016 gedurig op die nuus aanskou hoe ‘n fenomeen met die naam #FeesMustFall deur ons land se kampusse gebrand het.  Bykans ‘n miljard rand se skade is aangerig, en onderrig in Suid-Afrika het ‘n massiewe knou gekry.

Bykans geen arrestasies is gemaak nie, al is ‘n werknemer aan die Universiteit van Witwatersrand oorlede, al is ‘n gebou ter waarde van R150 miljoen op die NWU se Mafikengkampus tot ‘n ruïne toe verbrand, al is internasionale studente in hulle hordes uit ons land uit.  Oor die sosialistiese denkwyse wat agter hierdie magspel sit, sou daar seker nog baie gesê kon word, maar met ‘n volgende vlaag studenteoptogte wat nou weereens op die horison verskyn, en alreeds op verskeie kampusse in volle swang is, moet daar dalk heel eerstens gefokus word op die impak wat hierdie optogte in die kort- en langtermyn vir Suid-Afrika gaan beteken, en waarom dit ten volle veragtelik is.

Die eerste punt wat bespreek moet word, is vernietiging.  In feitlik alle gevalle gaan ernstige studenteproteste met vernietiging gepaard, in kleiner oproerighede is dit bande of los meublement wat dit moet ontgeld, maar in te veel gevalle word vaste bates van die universiteit aan die brand gesteek, of meubels soos beddens vernietig.  In die verlede was daar moontlik effens meer beweegruimte in terme van die begroting wat die regering vir tersiêre instansies gehad het, maar met staatskuld wat op die grens van buite beheer staan, sal stukkende beddens en afgebrande geboue moontlik vir jare lank so moet bly.  Die gevolg op die kampus se estetika is voor die hand liggend, maar die impak op volgende generasies is meer gewigtig.  Vernietigde geboue beperk die aanbod van kwalifikasies by universiteite, en hou jongmense, dikwels die broers en susters van die huidige opstokers, weg van ‘n toekoms af.

Tweedens moet die gehalte van universiteite se onderrig oorweeg word.  As ‘n student by ‘n werkgewer instap, en daar staan dat hy of sy in 2016 afstudeer het aan onder andere die Universiteit van Kaapstad, TUT, of UP, sal die werkgewer deeglik daarvan bewus wees dat hierdie student bykans ‘n maand minder klas gedraf het as persone in ander jaargroepe.  Derhalwe behoort enige goed ingeligte werkgewer sku te wees om sulke jongmense aan te stel.  Die student het homself in baie gevalle onaanstelbaar gemaak.

Die laaste punt wat oorweeg moet word is erfenis.  In die geval van byvoorbeeld die NWU Mafikengkampus wat vroeër genoem is, word kultuurgoedere vernietig wat met bloed en sweet voor gewerk is.  Op hul eie webblad stel die NWU dat die voormalige Universiteit van Bophuthatswana opgerig is met geld wat die gemeenskap in die 1960’s en 1970’s bymekaar gemaak het, omdat hulle vir hulle mense ‘n universiteit wou bou. 

Dit vat ‘n spesiale tipe boosheid om ‘n gebou wat jou ouma voor gespaar het aan die brand te steek, en dit laat ‘n mens sidder om te besef dat ons leiers van die toekoms die vure begin.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist