Uiteindelik gaan alles maar oor mag

Deur on

Nuuskommentaar: 13 Mei 2021

Deur: Paul Maritz

In die politieke wetenskappe is daar drie hoofstroomparadigmas wat aangewend word om die toedrag van sake op ‘n gegewe oomblik beter te probeer verstaan.  Die Idealisme, wat sterk aan die Liberalisme gekoppel word, neem die regte van die individu, en die oortuiging dat die mens inherent goed is, wil saamwerk, en ‘n beter toekoms sal nastreef, as lens.  Die Konstruktivisme, ‘n meer moderne paradigma, sou voorhou dat mense se ervarings en omstandighede in ag geneem moet word in ons verstaan van die werklikheid.  Die paradigma wat voor albei hierdie geneem is as lens om politieke omstandighede mee te ontleed, is die Realisme.  Realisme maak drie aannames: Ten eerste, groepsdenke.  Ons is deel van groepe, en hierdie groepe is ons belangegroepe.  Tweedens, Egoïsme – elke speler soek uiteindelik die eie belang.  Derdens, die sentraliteit van mag.  Mag is vir die realis uiteindelik die bepalende faktor.  Dit sou wel nie eens nodig wees om hierdie paradigmas te verstaan om daarvan oortuig te wees nie: Alles gaan uiteindelik maar oor mag.  Mag word eenvoudig verstaan as die vermoë om jou eie wil of die wil van jou organisasie te kan uitvoer, hoe meer mag jy het, hoe groter die uitdagings wat oorbrug kan word in die uitvoering van hierdie wil.

Vandeesweek land ‘n stuk Chinese ruimterommel van meer as twee ton in die Indiese oseaan.  Die Amerikaanse Ruimteagentskap NASA raas kwaai met die Chinese, en wys vingers en raas nog so ‘n bietjie.  ‘n Rukkie later reageer China en vra waar die woede was toe ‘n mensgemaakte objek wat deur die VSA gelanseer is op die aarde neergestort het vroeër vanjaar?  Nie dat een van die twee reuse reg is nie, beide is merkbaar verkeerd, maar waarom word die een se ramp as grof nalatig en die ander se ramp as romanties bestempel?

Eweneens die ANC se huidige tammeletjie, as ‘n mens hul taai situasie so mag vereenvoudig.  Beide President Ramaphosa en sy sogenaamde kameraad Magashule het meer geld as wat hulle in drie leeftye sal kan spandeer, waarom dan nog vasklou, waarom baklei, waarom nie maar net ‘n plasie koop en rustig leef nie?  Dit gaan alles steeds maar net oor mag. 

‘n Derde storie om van melding te maak is die onlangse heropkoms van konflik tussen Palestynse burgers en die Israeliese weermag.  Wie nou reg is en wie verkeerd is, of dalk meer korrek, wie eerste verkeerd was, is werklik nie die punt nie.  Die punt is dat elke party ‘n bepaalde wil het, ‘n wenslike uitkoms waar hulle wil uitkom.  Aanvalle, en veral die mediaberigte wat volg op hierdie aanvalle, is niks meer nie as strewes na mag.

Uiteindelik bepaal die lens waarmee ons die nuus luister, kyk en inneem die manier waarop ons dit gaan verstaan.  Moderne akademiese stromings wil ons dikwels daarvan oortuig dat daar hoërgraadse akademiese instrumente is waarmee ons die realiteit raker en beter kan verstaan.  Miskien is hulle verkeerd.  Miskien gaan alles werklik maar net oor mag.


Current track

Title

Artist