Nuuskommentaar: 12 Januarie 2024
Deur: Flip Buys
Te midde van al die slegte nuus in die land is daar minstens tien redes vir hoop in die nuwe jaar. Die eerste is dat die ANC ernstig in die moeilikheid is. Partybase praat reeds oor koalisies of selfs nederlae in die komende verkiesing.
Die tweede rede vir hoop is dat die ANC-regering se beeld in die buiteland al swakker word. Die tyd dat die ANC niks verkeerds in die oë van die wêreld kon doen nie, is vir altyd verby, en dit bied geleenthede vir teenstanders van die regering.
Die derde rede is dat die winde van verandering al sterker in die Weste begin waai, en dit lyk asof daar in meer as een Europese land regerings aan bewind kan kom wat Afrikaners goedgesind – en krities teenoor die ANC – sal wees.
Vierdens is daar ’n groeiende kulturele selfvertroue onder Afrikaners. Die bywoning van Geloftefeeste is sprekend daarvan. Waar daar in 1994 op 16 Desember net sowat 300 mense by die Voortrekkermonument was, is die afgelope Geloftedag deur meer as 30 000 Afrikaners bygewoon. Dan is daar regoor die land by nóg 300 plekke Geloftefeeste gevier.
’n Vyfde rede vir hoop is dat die meeste Afrikaners hulle planloosheid afgeskud het, en daar is orals uitvoerbare planne vir groeiende selfbestuur wat op elke lewensterrein aangepak word. Dit is ’n voortbou op die “boer maak ’n plan”-kultuur wat so kenmerkend van Afrikaners is, aangevul deur ’n “ons sal self”-houding wat van nuwe wilskrag en waagmoed spreek.
Sesdens word hierdie planne gesteun deur ’n groeiende uitvoerende vermoë om dit al vinniger in werking te stel. Daar word al groter projekte suksesvol aangepak, soos die Solidariteit Beweging se Sol-Tech-kampus, -koshuise en planne vir ’n nuwe Akademia-kampus.
Die sewende rede vir hoop is die gesonde persoonlike en gemeenskapsverhoudinge wat tussen verskillende kulture in die land bestaan, ten spyte van die swak politieke verhoudinge. Terwyl die ANC en EFF ’n land van vele kulture probeer omskep in een met twee rasse om sodoende ’n permanente meerderheid vir hulself te verseker, is daar al hoe meer tekens dat die lang tradisie van interkulturele skakeling wat al destyds deur die Voortrekkerleiers begin is, opnuut voortgesit word.
Die agtste rede is dat sakeleiers oor rassegrense heen uiteindelik teen die regering standpunt begin inneem en self praktiese oplossings in werking begin stel, wat strek vanaf kragopwekking tot spoorlyne.
Die negende rede is dat tegnologiese oplossings op ’n al groter skaal beskikbaar is om owerheidsmislukkings te ondervang.
Die tiende rede vir hoop is dat al meer mense begin besef dat daar nuut gedink en gedoen sal moet word, en dat net meer van dieselfde nie meer goed genoeg sal wees nie. Die geskiedenis wys telkemale dat nuwe oplossings eers moontlik word as dit vir almal duidelik word dat ou beleidsrigtings misluk.
Daar is natuurlik nog baie uitdagings wat in 2024 op ons wag, maar daar is genoeg redes vir hoop dat ons die nuwe jaar met geloof, hoop en waagmoed kan aanpak.