fbpx

Twaalf maande oor voor Amerikaanse presidentsverkiesing

Deur on Nov 4, 2019

Nuuskommentaar: 4 November

Amerikaanse burgers sal oor ‘n jaar van nou af na die stembus gaan om te besluit of Donald Trump ‘n tweede termyn as President van die VSA sal dien. Die Amerikaanse verkiesingsveldtog is reeds in volle swang met die presidentskandidate van die Demokratiese Party wat meeding om hul party se nominasie.

Een van die belangrikste veranderlikes in enige Amerikaanse verkiesing is die toestand van die land se ekonomie. Dit gebeur byna nooit dat ‘n President met ‘n sterk ekonomiese rekord uitgestem word nie. Die afgelope weke is daar gereeld ekonome wat waarsku dat daar krake in die kragdadigheid wat die Amerikaanse ekonomie die afgelope vyf jaar gekenmerk het, is. Tog wys die data meestal die teenoorgestelde. Beter as verwagte indiensname syfers vir Oktober is verlede week aangekondig en die indiensnamesyfers van Augustus en September is ook opwaarts aangepas. Byna 6 miljoen nuwe werksgeleenthede is al geskep sedert Trump president geword het. Indien die huidige ekonomiese sukses voortduur sal Trump moeilik geklop kan word.

Die tweede belangrike veranderlike wat verkiesings beïnvloed is veiligheid. George W. Bush is in 2004 herkies omdat ‘n meerderheid van Amerikaners geglo het dat hy beter toegerus is om die land na die terreuraanvalle van 2001 te beskerm. Die veiligheidsbedreiging in die VSA is tans besonder laag en die land is ook in min oorsese konfliksituasies betrokke. Dit behoort ook ‘n pluspunt vir Trump te wees.

Derdens is die groot vraag oor wie die Demokratiese Party se presidentskandidaat gaan wees. Oor net meer as twee maande van nou af sal kiesers wat as Demokrate geregistreer is aan die voorverkiesings begin deelneem om te bepaal wie hulle party se kandidaat gaan wees. Hoewel daar tans nog sewentien kandidate is wat dit teen mekaar uitspook, is daar inderwaarheid slegs drie kandidate wat werklik ‘n kans staan.

Die enigste drie kandidate wat nog ernstige opgeneem behoort te word, is die voormalige adjunk-president Joe Biden, Senator Elizabeth Warren en Senator Bernie Sanders. Biden is die meer gematigde kandidaat en baie Demokrate sien hom as die veiige opsie. Hy is egter reeds 76 jaar oud en baie vrae word gevra oor sy vermoë om die pas van ‘n presidentsveldtog vol te hou. Bernie Sanders, ‘n selferkende sosialis, is reeds 78 jaar oud en het onlangs ‘n hartaanval gehad. Hy het egter die steun van die mees linkse deel van die party en sal nie maklik uit die veldtog onttrek nie. Die sewentigjarige Elizabeth Warren, is besig om sterk navore te tree as ‘n voorloper, maar sy posisioneer haarself ook redelik ver links en sommige van haar idees, soos die verhoging van persoonlike belasting word deur baie Amerikaners verwerp.

Die grootste vraag wat waarskynlik die uitslag van die verkiesing gaan bepaal, is die optrede van President Trump. Behalwe dat Trump tans deur die Huis van Verteenwoordigers vir beweerde oortredings vervolg word, sorg hy ook weekliks vir die een opskudding na die ander soos wat hy verregaande goed op Twitter kwytraak of wanneer nog een van sy kabinetslede bedank of nog een of ander skandaal ontbloot word. Indien Trump vir die volgende twaalf maande ‘n gedissiplineerde veldtog met beter beheerde boodskappe en kommunikasiekanale kan uitvoer sal hy gepaardgaande met ‘n gesonde ekonomie, min veiligheidsbedreigings en ‘n Demokratiese kandidaat wat net te links vir baie Amerikaners is, herkies kan word.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist