Tradisionele gemeenskappe besoek Orania

Deur on

27 Julie 2022

‘n Afvaardiging van tradisionele koninklike families het vroeër vandeesweek Orania besoek, met die doel om te leer by Orania se model van “groeiende selfbeskikking, en diplomatieke bande te bou wat gemeenskappe meer staatsbestand maak.”

Die uitvoerende hoof van die Orania Beweging, Joost Strydom sê Bhelekazi Mabandla, die prinses en diplomatieke verteenwoordiger van die AmaBhele kaJamangile wat naby Maclear woon en stamkoning Gaboilelwe (Gabo) Moroka van die Seleka Barolong van Thaba ’Nchu oos van Bloemfontein het Orania besoek.

“Die doel van die besoek is die bevordering van hierdie twee stamme se eie pogings tot outonomie en selfbeskikking. Hulle versoek was om meer van Orania te leer as voorbeeld van ‘n gemeenskap wat al heelwat suksesse behaal het op die pad na groeiende selfbeskikking.”

Strydom sê ’n deel van die besoek was ook van ’n diplomatieke aard gewees, met ander woorde ʼn amptelike besoek van twee mense uit twee ander gemeenskappe (van twee ander volke) aan Orania as ʼn Afrikaner-gemeenskap.

Hy verduidelik dat Orania sedert sy stigting in 1991, en selfs voor dié datum via AVSTIG, met verskillende gemeenskappe, amptenare en meer geskakel. “Die doel van skakeling is altyd tot ‘n groot mate om erkenning vir Orania en Afrikaners te kry.”

Volgens Strydom, het tradisionele leierskap en Afrikaners in die afgelope vier eeue baie staatsvorme sien kom en gaan. “Die huidige regering sal ook kom en gaan. Daarna bestaan onafhanklike verhoudinge wat volke met mekaar op eie terme gesmee het nog.”

Hy sê beide prinses Bhelekazi Mabandla en Kgosi Gabo het hulle dank uitgespreek en Orania gekomplimenteer vir die vordering met groeiende selfbeskikking wat reeds in die dorp plaasgevind het.


Current track

Title

Artist