UP in gesprek met vakbonde, polisie oor staking

Deur on

19 Februarie 2024

Die bestuur van die Universiteit van Pretoria (UP) is tans in gesprek met die polisie en die leierskap van verskeie vakbonde te midde ‘n staking wat die eerste dag van die akademiese jaar ontwrig het.

‘n Groep stakende werknemers van die universiteit het voertuie vanoggend verhoed om die Hatfield-kampus binne te kom én te verlaat. Die woordvoerder van die universiteit, Rikus Delport sê die veiligheid van die studente en werknemers is die UP se eerste prioriteit.

“Ons respekteer werknemers se reg om te staak, maar dit moet binne die wet plaasvind en nie ander se reg tot werk en onderrig verhoed nie.”

Die staking kom te midde van loondispute. Volgens Delport het die UP ‘n salarisverhoging van 4% aangebied, maar die vakbonde eis 7%. Hy sê die universiteit kan dit nie bekostig om 7% aan te bied nie. Volgens hom het die universiteit tans ‘n bepaalde finansiële uitdaging.

Delport sê die studenteskuld het gestyg tot nagenoeg R650-miljoen, terwyl bykomende kostes vanweë beurtkrag ook die universiteit lamlê.

Hy sê die universiteit se bestuur sal alles in sy vermoë doen om die saak so gou moontlik te probeer oplos.


Current track

Title

Artist