Trump sal wen as sy ondersteuners gaan stem

Deur on

Nuuskommentaar: 4 November 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Amerikaners smag na politieke verandering. Die Biden-regering was ’n groot mislukking en ʼn meerderheid van Amerikaners is moeg vir die ekonomiese krisis waarop hulle land afstuur, onbeheerde onwettige immigrasie en ’n Amerikaanse buitelandse beleid wat nie in diens van gewone hardwerkende Amerikaners staan nie.

Kamala Harris verteenwoordig ’n voortsetting van die globalisties-ingestelde Amerikaanse elite. Harris se rekord is dié van ’n lewenslange regeringsburokraat wat uit voeling met die gemiddelde Amerikaner is. As senator was sy die mees liberale senator in die VSA. Tydens haar mislukte veldtog om die Demokrate se presidentskandidaat in 2020 te word, het sy haarself onbeskaamd as die ware links-progressiewe kandidaat aangebied. Harris se besluit om Tim Walz van Minnesota as haar adjunkkandidaat aan te wys bevestig haar links-radikale politieke posisie.

Donald Trump se bagasie is bekend. Sy optrede op 6 Januarie 2021 was, om die minste te sê, onbehoorlik. Sy talle klein geveggies, sy narsistiese selfwaan, sy onnodige botsing met die gereg en sy onvermoë om tydens sy eerste termyn

’n stabiele span te bou, tel alles teen hom. Dit is egter nie genoeg rede om Trump te diskwalifiseer nie.

In September vanjaar het ’n peiling van CNN vir die eerste keer getoon dat 51% van Amerikaners tevrede is met Trump. Trump se goedkeuringskoers was in 2020 voor die verkiesing 47% en in 2016 slegs 36%. Daar is goeie rede om te glo dat ’n meerderheid van Amerikaners Trump se swakpunte lankal verreken het.

Die vraag wat hulle hulself môre op verkiesingsdag moet afvra is bloot of Trump, of Harris beter antwoorde sal hê op die vraagstukke wat die VSA oor die volgende vier jaar in die gesig gaan staar. Enige eerlike beoordeling van hierdie vraagstuk wys duidelik dat Trump beter gereed is om Amerika se ekonomiese uitdagings, die probleme met onwettige immigrasie en die talle globale krisisse soos die oorlog in Oekraïne, die Midde-Oosterse konflik en die magstryd tussen die VSA en China te hanteer. ’n Groot meerderheid Amerikaners stem saam dat hy die beter kandidaat is om hierdie kwessies te hanteer.

Tog is ’n Trump-oorwinning geen uitgemaakte saak nie. Waarom nie? Kamala Harris geniet die steun van ’n verenigde politieke elite in Amerika. Hierdie politieke elite, wat talle groot maatskappye, meningsvormers, openbare instellings, regeringsburokrate, die hoofstroommedia en akademiese leiers insluit, het die afgelope drie maande saam met die Demokratiese Party gewerk om ’n reuse-verkiesingsmasjien vir Harris daar te stel. Dit is dieselfde politieke elite wat die afgelope paar jaar saamgewerk het om Trump polities uit te skakel.

Dit is duidelik dat die Demokrate en die Harris-veldtog een van die beste stelsels tot nog toe ontwikkel het om ’n sekere groep kiesers by die stembus te kry. Meer links-liberale kiesers, sentrumlinkse voorstedelike hoogsgeskoolde kiesers, veral vroue en minderheidsgroepe word geteiken om in groot getalle na die stembus te gaan. Die Harris-veldtog weet presies wie hulle by die stembus moet kry.

Sowat een derde van Amerikaanse kiesers is gemotiveerde Trump-ondersteuners. Nog byna 20% behoort vir hom te stem, maar dit is ’n groot vraag of hulle sal gaan stem. Dit is tipies jong en middeljarige mans, dikwels uit die werkersklas en laer middelklas en sluit ’n groeiende groep mense uit minderhede, veral Latyns-Amerikaners in, wat ook vir Trump steun. Trump sal uiteindelik wen as hierdie kiesers teen ’n hoë persentasie gaan stem en dit is geen uitgemaakte saak nie. Sou hulle egter nie gaan stem nie, kan Harris, ten spyte daarvan dat ’n meerderheid Amerikaners Trump op die belangrikste kwessies steun, steeds wen. Ons sal waarskynlik Woensdagoggend weet hoe dit uitgedraai het.  


Current track

Title

Artist